NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Jannie Kotzé
In kort is ek ’n histories agtergeblewe student in die regte (van die variëteit wat ’n “baie goeie basis” van privaatreg 1 het). Ek is skynbaar ’n oud-Matie, maar tans stry ek die goeie stryd aan die Universiteit van Suid-Afrika wat my aangee as ’n voltydse student. Ek het lank gelede probeer om stories te skryf vir die Huisgenoot, maar hulle het nie gehou van my sonderlinge vermenging van Robert Ludlum, Jack Higgins en Konsalik nie. Sedertdien hou ek my besig met navorsing oor die woestynoorlog (Rommel et al) en die Military History Journal belowe nou al twee jaar lank om ’n artikel van my te druk. Hul fondse is glo skraps.
  Jannie Kotzé

Die hoenderboer

Jannie Kotzé

Die groot El Camino kom gly-gly tot stilstand op Kaleb se werf. ’n Klont body putty peul anoniem grond toe. Nadat die stof gaan lê het — dit neem ’n tydjie — vloei ’n maagryke figuur by die voertuig uit. Sy naam is Abel Botha, oud-recce, bulldozer-drywer en uitgebrande skoolopsigter.

Abel was ’n renaissance man, ten spyte van sy bedenklike CV. Sommige andersdenkende ekonome het hom selfs as ’n produk van die Nuwe Ekonomie beskou. Eers probeer vis pak in Alaska, toe gaan padbou in Saoedi-Arabië. Sweer hy’t bulldozers gedryf vir Osama bin Laden. Stinkryk teruggekom. Byna alles verloor op ’n trip Nigerië toe. Toe maar ’n stukkie uitvalgrond by Witklip langs die groot plakkerskamp gekoop en begin om met hoenders te boer. Swartskaap van die familie.

Kaleb Botha, trots van die Botha familie en getroue klant van Daimler-Chrysler Suid-Afrika, beskou die spektakel op sy werf met die kille afgetrokkenheid van ’n roofdier. Half onwillig sit hy die Landbou-tydskrif op die stoeptafeltjie neer. Die groot Simmentaler-veiling met die honderd dragtige koeie sal eers moet wag.

“Jirre, Kaleb!”

Kaleb kry dit reg om ’n dun reptielagtige glimlaggie te produseer. “Abel. Man, dis nou ’n lekker aangename verrassing,” lieg Kaleb. ’n Aandoenlike herontmoeting volg, waarin Abel bitter van sy wedervaringe met die provinsiale verkeerspolisie, Jehovasgetuies en ’n mofhamel vertel.

“Bullbar skoon in sy moer in,” vertel Abel hartseer oor ’n glas yskoue Heineken. Kaleb troos huiwerig en skink nog ’n grote vir sy ongelukkige broer.

“Dis ’n ver ent om te ry net vir ’n bier, Abel ...” begin Kaleb. Histories het Broer Abel net sy opwagting gemaak in tye van fidusiêre nood. In die hopsbesprinkelde dieptes van Abel se onderbewussyn kraak ’n paar stomp ratte skril tot stilstand. Die mofhamel en die bullbar is skoon vergete. Nou ontvou ’n spanningsvolle verhaal van georganiseerde hoenderdiefstal, sabotasie en kleingeweervuur.

“En die wetters daag op met twee lorries, stamp my drade plat en laai twee duisend braaikuikens!”

“Twee duisend?” vra Kaleb agterdogtig. Broer Abel het toentertyd drie goue sterre vir skeppende stelwerk losgeskryf.

“Twee duisend van my beste Rhode Island Reds,” kerm Abel. “My werksmense vertel die bliksems het hulle agterna vir R5 stuk in die plakkerskampe gaan verkoop!”

Kaleb neem ’n berekende teug aan sy bier. “Is dit so?”

“En my cross plies, man! Daai lekker tyres wat jy my gegee het om op die ou 280 te sit!” Abel laat sy kop ellendig hang.

“Die hoenderdiewe het jou cross plies ook gesteel?” vra Kaleb. Abel knik armsalig.

“En die polisie?”

’n Suur trek skiet om Abel se mondhoeke. “’n Polisiehond het kom beenlig ... Maar jy weet hoe dit is. Al die goeie honde is uitgesit oor die Mosambiek-storie.”

Kaleb knik simpatiek. “En versekering?” vra hy versigtig. “Hoe lyk dinge daar?”

Abel glimlag dapper. “Tjek is in die pos ... Kan net die Jirre dank dat Lizette die premies betaal het.”

Kaleb is meteens bewus van ’n pyn-steek diep in sy binneste. Lizette Botha - oud-skoukoningin, later kassiere by die koöperasie, aktrize in ’n kunsprent wat jare gelede by die ou Lonely Cowboy Motel buite Klerksdorp gemaak is ...

Dit neem ’n halwe pakkie Gauloise Blondes voordat die geteisterde hoenderboer uiteindelik sy hart uitstort en roerend om hulp pleit. Wanneer Kaleb hom ’n Grasshopper-boks vol geld in die hand stop is hy skoon tranerig van dankbaarheid.

“Ek sweer, Kaleb, ek sal alles terugbetaal. Elke laaste sent! Ek sal klippe kap, ek sweer!” dreig Abel onderwyl hy sukkel om sy sit te kry in die groot ou Chev. Kaleb glimlag sinteties. Hy bly maar liewer stil oor die stokstywe merino agter op die El Camino. Hopelik sal Lizette die geld goed kan gebruik.

“Nou maar, ou broer, dan kyk ons of ons dit Kersfees kan maak,” sê Abel terwyl hy die groot enjin aanpor om te vat. “Dalk is jy al oom teen daai tyd. Lizette soek ’n kleintjie met ’n seer hart.”

Lank nadat die Chev buite sig verdwyn het, bly Kaleb nog so staan. Dan stap hy stadig na waar sy luukse viertrek Mercedes onder ’n mopanieboom staan.

“Guaranteed one shot, one kill!” Die ou Portugese winkelier hou die geweer na Kaleb uit vir inspeksie.

“For you only the best. Made in Yugoslavia!” Kaleb neem die geweer by die ou strydros, weeg die wapen in sy hande. Die reuk van goedkoop alkohol en vicks hang swaar in die lug. Die ou gladiator is skynbaar ’n kwaito aanhanger.

“Hoeveel?”

Manuel Caldera glimlag ongemaklik. “For you, best price.”

Kaleb tel die honderdrandnote meganies af. Natuurlik was daar meer ortodokse plekke om ’n geweer te kry as ’n sinkpondokkie iewers in die middel van nêrens. Maar die regter het nie doekies omgedraai nie. Drie maande opgeskort vir vyf jaar ... Vat weer aan ’n geweer en ek pos jou. Met sy aankoop onskuldig verpak in ’n ou stukkende oorpak, stap Kaleb by die winkeltjie uit. Manuel roep hom terug.

“Mr Botha! You forgot your bullets!”

Veilig terug op die plaas begin Kaleb hom inleef in die komende strafekspedisie. Die geweer word versigtig uitmekaargehaal en jare se vuil liefderik met ’n konkoksie van pledge en spiritus weggevee. Die loop word vinnig met warm water uitgewas. Hy voel ’n bietjie simpel terwyl hy die haardroër gaan bêre. Die eerste skote met die Joegoslawiese geweer is ’n teleurstelling. Die koeëls zwoei sommer herwaarts en derwaarts — die Mercedes ontkom net-net. Na ’n bietjie ekperimentering met die vreemde swart Chinese patrone uit die omo-boks begin die geweer netjiese groeperings skiet.

Saans, wanneer hy alleen in die groot opstal is, lees hy die briewe wat Lizette vir hom geskryf het toe Abel gaan vis pak het in Alaska. Rou emosionele goed. Sulke tye dwaal sy gedagtes onwillekeurig terug na hul gesteelde naweek in die Suid-Kaap. Hulle het as “Mnr en Mev Kruger” by die hotel ingeteken ...

Na in-diepte navorsing in ’n ou geweertydskrif kom Kaleb tot die gevolgtrekkking dat die geweer soveel beter sal skiet met ’n ringvisier en ’n knaldemper. ’n Paar bloukolle en bloedblase later besluit hy om maar liewer die knaldemper te laat staan. Hy gooi al sy gewig in die buig en boor van ’n diensbare ringvisier. Eers probeer hy sink, toe plaatstaal. Uiteindelik laat kom hy ’n reuse Bosch-draaibank, KBA.

Kaleb is nie ’n sosiale mens nie. Hy het al pogings aangewend om die bose sirkel te breek, maar die insident met die breekyster by die kerkbasaar verlede jaar is nie goed ontvang deur die gemeente nie.

Gewoonlik neurie hy “Crying in the rain” wanneer hy met sy hande werk, maar daar is net soveel bloed wat jy uit daardie klip kan tap. Nee, deesdae is dit Wham se “Wake me up before you go-go!” Lizette was altyd mal oor outjies in speedo’s.

Na weke van arbeid in Kaleb se werkswinkel pronk die Joegoslawiese geweer uiteindelik met ’n stewige ringvisier. Tot Kaleb se onsteltenis skiet die geweer nie juis beter nie. Asof dié terugslag nie genoeg is nie, oorval Kaleb se gewete hom skielik. Hy lees heelnag Bybel. Hy ry dorp toe en koop die plaaslike CNA se geestelike afdeling leeg. Kaleb studeer koorsagtig. Hy oorweeg dit selfs om oor te ry Johannesburg toe en ’n draai te gooi by een van daai predikante met die mooi vroue.

Uiteindelik ruk hy homself reg. Abel moet boet vir al die ellende wat hy Lizette aangedoen het. Maar in Kaleb se monochroom verbeelding, flussies nog bewoon deur vergesigte van dragtige Simmintaler-koeie en ’n voos geskiete Abel, leef daar nou skielik visioene van die Hel, skietlustige polisiemanne en Patrick Mynhardt.

Hy vind Swart Piet in ’n stowwerige garage op ’n kleinhoewe buite die dorp. Swart Piet was volgens gerugte ’n alumnus van Koevoet en 32 Batteljon. Al alles doodgemaak. Sy hande staan vir niks verkeerd nie.

“Hoekom wag jy nie net nie?” vra Swart Piet terwyl hy probeer om sy kloue met katoenwol skoon te kry.

“Jy sê mos die seun bly langs ’n moeviese lokasie? Bloot ’n kwessie van tyd.”

“Ek het nie daardie soort tyd nie,” antwoord Kaleb stomp.

“Nee, maar orraait. Laat ek net vir Mamma gaan vra,” sê Swart Piet olierig en verdwyn deur ’n sifdeur.

Die vloer van die garage is besaai met ghriesbesmeerde koerante. Hier word Mandela vrygelaat en daar stort die Rand in duie. ’n Kort beriggie vang vlugtig Kaleb se oog Hoenderbedryf geknou deur stropers. En ’n bietjie verder aan: Versekeringsbedryf verloor groot met vals eise.

“Is okay,” sê Swart Piet skielik hier langs hom. “Gaaf dat jy ’n gun gebring het. My .22 se slot is moer toe.”

Dit is ’n diep ongelukkige Kaleb wat die middag terugry plaas toe. Visioene van die ewige verdoemenis kompeteer met idilliese tonele van sy en Lizette se wittebrood. Die Seychelles? Nee, ’n bietjie duur deesdae. Eerder die Commores. ’n Paar keer wil hy sy selfoon optel, vir Swart Piet sê om van alles te vergeet, maar hy doen dit nie. Swart Piet het buitendien nie ’n telefoon nie.

Laat die aand lui sy telefoon skril. Hy vat nog ’n teug uit die bottel voor hy antwoord. Dis Swart Piet. Bel glo van ’n tiekieboks af.. Hy vertel in uitputtende detail van sy tog na Abel se hoenderplaas. “Fokken lekker geweer.”

Kaleb sluk pynlik. “So die koeël is ... deur die kerk?”

“Ag nee, sorry, man. No dice. Die target was ’n no-show.”

Kaleb sug verlig. Dank die Here! “Maar ek het my civic duty geperform,” vertel Swart Piet ingenome.

“Hoe so?” wil Kaleb versigtig weet.

“Hoenderstropers! Moerse groot lorrie! Ek het die drywer geskiet dat hy eintlik so rol! Spul bliksems dink mos hulle regeer die land!”

Die volgende dag ry Kaleb na die groot Simmentaler-veiling in die buurdistrik. Onderwyl die Klipkoppie-orkes hul ding doen, probeer Kaleb vrede maak met die gedagte dat daar nou geen wittebrood vir hom en Lizette op die Commores gaan wees nie. Hy sal selfs daaraan gewoond moet raak om “Oom Kaleb” te wees.

Hy hoop Swart Piet gooi die geweer in ’n ou mynskag soos hy beloof het — mens kan nie kanse vat nie. Vir ’n vlietende oomblik speel daar ’n ondeunde glimlag om sy mondhoeke. Hy kan hom net die konsternasie indink wanneer Abel die gevalle hoenderdief op sy werf ontdek. Was hy mal?

By die veiling aangekom vermoed Kaleb dadelik onraad. Niemand is besig om pannekoek te verkoop nie. Al die boere staan saamgedrom onder ’n groot doringboom en ’n verspotte mannetjie in ’n safaripak is besig om vuis te swaai. Sou dit nou wees oor Boere wat die bloedlyn besoedel, wonder Abel terwyl hy sy Mercedes sluit.

“Wat gaan daar aan?” vra hy ’n onbekende kollega met ’n verspotte Stetson op die kop.

“Luister jy nie radio nie?” vra die man beskuldigend. “Hoenderboer en sy swanger vrou. Ek hoor hulle is met ’n Russiese wapen geskiet.”

“Nee, ek het nie gehoor nie,” sê Kaleb onthuts.

“Vrou het glo doodgebloei. Opslagkoeël Sy’t glo tot by die hoofpad gekruip, maar wie stop nou in die nag in daardie geweste?” vertel die Stetson.

“Gevaarlike plek, die Oos-Kaap ...”

Die boer se wenkbroue kreukel. “Oos-Kaap? Dit het net hier anderkant die bult gebeur, by Witklip. Die hele distrik is op hol. Vriend? Jy’s wasbleek ...”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.