NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Jason Lloyd
het aan die Sekondêre Skool Gamblestraat op Uitenhage gematrikuleer, waar hy die hoofseun was. In 1999 het hy die eerste keer die binnekant van ’n nuuskantoor gesien, toe hy by Die Burger (Oos-Kaap) in Port Elizabeth begin vryskut het. Gedurende 2001 was hy ’n vryskutkunsskrywer van Kaap-Rapport in die Oos-Kaap. Hy is tans ’n vryskutjoernalis en ’n senior student in joernalistiek aan die Port Elizabethse Technikon. Hy is ook gasredakteur van die Internetjoernaal, Onse Angeltjie, waarvan die elfde uitgawe aan Saartjie Baartman opgedra is. “Ek hou van skryf, lag, die natuur, lekker kos (soos vleis) en verslind amper elke koerant, boek en tydskrif wat ek in die hande kan kry.”
  Jason Lloyd

Tokkie se einde

Jason Lloyd

Die Saterdagoggend was Tokkie nie meer homself nie. Hy was teruggetrokke, skaam en totaal geïsoleerd. En as jy met hom praat, het hy maar net kopgeskud. So, asof hy op ’n ander planeet geleef het. Hy’t toe houding gehad — so kompleet soos ’n dommie.

Maar ’n dommie was Tokkie glad nie. En dit is reeds waarom sy skielike silence almal so verbaas het. Tokkie was altyd gou-gou kwaad. In sy omgewing was hy bekend as ’n ou wat gou gebaklei het. Die plaasjongens het ’n groot vrees vir hom gehad.

Die cherries het hom gesmaak. Nogtans het hy nooit getrou nie. Want kyk, Tokkie was mos gou vir slaan. En om stoute-boude te wees, was sy favourite. En om priesies te wees — hy het langvingers gehad. Tokkie se pa se pensioentrommeltjie was ’n gereelde target. Wegsteek het nie gehelp nie. ’n Ander slot het ook nie gekeer nie. Hy was mos hoeka die McGyver — the one and only van die Karoo.

En dan was daar sy groot drinkery. Wanneer die naweek aanbreek was umqomboti die inding. Umqomboti is gewoonlik net bedoel vir spesiale geleenthede soos tradisionele Xhosa-feeste. Tokkie het hom egter nie daaraan gesteur nie. En het altyd gesê: “Ons hotnotte het hoeka ook Xhosa-bloed”. As die naweek sy kleur kry was dit umqomboti of heuning-curry.

Daarom kon die suiker nooit hou nie. En reeds daarom het Tokkie se ma die suiker weggesteek. Maar soos die spreekwoord mos sê: Gam se kind is gebore met ’n plan. Om midnight wannneer dier en mens slaap, dan slaan Tokkie gewoonlik toe. En siedaar ... môre is Tokkie weer papdronk.

Werk, wil hy ook nie. Die een maand by boer X ’n jobbie, dan los Tokkie weer. Dan verkrag hy maar weer sy pa se pensioentjie, wat ook al “afgetree” het op die plaas. Kom daar ’n werksgeleentheid na sy kant toe, het hy altyd weggehardloop en op ’n ander plaas gaan uitspan.

“Nee, my tjint is getower,” het auntie Mary, Tokkie se ma, altyd gesê. “Dit is die hoekom hy nie kan ’n job kan kry nie. Van skools af was my se tjint bad luck.”

Auntie Mary vertel verder: “Kykie, doer by die skool was my Tokkie mos ’n bul van ’n hardloper. Hy het mos die dorpstjinnners sy se haakstene gewys. Toe like die towergatte nie mos my se tjint nie meer nie. En toe se tower hulle hom sommer. Toe hy in standerd ses is, toe latie ons hom somme’ die se skool los.”

Maar vir ’n werk het Tokkie bly weghardloop. En altyd het auntie Mary gesê: “My tjint is getower.” Slimmense, oftewel toordokters, is al ingeroep om Tokkie in te sny teen “vuiligheid”. Wanneer die toordokter opdaag. En siedaar ... Tokkie hardloop weer weg. Een so toordokter was oom Bles. Hy was van Addo, so ’n klein dorpie in die Oos-Kaap.

Hy was glo die ou, wanneer dit kom by toordery. Hy was ’n bul wat so ver soos Lesotho gery het, om sy medisyne te gaan haal. Doer in die bosveld het hy sy ding behoorlik onder die mense gedoen. En as jy hoor die mense praat van slimmense, dan het die advies altyd gekom: “Check uncle Blesbobbejaan uit, hy is die kwaaiste.”

Dan was daar ook die liegstories dat oom Bles jou skatryk kon laat word. Daar was geglo dat oom Bles jou slange kan gee wat geld gemis het. Maar ten spyte van die liegstories het mense vasgeglo in oom Bles.

En so ook Tokkie se ouers. Maar oom Bles se getoordery het Tokkie eerder so wild soos ’n springbok laat word. Selfs medisyne van oom Bles wat op ’n slinkse manier deur sy ma vir hom ingejaag was, het nie gehelp nie. Ja, Tokkie het altyd gespat as hy hoor van oom Bles.

Werk, wou hy wragtig ... wragtig nie.

Die Vrydagmiddag voor die Saterdagoggend was Tokkie nog hom ouself. Soos altyd lekke’ in ’n mood vir partie met sy umqomboti byderhand. Met wireless op die skouer het hy op die plaaswerf rondgedrentel. ’n Duidelike teken dat hy jeuk vir ’n kuier of twee. En soos altyd het hy gesukkel om Radio Metro se sein op te vang. Hy het selfs so ver gegaan om die wireless op die tenk neer te sit, sodat dit beter kon sein vang.

En daar maak hy auntie Mary toe kwaad. “Maar my magiestraat ... Tokkie, hoe op aarde kan die jy die wireless op die tenk loep en sit. Ek het die ding net nou die dag met die pay gekoop. Nou state die mors die jy die ding op.”

Tokkie bly eers vir ’n lang ruk stil ... en toe antwoord hy. “ Ma, Radio Algoa speel somme’ shit. En moenie eers van rsg praat nie. Wie wil nou boerestront state luister? Nie ekke nie.”

Auntie Mary begin toe regtig rooi sien. “Jy moet liewerster dorp toe gaan, mannetjie. Moer somme’ na een van die buurplase toe, want die se jy maak my moer suur en kort voor lank dan donner ek vir jou.”

Tokkie ruk hom sommer op. Gryp toe hier en daar ... op soek na ’n pomp vir die bicycle. Die pomp toe gekry en die wiele gepomp, toe maak hy reg vir padvat.

Hy spring toe op die bicycle ... en doer trek Tokkie laat die stof so staan, terwyl sy ma agterna kyk.

Stil-stil die Saterdagoggend het Tokkie die huis binnegesluip. G’n siel het hom gehoor nie. Dit was net kort voor auntie Mary opgestaan het.

Soos gewoonlik het auntie Mary vroeg opgestaan en begin vuurmaak. En toe begin pak die onrustigheid haar nou regtig. Nadat sy ’n paar keer oor die deur geloer het om te kyk vir Tokke, sê sy: “Ou ... die jy moet opstaan en virrie polieste loep en bel,” het sy vir haar man Ben gesê.

“Hoekom?” wil oom Ben weet.

“Daai blerrie klong sit seker weer in die tronk, want hy het nog nie huis toe gekom nie.”

Oom Ben is toe vinnig uit die kooigoed. “Ek gaan sommer nou die sersant gaan bel om te hoor hy weer sit of nie. Jirre, ek is nou moeg vir sy probleme. Vrou, hoor nou wat ek vandag vir jou sê. Sodra Tokkie se gat uit daai tronk is, dan moet hy virrie hom gaan werk soek. Ja-nee, ekke is raad op,” brom oom Ben.

En dit is toe dat auntie Mary in die kamer inloer, waar Tokkie rustig slaap. Hy lê stil soos ’n lyk. Die hoed so halfpad oor sy gesig. Net ’n kombers oor sy bolyf met sy klere en skoene nog aan sy liggaam. Sy hande gevou soos ’n persoon wat reeds die aarde vaarwel geroep het.

In die klein bedompige kamer hang daar ’n mengsel van ’n aaklige reuk. Dit is ’n voete- en ’n drankreuk. Op die vloer lê daar ’n paar vlieë dood. Dit moet net die vrot reuk se doen en late is.

In die deur staan auntie Mary met haar hand op haar mond en neus. Oor haar skouer loer oom Ben, ook met sy hand op sy mond en neus.

Auntie Mary gaan toe die bedompige kamer binne. Skud vir Tokkie wakker, sonder enige results. Sy skud toe weer, weer sonder enige sukses. En toe staan sy maar net en kyk.

En toe skielik hoor hulle ’n stem wat mompel: “Wat gaan aan?” Maar hy praat met die hoed op sy gesig. G’n mens kon sy gesig sien nie.

“Jy moet opstaan en houtkap. Weer lekke’ rondgeneuk gisteraand, nè,” laat oom Ben van hom hoor, terwyl hy sy pyp aansteek.

Anders as gewoonlik praat Tokkie nie ’n woord nie. Hy doen net wat van hom verwag word. Hy haal ook nie die hoed van sy kop af nie. So, asof hy ’n vreemdeling is dwaal hy eenkant rond. Hy praat ook nie. Staar net na die berge.

En toe raak hy onrustig. Hy spring toe op sy bicycle ... en doer vat hy pad. G’n siel weet waarheen hy op pad was nie.

Die Sondagoggend terwyl oom Ben en Auntie Mary nog slaap, hoor hulle toe die gedreun van ’n bakkie. Dit was die eienaar Piet van die buurplaas.

“Môre, Ben,” sê Piet. “Ek het gisteraand iemand hier onder op die draai omgery. Hy is toe op slag dood. Ek weet nie so mooi nie, maar hy lyk baie na daai luigat seun van jou.”

Auntie Mary wat vanuit die huis met gespitse ore na die gesprek luister, begin sommer te huil. Oom Ben staan en kyk net die boer sonder om ’n woord te sê. Die boer draai om en stap na sy bakkie. En doer ry hy.

Oom Ben weet toe dat dit net Tokkie kan wees. Auntie Mary huil toe sonder ophou. Oom Ben probeer haar troos. “Miskien is dit nie ons kind nie. Dit kan miskien iemand anders wees,” sê oom Ben.

“Ek weet dit is hy,” sê auntie Mary.

“Hoe so?” vra oom Ben.

“Ek het gisteraand die baie ligte gesien doer onder op die draai. Dit was polieste en ambulanste. Daar was baie wit mense. Ek het ook gesien hoe hulle iemand in die poliestewa ingooi. Dit moet seker onse Tokkie gewees het.”

Toe oom Ben van die dorp terugkeer waar hy Tokkie se lyk uitgeken het, het daar alreeds ’n groot groep mense by Tokkie se ouerhuis saamgetrek. Mense in die omgewing was dit eens dat Tokkie se heengaan ’n groot leemte gelaat het.

Tokkie se stoutgat lewe was vergete en mense het op die goeie gekonsentreer. Sy grappe het almal altyd met ’n warmte gevul.

Mense wou toe weet wat van Piet gaan word. Gaan hy tronk toe, of wat? Almal was dit eens: “Wit mense gaan mos nie tronk toe nie.”

Die volgende Saterdag met die begrafnis van Tokkie het daar oor die vyfhonderd mense opgedaag. Piet, sy vrou en kinders het salig daar verbygery asof hulle nie weet wie word begrawe nie.

Na die begrafnis het auntie Mary toe besef hoekom haar seun so vreemd opgetree het. Dit was toe al die tyd ’n voorbode.

Port Elizabeth 2002

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.