NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Johann Lodewyk Marais
het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en debuteer met die digbundel Die somer is ’n dag oud (1983), waarvoor hy die Ingrid Jonkerprys kry. Daarna skryf hy nog vier digbundels, waarvan Aves so pas voltooi is. Hy stel ook twee bundels saam: Groen: Gedigte oor die omgewing (1990) en, saam met die Nederlandse digter en letterkundige Ad Zuiderent, Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997). Marais is hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort en is verbonde aan die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) in Pretoria.
  Johann Lodewyk Marais

Herfs

Johann Lodewyk Marais

Die koms van die herfs is nie in al die streke van ons land ewe skouspelagtig nie. En gewoonlik kom hy heeltemal onverwags. Een oggend staan jy op en jy kan aan die lug voel en sien dat die somer verby is. Die versengende hitte is getemper en die landskap om jou begin tekens toon van die nuwe seisoen wat aan die kom is.

Vir my word die herfs met pragtige kleure geassosieer. Die Noordoos-Vrystaat is wyd bekend vir sy populiere wat, om met D.J. Opperman te praat, soos kerse brand. Hierdie populiere, wat in lang lanings en in klein klompies staan, het al deel van daardie landskap geword. Dink net watter weelde van lieflike kleur ons sou moes ontbeer indien diegene wat hulle aangeplant en sorgsaam vertroetel het die populier op grond van sy nie-inheemsheid oor die hoof gesien het!

In die stad is die koms van die herfs nie heeltemal so opmerklik nie. Die opmerksames sien egter hoe die blare aan die meeste bome begin verkleur. Die platane langs die strate word sommer bont van die gekleurde blare en in die stadstuine het die bome reeds hulle spontane groei verloor.

Diegene met boorde en groentetuine weet: met die koms van die herfs is die meeste vrugte reeds gepluk en die laaste boontjiepeule begin droog word aan die rank. Die mielies het al hard geword en jy sal maar tot volgende somer moet wag as jy nog ’n groenmielie wil eet.

En die trekvoëls begin mekaar in groepe opsoek in onrustige afwagting op die reis wat op hande is.

Vir my lyk dit egter asof die nuwe seisoen grotendeels by die mense om my verbygaan. Party slaak net ’n verligting omdat dit nie meer so warm is nie en gaan voort asof daar niks anders aan die gebeur is nie.

Eintlik, dink ek, is ons nie meer regtig in staat om die subtiele wisseling van die seisoene waar te neem en te waardeer nie. Dit het ’n verskynsel geword waarmee ons nie raad weet nie en, bowenal, wat nie meer vir ons van wesenlike belang is nie.

Die meeste van ons het die boer en die digter in ons al amper heeltemal afgesterf.

Ons sien toevallig die veranderings in die natuur om ons raak en dit het vir ons weinig betekenis meer. En dit kan kwalik anders, want so baie van ons leef immers in ’n wêreld wat die veranderings in die weer en die seisoene probeer neutraliseer om die een dag na die ander te laat lyk en voel.

In ons geboue word groot moeite gedoen om ons deur middel van lugreëling “in beheer van ons eie weer” te stel. Ons mag nie ongemaklik leef nie. Deur die stel van ’n skakelaar stel die tegnologie ons in staat om vir onsself ’n kunsmatige wêreld te skep wat die “wisselvallighede” van die dag daarbuite teëwerk.

In ons tuine doen ons ook alles in ons vermoë om ’n landskap te skep wat regdeur die jaar die oog streel met ’n groen grasperk (wat natuurlik daagliks natgegooi moet word) en ’n verskeidenheid goed gekose blomplante wat van seisoen tot seisoen skouspelagtig blom. Vir baie stedelinge is dit ’n voorvereiste dat die boom wat hulle in die tuin aanplant immergroen moet wees. Met ’n boom waarvan die blare verkleur en dan nog afval ook weet ons nie mooi raad nie: ons voel verplig om hierdie vertoon van slordigheid op te ruim deur die blare op te tel, en wat is dit nou anders as “werk”?

Ons kan nie ’n tuin waardeer wat die wisseling van seisoene registreer en ’n deel van die jaar droog en vaal is nie. Ons besef nie meer dat dit in die natuur noodsaaklik is dat daar ’n rusperiode moet wees nie. Meer nog: ons besef nie meer dat ons self nodig het om daardie rus te sien en te ervaar nie.

’n Skrywer in wie se werk die wisseling van seisoene ’n belangrike rol speel, is Karel Schoeman. Sy karakters is gevoelig vir die besonderhede van seisoensveranderings, en groot veranderings in hulle lewens val ook daarmee saam.

Ons sal die mens se vervreemding van die omgewing net kan teëwerk indien ons weer leer om die seisoene raak te sien en te kan leef volgens die reëls wat hulle aan ons voorskryf.

So sal ons ook gelukkiger mense kan word: mense wat hulle sintuie ten volle kan gebruik.

En as die boer en die digter in elkeen van ons weer wakker gemaak kan word, sal ons weer in staat wees om te luister na wat die verweerde aarde van ons vra ter wille van oorlewing: dié van die aarde en dié van al haar bewoners.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.