NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Martin Labuschagne
is in 1971 gebore uit 'n lang bloedlyn van wit Afrikane wat hulle stamboom kan terugvoer na Memnon, die koning van Ethiopië. Hy verwerf sy BA-graad in Sielkunde en Duits aan die Universiteit van Pretoria (hoewel sy grootste belangstelling nog altyd die filosofie was). Daarna voltooi hy sy LLB-graad en is sedert 1999 in die regsberoep. Tans werk hy as regsadviseur by 'n Johannesburgse versekeringsfirma.
Martin is die outeur van twee tienerboeke, Kodenaam: Centaurus en Op Eie Risiko. Hy het poësie en verskeie kortverhale geskryf wat onder meer in New Contrast, Litera en Die Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer is.
Hy skryf ook soms onder die name jmt labuschagne jr en Lucky Labuschagne.
  Martin Labuschagne

Cicero is dood

Martin Labuschagne


Toe ek die hof binnestap is ek nog steeds gespanne. Dit is op daardie oomblik dat ek vir Frik hoor sê: “Cicero het dit nog gesê.”

Frik is ’n vetterige kêrel met ’n weglêsnor en goue seëlringe aan elke hand. Om sy pols glinster ’n goue kettinkie. Langs hom sit Willem: skraal, blas met ’n Gucci-pak. Hy speel met sy Mercedes Benz-sleutels.

“Kan jy nog iets onthou van regsfilosofie?” vra hy en ek lei af dat hulle oor regsfilosofie gepraat het voordat ek daar aangekom het.

Ek forseer ’n glimlag uit, terwyl ek my lêer en dagboek neersit, en my toga aantrek.

“Nee, wat,” lieg ek.

“Regsfil is ’n klomp draadtrek gewees.” Frik sit agteroor en vou sy hande agter sy kop. “Ek dink ek het een klas bygewoon. En ek het dit op my gat deurgeskuur.”

“Ek het regsfil gehad in my finale jaar, as ’n keusevak,” erken ek tot my eie verbasing.

Willem trek sy gesig. “Hoekom?”

“Ag, ek het ’n vak nodig gehad en dis ’n moer maklike vak om te pass. As jy net bietjie leer.”

Frik lag. “Nee, fok! Ek het die vakke gevat waarmee jy kan geld maak.”

“Jissis! Maak ’n mens nog geld as ’n prokureur? Dis deesdae goedkoper om ’n dossier te koop as om ’n prokureur te kry,” voeg Willem by.

Frik lag, maar ek nie.

“Nee, ek moet uit hierdie game kom,” sê Frik half vir homself. “Ek is gatvol vir hierdie stront. Ek soek ’n lekker cushy werk soos ’n regskonsultant by ’n bank. Geen stres, geen hofbywoning nie. Nine to five werk. En as jy iets nie weet nie, brief jy ’n advokaat.”

’n Man kom die hof binnegestap en almal kyk na hom. Dit is ’n man met ’n donker bokbaardjie en ’n dik, goue armkettinkie om sy regterpols. Hy dra ’n netjiese maroenpak met ’n South Park-das.

“Môre, Chris,” groet ek hom, maar hy ignoreer my.

“Julle sal nie fokken glo wat die klerk van die hof gedoen het nie!” bulder hy.

Voordat iemand nog kan vra wat, begin hy te verduidelik. “Die fokken ape het my file weggemoer!”

Frik is onmiddellik daar om ’n opinie te gee. Ons ken hom so. “Stel ’n eedsverklaring op en dan stel jy net ’n nuwe een saam.”

“Nee, jy verstaan nie. Ek kan eers my fooie kry as ek die fokken vonnis gekry het. Dis my deal met my kliënt gewees. Nou moet ek fokken wie weet hoe lank nog wag.” Chris is rooi om sy kakebeen.

“Wat het jy vandag hierso?” Ek probeer die onderwerp verander, want geld is nie iets waaroor ek nou wil praat nie.

“’n Uitstel. Weer ’n klomp kak.”

“Klink asof jy nie ’n great dag het nie.” Dis Frik wat die opmerking maak en Willem grinnik.

“Ja! En dan moet ek nog met ’n borgkwitansie ook werk!”

“Het jy regshulpinstruksie?” wil ek weet, maar as hy ’n borgkwitansie as betaling hou, het hy verseker nie regshulpinstruksie nie. Ek wou net iets vra om die gesprek aan die lewe te hou.

“Nee, jissis. Ek doen nie meer regshulpopdragte nie. Regshulp betaal eenvoudig nie jou rekenings nie. Dit vat omtrent tien jaar voordat jy iets uit hulle uitkry.”

Willem en Frik beaam dit.

Net voordat dit lyk asof die gesprek opdroog en die stilte terugkom, sê ek: “Het julle gehoor van Van Rooyen?”

“Wie?” wil Chris geïrriteerd weet. Hy trek sy toga aan en kyk op sy horlosie. Chris s’n is al uitgerafel na jare se gebruik.

“Landdros Van Rooyen.”

Niemand weet nog steeds van wie ek praat nie.

“Hy is gevang vir dronkbestuur.”

“Vir dronkbestuur?” Almal is verbaas.

“Ja, maar dis nie die ergste nie. Hy het die dossier probeer koop en nou is daar nog ’n klag van korrupsie ook teen hom.”

Die aanklaer, ’n kort swart man met ’n fyn snorretjie onder sy groot neus, kom die hof binne. In sy arms dra hy ’n hoop dossiere en klagstate, skynbaar reg om te begin met die rol. Almal se gesigte helder op toe hulle hom sien. Almal, behalwe ek.

Chris draai na die aanklaer om sy lêer met hom uit te sorteer. “Morning, Mr Prosecutor. How are you this morning?”

“I’m fine.” Die aanklaer gee nie veel aandag aan hulle nie. Hy pak die dossiere op die tafel uit en begin hulle te rangskik volgens die volgorde waarin hy hulle wil roep. Die tolk en die hofordonans kom gelyk daar aan. Ek loer interessantheidshalwe na my horlosie. Die hof moes nege-uur begin het, dit is nou drie minute oor tien. Ek voel half verlig dat die hof uiteindelik begin. Enigiets om so lank as moontlik van my kantoor af te bly. Enigiets. Ek hoor Frik vir die aanklaer vra: “Are you ready for trial?” Vandag is ek spyt dat die aanklaers of die polisie nie meer op ’n sloerstaking is nie. Dit sou die hof vertraag het en dan kon ek langer van die kantoor af weggebly het, maar uiteindelik weet ek, sal ek dit nie kan vryspring om terug te gaan nie. En ek het darem vir myself uitgemaak dat ek nie sal weghardloop van my noodlot nie. Ten minste wil ek daardie bietjie waardigheid nog hou.

Twee minute later kom die landdros in. My saak word eerste geroep, uitgestel en nadat ek amptelik deur die hof verskoon is, buig ek by die deur en stap na my kantoor. Ek is van die gelukkiges wie se kantoor twee blokke van die hof is. Ek vleg deur die honderde voetgangers op die sypaadjie van Pretoria-middestad. Natuurlik loop ek ook nie besonders vinnig nie, ek wil nie gou daar wees nie. Iets bly maar nog altyd in my hunker om te vlug.

Maar daar is nie plek vir vlug nie. Ook nie vir veg nie. Net vir oorgee.

By die kantoor ingekom, sien ek hulle doodluiters voor en wag. Die een is ’n dikke met ’n snor en ’n verweerde leerbaadjie en die ander ’n ewe dikke, sonder snor met kaalgeskeerde kop. Die gesnorde een lees van die honderde Car magazines wat ek in my wagkamer het. Die ander een loer oor sy skouer. So vaagweg vang ek hulle gesprek, dis oor die nuutste Audi A4’s. Ek het ’n Audi A4.

Die sekretaresse kyk op van haar werk.

“Meneer Viljoen, hierdie twee menere is hier om u te sien.” Sy beduie na die twee dikkes. Ek weet sommer onmiddellik dit is hulle. My toga is oor my linkerarm en ek hou die lêer met my regter vas, sodat ek nie blad kan skud nie.

Ek wil ook nie.

“Môre,” sê ek in my professionele stemtoon. “Kom ons stap na my kantoor.” Ek beduie vir hulle om agter my aan te loop.

My kantoor is nie besonders nie. Teen my muur hang my grade B.C.L. LL.B. verwerf aan die Universiteit van Pretoria, in die een hoek ’n glaskas met ou regsboeke (meer vir die vertoon as iets anders), groot lessenaar, nuutste Pentium-rekenaar. Die enigste ding wat my lessenaar anders maak is die twee kitsch borsbeelde van Cicero en Marcus Aurelius wat my strafregboeke regop hou. My ouers het dit nog vir my gradeplegtigheid vir my gekoop.

Ek hang my toga aan die haak agter my deur en sit my lêer neer. Voordat ek kan sit, steek die snorman sy hand uit. “Ek is inspekteur Da Silva en dit is sersant Basson.” Ons skud blad. “Ons is van Sentraal-polisiestasie.”

“Sit,” sê ek en beduie na die stoele.

“Ons is jammer om u te pla, maar ons ondersoek klagtes van bedrog en diefstal teen u.”

“O,” antwoord ek stomp.

Sersant Basson haal ’n papier uit sy sak en vou dit oop. “Daar is ’n lasbrief uit vir u arrestasie.” Die papier word aan my oorhandig en ek bestudeer dit instinktief vir stempels wat nie reg is nie, datums wat verkeerd is, handtekenings wat ontbreek. Alles is egter in orde. ’n Wettige lasbrief.

Die inspekteur staan op en kom by my staan. Ek staan ook op, want ek weet wat hy nou moet doen. Hy lê sy hand op my skouer.

“Ek arresteer u op aanklagte van bedrog en diefstal. U het —”

“Dis nie nodig dat jy my regte lees nie.”

“Goed.” Dit lyk asof hy simpel voel. “Sal ons gaan?”

“Hoeveel klagtes sê jy nou weer is daar?”

“Vyf-en-dertig.”

“Nie nege-en-dertig nie?”

“Ekskuus?”

“Maak nie saak nie. Ek wil net gou my baadjie aantrek.” My baadjie hang oor my stoel. Toe ek dit oor my skouers gooi, is daar ’n harde slag. Ons kyk almal gelyk in die rigting van die klank. Op die grond lê die borsbeeld van Cicero in twee: sy kop het van sy skouers afgebreek. Basson buk af en tel dit op. Hy lyk baie verleë en ek neem aan dat hy dit moes afgestamp het toe hy opgestaan het.

“Jy het so pas vir Cicero doodgemaak,” sê ek.

“Ek is baie jammer,” sê hy en sit die stukke op die tafel neer. Dit lyk nie asof hy eintlik weet wat om te doen met die gebreekte borsbeeld nie.

Sonder om ’n woord verder te sê stap ek die kantoor uit en hoor die twee agterna kom. Ek sê vir die sekretaresse dat ek nou sal terugwees. Sy knik ongeïnteresseerd en gaan voort met haar tikwerk. Toe ons buite is, kyk ek vir oulaas om na die naambord wat bo my kantoor hang.

Viljoen Prokureurs/Attorneys.

Daarna klim ek saam met die polisiebeamptes in die wit Golf en ry na die polisiestasie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.