NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Jan Lambrechts
Jan Lambrechts is ’n eks-Kapenaar wat skryf om te vergeet en te onthou. Hy werk in regstegnologie en put inspirasie uit Rocco de Wet, grensvegter.
  Jan Lambrechts

Die katarsis

Patrys word wakker. Die see is iewers in die agtergrond. Deur die Volla se toegewasemde vensters lê die vae buitelyne van die Twaalf Apostels. Sy mond proe soos kak. Waar …? Goddank ’n sigaret op die sitplek langs hom. Hy klim uit, skrefiesoë teen die oggendson en loop af tot by die rotse bo die strand. ’n Paar vroegoggend surfers wieg op en af in die deinings. Hy buk vooroor en probeer vergeefs om iets uit te kots. Die droë stuwings ruk sy bolyf en hy staan vir ’n lang ruk met sy hande op sy knieë. Die branders spat wit. Hiskiël 3 vers 4: God weet, so kan dit nie aangaan nie.

*

Die pad na Obs is te besig. Taxis jaag teen 120 km/h verby, bakwerk amper op die pad. Almal staar na hom met oopgesperde neusvleuels en brulpadda-oë. Hy draai die volume nog harder. As Riedewaan nie by die huis is nie, gooi hy wragtig al sy toys uit die cot.

Sam maak die deur oop en met die wegstap in die gang af is die g-string onder haar stywe wit broek duidelik sigbaar. Hy was definitief te lank laas hier.
     “Slaap die ou doos nog?” probeer hy ’n gesprek aan die gang sit.
     “Nee, hy’s al vroeg hier uit om die honde by Blouberg te loop.”
     “Weet jy wanneer hy sal terug wees?”
     “Nee, hy’t nie gesê nie. Dalk swing hy na die tyd nog by die Mert verby, so dit kan nog ’n rukkie wees.”
     “Dis olraait, jy’s mos hier om my te entertain.”
     “You wish.”
     Ja, hierdie huis van suf. Buite gaan die lewe verby, maar hier binne is dit die twilight zone. ’n Button of twee en ’n pot seks later is al die wêreld se probleme uitgesorteer. Sam gaan sit voor die TV op ’n bean bag en steek ’n sigaret aan. Die oggend se soapie re-runs is aan. Ridge en Thorn. Rand en Doring. Die gravitas van die lewe vasgevang in ’n uur van pratende koppe.
     Patrys beduie na die skerm. “Steek hy nog daai ander blonde girl?”
     “Nee, dis nou Eric se beurt. Hy’t sy kanse verspeel.”
     Hy rook ’n paar Stuyvesants en perv op Sam se stywe top. Ja, hy’t sy kanse verspeel. So is die lewe, so is die lot, ogies vol traantjies en neusies vol snot. Dis pikdonker hierbinne op ’n somersdag: perfek vir ’n bietjie selfbejammering. Nee o bliksem, hier wil hy nie vandag vassteek nie. Dinge lyk altyd beter in die sonlig. Miskien is Peter by die huis.

*

Hy vind hom agter langs die swembad.
     “Jis, hoe lyk dinge? Kom jy Keg toe? Hair of the dog vir my vanoggend.”
     “Ja, oor ’n rukkie. Ek moet net gou die filter skoonmaak. Gryp ’n stoel.”
     Die uitsig oor die stad van hier bo is ongelooflik. Seinheuwel se lang lyf lê groen teen die agtergrond van die baai. Patrys steek ’n zol aan en suig diep.
     “Hoe gaan dit met die besigheid?”
     “Maar kakkerig. Ek werk met ’n spul idiote en ek is gatvol vir die lang ure. Ek oorweeg dit sterk om oor te skiet Engelang toe vir ’n ruk.”
     “Ja, jy’s een van daai gelukkige boggers met ’n Britse paspoort. Wat soek jy nog hier? Die plek gaan vinnig afdraand en een van die dae skiet hulle jou nog vrek terwyl jy die wages uittel. Vir wat is julle kantore in elk geval in so ’n kak area?”
     “Dis nie so erg nie. As ek heeldag daaraan moes dink was ek ook al lankal ’n suicide case. Gepraat van werk, hoe gaan dit by die lughawe? Is jy nog op skofte?”
     “Ja, en die bliksems laat ons net al hoe langer werk vir dieselfde pay. As die vliegtuig laat inkom is dit eenvoudig ons bad luck. Ten minste kry ek ’n goeie tan en free workout. As ek in die middel van die week wil gesuip raak dan kan ek. Ek dink self daaraan om weer Londen toe te gaan. Daar’s hierdie Ierse ou wat enigiemand in sy security firm werk gee en hy betaal cash elke week. Dan hoef ek ook nie te sukkel met ’n working visa nie.”
     “Klink na ’n goeie deal. Luister, ek’s amper klaar hier. Gryp die sleutels van my bed dan kan ons waai.”

*

Deur ’n dronkwaas kyk hulle na die suits op die sypaadjie. Die lug lê grys teen die berg. Patrys maak sy oë toe en voel die son op sy gesig. Op dae soos vandag voel alles so ver weg. Dis net die oomblik en die buzz en die son.
     “Hey, ek hoor Karen sit nou in Londen. Sy bly glo by hierdie drug dealer in Portobello Rd en verkoop klere by die mark. Fokken tipies. Ek kan haar net picture in haar ethnic get-up en trendy aksent. Sy steek glo al wat Karibies is.”
     Dit neem Patrys ’n paar oomblikke om te besef dat Peter iets gesê het. Hy glimlag.
     “Ten minste steek sy darem. Wanneer laas het jy iets gehad?”
     “Fok jou, china. Ek het hoë standaarde.”
     “Yeah, right. Ek sien hoe staan hulle in ’n lang ry buite jou deur.”
     Bier en kakpraat. Die dag gly stadig verby.

*

Die besluit oorval hom later die aand. Binne ’n week vlieg hy. Dit voel of die berg hom hier dooddruk. Verdien ’n paar ponde en kyk hoe lyk dinge dan. Perspektief. Dis wat hy nodig het.
     “Wat pla jou?” vra Peter oor sy bier.
     Patrys sê vir ’n oomblik niks.
     “Die hele set-up hier maak my mal. Al wat ek doen is werk en suip. Ten minste as ek in Londen is, kan ek ’n paar goeie bands gaan sien. Enigiets behalwe my kak ou woonstel elke aand. Hoekom kom jy nie saam nie? Jy wil tog in elk geval weer teruggaan?”
     Peter skud stadig sy kop.
     “Ek kan nie net môre waai nie. Daar’s ’n hele paar goed wat ek nog by die werk moet uitsort. Anyway, jy sal tog seker vir ’n rukkie in Londen wees. Ek kan jou altyd iewers ontmoet oor ’n maand of wat.”
     Patrys druk sy sigaret dood en antwoord: “Moet net nie te lank wag nie. Jy weet hoe gaan dit met die backpacking. Een dag het jy nog moerse planne en die volgende dag is alles anders. Ek kan nie waarborg dat ek oor ’n maand nog daar sal wees nie. Ons kyk maar wat gebeur. Ek sal jou e-mail as my planne verander.”
     “Wat van jou job?”
     “Fok die job. Ek voel vere vir hulle. Al wat ek elke dag hoor as ons oor iets complain, is hoe baie mense daar is wat maar net te bly sal wees om my job te hê. Ek is in elk geval gatvol daarvoor om ryk toeriste se wyn en houtgiraffes te laai. Fok hulle almal.”
     “My hart pomp custard vir jou, ou pel. Jy kan net sowel ’n kennisgewing op jou rug sit wat sê: kick me, I’m pathetic. Word wakker: ons bly almal hier en sukkel maar aan. Jy’s nie uniek nie.”
     “Ja, Pa. Nee, Pa. Sewe sakke vol, Pa. Jy klink soos my katkisasie-dominee. Al wat ek probeer sê, is dat daar iets meer moet wees as hierdie stront. Ek weet daar is honger kindertjies in Ethiopië, maar ek kan hulle nie help nie en ek moet my eie lewe lei. En op die oomblik is hierdie lewe uiters kak en vervelig. Ek moet eenvoudig net hier wegkom, al doen ek presies wat ek nou doen, net op ’n ander plek.”
     Peter verras sy bier met ’n elegante armgooi en dreineer die laaste dregs. Hy staan op en sê van bo-af: “Ou pel, ek hoop dinge werk vir jou uit, maar ek sal nie my asem ophou nie. Jy gaan daar oorkant aankom en besef dat jy nie jou kop hier agtergelaat het nie. Believe me. Anyway, ek moet nog ’n draai by die werk maak terwyl ek nog die pad kan sien. Cheers, bra. Laat dit goed gaan.”

*

Patrys klim op die tube by Heathrow en die meisie oorkant hom sê vir haar vriendin: “Gaan julle Sondag Church toe? Ek hoor dis ’n rowwe jol met strippers en alles.”
     Fok. ’n Mens vlieg 10 000 km na ’n ander land en die eerste ding wat ’n mens sien is Koekie Ziervogel, vars uit die Bos met hormone in overdrive. Sy planne om die eerste dag of twee by die OVC te bly, is nou omvergegooi. Miskien is daar ’n bed in Prout Grove se hool. Miskien is sy hash in die dak nog nie ontdek nie. Miskien het hy ’n moerse fout begaan en is die eerste vliegtuig terug die oplossing. Wie weet. Hy’s in elk geval te moeg om nou lewensbelangrike besluite te neem en staar dus eerder na die Noordwes-Londense grysheid wat by die venster verbyflits.
     Die stasie by Neasden lyk nog dieselfde. Hy loop die bult uit en draai regs in Prout Grove. Nommer 14 se deur staan oop. Hy klop en loop in. Dit lyk of ’n bom ontplof het. Daar is gate in die muur, die mat is opgeruk, stukke meubels lê orals gesaai. Dave kom by die trappe afgeloop.
     “Hey mate, how’re you doing? Back for some more, are you?”
     “Howzit, Dave. What the fuck happened here?”
     “The owner is selling and told us to be out by Friday. The guys had a party here last night and it got a bit out of hand, as you can see. Andre was really, really pissed and did most of the damage.”
     “When are you going?”
     “I’m just waiting for a friend to come and pick me up. I don’t want to be here when the owner gets here. Do you have a place to stay?”
     “No, I was hoping there would be a bed available here. I was thinking of going to Amsterdam for the weekend anyway, so I might just stay there a while longer and see if I can get a job. How about you?”
     “I’m moving into a mate’s place in Willesden Green. If you need a place to stay, I’m sure we can put you up for a few days if you don’t mind sleeping on the floor.”
     “That’d be great. It’ll only be until Friday, then I’ll be out of here.”
     “It’s good to see you again. You’ve lost weight though.”
     “What can I say? Too much partying.”
     “And you’re going to Amsterdam? That’s the perfect place to lead a healthy lifestyle. Bring me some dope when you get back.”
     “Sure.”
     Nog ’n land, nog ’n drug, nog ’n paar miljoen breinselle. Wie sal in elk geval die verskil agterkom? Hy kyk op sy horlosie.
     “Come on, the pub will be open soon.”

*

Die ferry is vol backpackers. Dover se wit hange raak dowwer oor die horison. Hy dink aan Sam se g-string. Hy dink aan die maande sonder seks in die bos. Hy onthou die beste bier in sy lewe, die warm Lion wat met die chopper gearriveer het na twee maande van stof vreet. Hy onthou vir Scotty, die intelligensie-luitenant wat kop eerste in sy foxhole geduik het toe die fosforbom bo die bome ontplof het. Hy het die warm stuk skrapnel in sy hande gehou en probeer dink hoe dit sou voel as dit sy arm of been afruk.
     Hulle’t met ’n konvooi na Rundu teruggekeer: Patrys bo-op die ratel op die camo-net met sy oorfone aan en Radio 5 se Sondagoggend Top 40 op die radio ingetune. Hy’t in die toring afgeduck net toe Koos sy kop uitsteek in die doringboom se pad. Koos se bakore was vol gaatjies en sy gesig vol bloedskrape. Hulle het ratpacks uitgegooi in die klein dorpies en hulle kakgelag as die gespuis mekaar stukkend bliksem vir ’n cheesy of ’n dog-biscuit.
     Patrys kry koud in die seebries en staan stywebeen op om terug in die kajuit te gaan. Oor ’n uur wag die voorvaders.

*

Hy sit in die Bulldog en bestudeer die spyskaart. Solank dit groen is en hy hoog is, is die wêreld ’n goeie plek. Ure en minute word een. Mense kom en gaan, gesprekke word gevoer en sy kop groei en krimp. Hoe kan ’n man dan nou. Hoe kan ’n man dan nie. Hoekom praat Mafutatjie die seekoei met ’n plaaswerker se aksent? Weg is ons, weg is ons, al langs die telefoonlyn. Ons is op pad, weg uit die stad, dis dié dat ons seker so raaaaaaas. Min Shaw rules.
     Strompel na buite. Dis net gragte en Turkse drugdealers.
     “Hash, Coke, can I help you sir?”
     “Fôkof jou poepol. Jy, jy! Jou Hollandse nai! Waar’s ou Jan nou, hê? Klaar al die slavinne genai en die grond gastiel — djy, djou Niederlandse kolonis. Het jy op jou sterfdag in die donkerte gestaar en jou hart hoor roep: the horror, the horror?”
     In die Van Gogh. Voor die goudgeel landskap. Die swart voëls draai en draai. Uit die verte word ’n spikkel groter. Al nader en nader, tot die hele doek net een groot kop is.
     “Ons teksvers vir vandag is Hiskiël 3 vers 4: God weet, so kan dit nie aangaan nie.”
     Moet uit. Moet lug. Moet water. Where is my mind? Thank you Frank Black.

*

Die gewieg moet die bootherberg wees. Grepe uit die vorige dag waai soos stofbolle op ’n houtvloer deur sy kop. ’n Fiets se klokkie lui iewers buite. Hy het nie die vaagste benul watter dag dit is of hoe laat dit is nie. Sy gesig voel seer en die spieel bevestig die skade: een blou oog en verskeie kneusmerke. Hy kon ’n beter deel van die stad gekies het om met vreemdelinge te begin kaksoek.

Na slaptjips en mayonnaise voel hy beter. Hy wandel deur die stad en dink aan Vlug Kallie en die hoender met die vrot eier. Dag na dag het sy getrou op die ding gesit, terwyl die geel binneste duidelik langs die kante uitgeloop het en teen die kant gekoek was. Vlug Kallie met die gippo-guts: met elke aand se flossie ’n bottel Klippies. Mavinga se voorste linie poepdronk en praatlustig onder die sterre. 32 se groendakkies-kommandeur met die manlike snor en die motiverende boodskap aan die troepe: “Die enigste goeie kaffer is ’n dooie kaffer. Kom ons bid.” Die Lion dancing girls op Rundu in die sinkstort met al die gate: ten minste twee maande se masturbasiemateriaal.

     gryp jou dixie en grawe ’n gat
     die Migs kom oor jy pis jou nat
     die grond is hard jou handjies seer
     ’n seuntjie is jy nooit nie weer

Hoekom nou weer aan al hierdie kak loop en dink? Hy is gatvol vir hierdie selfbejammering. Get over it. ’n Paar jare se nagmerries en een vroegoggend donderstorm se vas in die muur hardloop help hulle skiet op ons waar’s my gat o fok dis die muur ek’s by die huis ha ha baie fokken snaaks. That’s all. Geen groendakkies of mental assessments nie. Geen valskermspronge van die kas af nie. Geen rondswaai aan die ceiling fan nie. Geen Martin Sheen spieëlslaan breakdown nie. Net dit. Net hierdie realiteit. Een voet dan die ander, môre sorg vir homself. Gatvol. Gatvol vir dink. Let’s go home.

*

Die 747 kom laag oor Crossroads in vir die landing. Die pil wat hy twintig minute gelede gesluk het, begin nou goed werk. Hy sit sy wiele neer en voel die growwe landingsbaan onder hom. Sy flaps briek teen die lug en hy bewe van inspanning terwyl sy logge romp sidder in die spoedafplat. Daar is die lughawegebou. Daar is die berg. Daar waar die duiwel wag.
     Hy stap tot by die N2 en kry ’n lift met twee studente op pad terug van Gansbaai. Hulle bied hom ’n bier aan. Hy drink en voel elke druppel se pad tot in sy maag. Die bottel se tekstuur voel ongelooflik onder sy vingers.
     “Hey, you look a bit zonked, broe. Must be some good shit.”
     Dit voel of sy oë stadig in sy kop omdraai. Alles lyk te helder en gedefinieer. De Waalpad se draaie wieg hom stadig heen en weer. In die stad klim hy in Kloofstraat uit en staan buite Café Camissa op die sypaadjie. De verkeer vloei met ’n eentonige gedruis verby. Oorkant die straat weerkaats die skoolmuur die middagson. Die deelteken is weer missing in action. Hoerskool inderdaad.
     Kaapstad. Die sirkel eindig altyd hier. Again and again. Die sypaadjies met sy sweet en kots en onsigbare voetspore van dertig jaar se stap en slinger en hardloop en kruip en hoop en huil en lag en skree. Die naelstring voed lankal nie meer nie, maar afknip is min. Maak ’n pyp met Van Hunks en val met die wolke oor die berg se rand. Tuimel in wit spons, tuimel teen die hange. Die berggans het hom weer laat val.

*

Hy loop met die Laan af stad toe. Die bergies vra hom vir geld. Die katte in die Kompanjiestuin sluip met moordgedagtes tussen die plante rond. Adderleystraat lyk soos ’n vullishoop. Hy wil weer van Bertie de Villiers se stoep vir die oom met die groot swart hoed en die tannie in die pienk rok waai. Hy loop tot by die Goue Akker en staan vir ’n oomblik ingedagte.
     Sy staan aan die ander kant van Adderleystraat. Sy het ’n blou rok aan en dra ’n wit handsak. Sy kyk na die toonvenster van Woolworths. Hy loop deur die verkeer. ’n Motor rem en iemand vloek hardop. Hy staan langs haar. Sy draai haar kop en kyk vraend na hom. Hy val op sy knieë en omhels haar bene. Hy druk sy gesig in haar skoot. Die snikke ruk sy liggaam. Hy voel die klop van sy hart, die bloed in sy are, die son op sy nek.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.