NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Henning Janse van Vuuren
Henning Janse van Vuuren woon in die asemrowende Kransberge in die Noordelike Provinsie.
  Henning Janse van Vuuren


Die supermark

Henning Janse van Vuuren

Ons is in die Harthospitaal. Eintlik wou ons rugby kyk, ek, by Johan en Annemarie.

Die matrone het vir Annemarie gesê ons moet gou maak, hy is op sy laaste. Dit is Saterdagmiddag. Drie-uur.

Met ons aankoms koek Johan se familie reeds somber in die voorportaal saam.

Sy ma is eerste by: “Ons het vir julle gewag, ek dink ons moet deurgaan ...” Sy druk die verfrommelde tissue vinnig voor haar opgehewe oë as hulle weer vol trane skiet, “Aag toggie, hulle sê hy is op sy laaste ...”

Johan verberg haar gesig in die holte van sy skouer, vat haar ander hand vertroostend in syne en begin stadig met haar hyser se kant toe stap.

Ek het die Oupa op sy sewentigste verjaarsdag ontmoet, kan nie sê ons het rêrig gebond nie. Hy het deur skrefiesoë gelag en sonder ophou vir almal port geskink. Daar was later ’n gloed tussen die riwwe op sy gesig en hy wou luidkeels weet of ek tevrede is nóú dat Mandela president is. My hare was lank en ek het net geskeer wanneer die jeukery te erg raak. Dit is die rede, het ek gedink, dit is hoekom hy my kies. Hy het later aangedring om my weer met die hand te groet en gedruk so hard hy kon sonder om dit op die vervalle gesig te laat blyk.

Dit voel nou so ver, op ’n sonnige Saterdagmiddag, asof ...

“Kom jy?”

Annemarie stap by my verby. “Ja, stap julle voor,” sê ek gedemp. Die meisie agter die toonbank glimlag simpatiek in my rigting. Ek beantwoord haar pynlike blik, sy het die blouste oë.

Ek kyk weer en sy kyk weg.

Ek loop agter, so vyf meter na die groep, respek vir hartseer of vrees vir die onbekende hou my terug.

Die een nigggie, ek dink haar naam is Jolene, sy het ’n ongelooflike gat aan haar. Die ritmiese swaai van haar heupe is vreemd gerusstellend in hierdie vierkantige kliniese gang met sy klewerige eter reuk.

Grys en blou of blou en grys.

Iemand se besluit was om die gange grys en blou te verf. Help dit die hart dalk onbewustelik ontspan?

Ek wonder.

Johan en sy ma praat nou met die gangsuster, vreemd hoe Annemarie ook ’n afstand hou. Ek sluit op die rand van die groep aan.

“Twee mag op ’n keer in en net vyf minute, hier is ’n wagkamer langsaan.” Die suster beduie met haar linkerhand na die vertrek agter my.

“Net twee van ons mag op ’n slag in,” herhaal sy ma bekommerd. “Petro, sal ek en jy eerste? Die twee dogters?”

Die koppe rondom hulle knik goedkeurend en ek draai solank na die wagkamer.

’n Oomblik lank skommel die gang onder my, dit moet die rum wees. Die Chiefs is waarskynlik nou al besig om die kak uit die Bulls te skrum. Ek gaan sit op die naaste stoel en wag. Daar is ’n koffietafeltjie langs my vol Car Magazines, onder steek ’n Huisgenoot uit. Rum kan ’n bliksem wees.

Johan en Annemarie kom ingestap.

Die familie gesels nou saggies opgewek, vra mekaar uit oor werk, maar hoekom kom kuier julle nie en kyk net hoe groot het die kinders geword.

Johan kom sit langs my, Annemarie anderkant hom.

“Jammer man, ek het nie gedink hy gaan vandag wil groet nie, ons wag al so lank. Hy was besig om sy perskes te snoei toe hy net omkap. Dit is al sy derde hartaanval dié jaar, verpleegster reken hierdie een was net te veel vir die ou man.”

Ek soek na hartseer in sy oë, tekens van die leë gemis, deernis, enigiets?

“Dit is mos nou nie jou skuld nie,” sê ek.

Sy ma en Petro se vyf minute is om: “Hy lyk so rustig, hy slaap.” Sy ma los die woorde in die lug, oor die tafel in die middel, vir dié wat wil luister. Haar trane het opgedroog, net die afgematheid hang soos ’n swart sluier oor haar gesig.

Johan en Annemarie.

Ek kry versigtig vir my koue water.

’n Half-uur gaan verby met almal, behalwe ek, wat by hom was.

“Met dié tipe ding kan mens nooit sê nie,” kom sê ’n ander suster ferm vir Johan se ma, “dit kan enige oomblik wees, maar soms rek dit oor dae uit, hy is ’n bakleier. Miskien moet julle maar liewer gaan, ek sal laat weet, hy is nou baie kalm.”

“Van die mense kom van ver af, suster.”

“Ek weet, daar is ongelukkig niks wat ek daaraan kan doen nie.”

Die suster loop, ek hoor haar verder in die gang af lag.

“Jolene, groet julle nie vir Johan nie?” Petro lyk of sy oor haar ergste is.

“Hello, Johan, Annemarie, hello, Oom.”

Dis die donnerse baard, ek is ’n maand jonger as hy.

“Hello.”

Ons ry.

Johan se ma en Petro wil liewer bly, vir as hy na hulle vra.

Ek bly vir eers stil, toets die lug.

“Moet ons nie sommer gou gaan kruideniersware koop nie, Johan? Die Pick & Pay bly nou tot sewe-uur oop. Ons het niks in die huis nie.”

“Wat van die rugby? Ons kan seker nog die einde sien, ons het in elk geval ’n gas. Ek is seker hy wil nie nou gaan groceries koop nie.”

“Ek is maklik!” sê ek, nie gepla nie.

Sy oë flits in die truspieëltjie.

“Sien.”

“Die fokken plek is ’n malhuis!” swets Johan wanneer ons met ’n plastiekwaentjie by die dubbeldeure instap.

“Aag, hou tog net op kerm.”

Hy kyk my met ’n, dit is alles jou skuld. Ek voel verlig om tussen al die mense te kan instap.

“Dit is maandeinde, kan jy dit blêrrie glo? Ek dink ons kom deur die week wanneer dit stiller is, Annemarie.”

“Johan, ons is nou hier. Hou in vadersnaam net jou broek droog!” Haar oë spoeg vuur.

Die mense maal en stoot, vorentoe, bietjie agtertoe, vat, sit terug, ’n baba huil, op die vloer het ’n bottel mosterd gebreek. Die trollies ry vierspoorpaadies deur die borriegeel sap.

“Die god weet, ek kan nie verstaan hoe los jy jou trollie in die middel van die bliksemse gang en fokkof dan iewers anders heen nie.”

Johan praat hard. Annemarie is voor by die seepgoed. Hy stamp die trollie hardhandig uit die pad.

Ek ken hom nie so nie.

“Is jy ok, ou maat?” Die bleek spikkels teen die effense blos op sy wange bekommer my.

Hy stoot ons trollie vorentoe.

“Wat dink jy? As ’n ou so in die tuin staan en bome snoei, rustig jy weet. Dink jy ’n ou kry soos ’n voorgevoel, soos ’n stem wat met jou praat of dalk sien jy soos ’n lig daar voor iewers of iets, jy weet?”

Hy kry die onsamehangende vraag met moeite uit, sy hand met ’n niksseggende gebaar agterna.

“Party ouens het blykbaar al sulke goed oorgekom. Dink jy jou oupa is op sy laaste?”

“Ja, ek gebruik hom nou maar as ’n voorbeeld. Ek was eintlik nie so mal oor hom nie, hy was nog altyd ’n afknouerige boelie. My ma-hulle het hel gehad onder hom, hy kon vreeslik suip ook, die bliksem, en dan het hy niemand ontsien nie. Hy was ... is ’n regte vark.”

Annemarie gooi vier pakkies tandepaste, met die nuwe baksoda, wat jou witter tande nog witter maak, in die trollie.

“Wat is dit, wat kyk julle my so?” vra sy as ons stilbly en draai weg sonder om vir geen antwoord te wag.

“Dit is amazing, sê ek jou, toe ek nou-nou tussen almal daar op die hartmasjiene moes deurloop, die gevoel wat ek gekry het. Die fyn lyntjie tussen lewe en dood. Die hier en daar wat ons skei.”

Hy lyk rustiger.

Iemand ry van agter in my hak vas.

“Sorry!”

“Nee, dit is niks.”

“Ja, dit is iets, dit is nie maar niks nie! Jy moet kyk waar jy daai ding stoot, hier staan ’n volgroeide man in jou pad, hoe is dit moontlik dat jy hom nie raaksien nie?”

Nie ek of sy verwag die uitbarsting nie.

“I said I am sorry.”

Sy skarrel inderhaas weg.

“Sorry se moer, man,” brom hy agterna.

“Johan jy moet ...”

Die selfoon teen sy heup lui. Annemarie kom aangestap met hande vol vrouegoed. Hy drentel eenkant toe, sy vingers voor deur sy hare.

“Hy is nie lekker nie, hoor, ek dink ons moet hom by die huis kry.”

“Hoekom, wat is fout?”wil sy kortaf by my weet.

“Stress, frustrasie, wie weet? Al wat ek sê is, jy moet klaarmaak.”

“Ek het nog glad nie blikkieskos nie. Byt maar bietjie met hom vas, hy is waarskynlik omgekrap oor sy oupa.”

“Jy is briljant!” gee ek sarkasties te kenne. Sy lag droog en kyk na Johan wat teruggestap kom.

“Wie was dit?” vra sy.

“My ma. Hy is dood.”

“Aag, ek is so jammer.” Sy druk haar teen hom vas en hy glimlag wrang.

“Maak nie aan my saak nie,” sê hy skewekop. “Kom ons maak klaar, ek is lus om te braai.”

Hy maak haar arms los en vat die trollie by my, sy kop stadig heen en weer.

Annemarie lyk onseker, haar arms hang slap langs haar sye en haar oë tranerig. Ek wys vir haar sy moet klaarmaak.

Ons drentel in die lang gang agter haar aan terwyl sy inpak, die stroom laat ons nie vinniger toe nie.

Ons praat nie.

“Ek is klaar,” kondig sy morbied aan die einde van die swiets-gang aan met ’n string chomps wat sy oor die pak hoenderdye gooi.

Ek kon nie geweet het dit gaan so kak uitdraai nie.

“Het jy alles,” wil hy weet.

“Ek dink so.”

Jy kan nie net ’n mooiweersvriend wil wees nie, praat ’n stem binne my. Praat jy met my, wil ek weet. Ja.

Ek kyk na die twee. Ons raak ouer.

“Johan, jy moet sê as ek die trollie bietjie vir jou kan stoot, hy lyk blêrrie swaar.”

Ek dink hy kan my gedagtes lees en glimlag.

Ons beweeg agter die rye verby, angstig om ’n kort ry te ontdek. Nommer 46 tot 40 is net vir mandjies met minder as tien items. In ry 44 staan ’n vrou met ’n trollie.

Sy kyk stip voor haar. Agter haar rol iemand sy oë in stille ongeloof.

“Kan jy dit glo?” roep Johan hard wanneer ons verby 44 beweeg. “Kan jy dit donners glo?”

Die persoon agter haar skud sy kop vir Johan.

Mense kyk.

Sy knip nie ’n oog nie.

“Johan, asseblief, gedra jou. Jy is nes ’n kind!”

“Maar wat is sy anders as ek of jy?” kap hy terug. “Wat laat haar dink sy is so spesiaal, sy is nie, nie een van ons is so spesiaal nie!”

Hy kyk na my vir ondersteuning.

“Ek is spesiaal,” sê ek.

Annemarie dink dit is snaaks.

*********

As ek terugdink aan daardie dag, kan ek wat volgende gebeur het net in stadige aksie onthou.

Nommer 32 het onverwags die closed bordjie voor die kasregister verwyder, ons was die naaste en Johan het die trollie se neus gedraai.

’n Jong man met ’n bokbaardjie het soos ’n pyl uit ’n boog vanuit 33 geskiet en sy neus voor Johan gekry, sy vrou gretig agterna.

“Jissis, Meneer, as jy vandag voor my indruk gaan ek jou dood bliksem!” Die woorde het die lug oopgekloof.

Ek was te laat om te keer, Annemarie het gegil, lekkergoed, skeermeslemmetjies en batterye het van die rak afgetuimel en stil tussen die mense se voete gaan lê.

Ek het nie houe gesien nie, maar Johan het plat met sy rug op die vuilwit vloer gelê, ’n straaltjie bloed het onder sy kop uitgesypel en ’n helder strepie tot in die helfte van die teël getrek.

Hy het boontoe gestaar, sy mond effens oop.

“Johan, is jy ok?”

Ons het saam oor hom gebuk.

Dit het stil om ons geraak, die kring om ons digter, die rye het bly staan. Dit het gelyk of Johan op iets fokus wat ons nie kon sien nie.

“Get out of here! You both, get out of here!” Die rak was reeds regop, die eerste batterye terug.

“Johan, praat met my asseblief.”

Hy het warm vir Annemarie geglimlag. Ek het hom opgehelp, onbewus van al die mense wat na ons staar.

Hulle het mekaar styf vasgehou, ek het agter hulle aangestap, op die ander punt het niemand eers geweet ons is uitgeskop nie.

“That man is bleeding, mommy!”

Ek het by haar gebuk: “It is because his grandpa died,” het ek saggies in haar oor gefluister en vir Mommy geglimlag. Sy het die blouste oë gehad.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.