NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Ivor Price is ’n tweedejaarstudent in die Taalpraktyk aan die Kaapse Technikon. As vryskutjoernalis vir onder andere Die Burger: JongBurger, en ook digter en skrywer wil hy ’n verskil maak én straks ’n ander uitkyk op die lewe van die jongeling bied. Hy het in 1998 op sewentienjarige ouderdom ’n internasionale kompetisie in die skryfkuns (geloods deur ’n sendingorganisasie) gewen en hiermee die eerste persoon in Afrika geword wat dié eer te beurt val.
  Ivor Price
Nog kort-kortverhale deur Ivor Price:

Yuppie-flu tref selfs yster-lektore

Vandag is nie veel anders as gister nie. Brandon Solomons is weer laat vir klas omdat hy soos ’n tipiese man van die jare neëntig moes sorg dat hy perfek lyk én voel voor hy oudergewoond die traliehek agter hom sluit.

Hoe dan anders? Hy moes net weer seker maak dat die ontwerpershemp deur DKNY (’n paar nommers te klein, natuurlik) nie skade doen aan sy gemasseerde en goed geboude liggaam deur Health and Racquet nie.

Boonop kon hy weer vanoggend nie besluit tussen sy swart of indigo Levi-jean nie. Dalk omdat al twee van hulle ewe goed by sy nuwe Caterpillars pas.

Toe sy boeke en onvolledige notas in sy Fishinger-sak geprop is, het hy vir die laaste check-up voor die kamerspieël gaan staan, sy hare vir die laaste maal sorgsaam agteroor gejel en sy hemp reg getrek.

Dis toe dat sy ma, Josephine, die onaardste gille begin gee het. “Jirre tog. Djy’s nes ’n blêrrie myt. God wiet ek sal nooit rus nie! Die trein sal djou nog eendag vrek stamp oorlat djy soe op die laaste minute uittie huis uit hatloep.”

Die portret in die gang het effens na dié vibrasies skuins gaan lê, en sy suster se swart optelhond het sy pote oor sy een en ’n halwe oor gedruk.

“Ma moet vir ’n change ophou om so te vloek,” skerm hy. “Dit help niks as Ma Sondae soos ’n watse hoofouderling, met ’n groot hoed, voor in die kerk sit nie. As die Here môre kom, is daar groot probleme!”

Vir ’n verandering is sy ma nogal reg, moet Brandon agterna vir homself erken. Sy horlosie deur Fossil sê twintig oor sewe. Hy moet dus binne die volgende nege minute maak dat hy by die stasie kom.

“Ek loep nou,” skree hy in die rigting van die hoofslaapkamer. Sy pa is besig om buite die tuin nat te maak, “voor die son weer al die dahlias vrek brand.” Toe hy die gezoem-zoem hoor besef hy dat sy ma en haar airbrush seker weer met haar hare doenig is.

Met sy Nokia 6110, soos ’n regte yuppie, begin hy stasie toe hol. Hoop net nie hy sweet te veel nie. Hugo Boss se Elements ruk nogal ’n mens se sak. Parfuum is duur ...

Hy voel goed. Of soos die Voorsitter van hul Studenteraad met sy nuwe BMW Z3 sou sê, op ’n gemaak Engelse aksent (hy’s eintlik ’n boerseun): “In your face, darling. I look great!”

Toe Brandon by die stasie land, ontdek hy dat die trein, wat nog altyd tot sy ontsteltenis op die laaste sekonde betyds was, twintig minute laat gaan wees. Dis al wat hy nou nodig het.

Dit is behoorlik ’n Babelse-verwarring op die perron. Aan die een kant is ’n groep anties besig om die duur sigaretpryse te bespreek, seker na aanleiding van Minister Manuel se begroting gister. “Een van die blêrrie dae sal dit sieker cheaper wees om iets illegal te roek.”

Aan die ander kant is ’n groep luidrugtige Pentech-studente hartlik aan’t gesels oor ’n sekere lektor se seksuele voorkeure. “ I’m telling you. Hy’s ’n blêrrie moffie, ek sê.”

Hy kon nie lekker uitmaak wat die gesellige versameling sisi’s se modus operandi was nie. Lyk hom nie Xhosa 201 help juis veel nie. Hy sal die Rektor moet gaan sien, dink hy.

07:49. Die trein trek uiteindelik op Eikenfonteinstasie in. Hy moet by ’n reeds oorvol derdeklaskompartement in beur. “Ag nooit man,” dink hy. “Teen die tyd dat ek hier uit klim ruik ek in elk geval net so suur.” Die sweetreuke oorweldig hom; ek voel ek kan kots. Hy glimlag as hy dink aan sy ma wat altyd kla oor die “uiwe ruike” soggens in die trein.

Ten minste het hy die rit oorleef. 08:48. Op Kaapstasie gekom moes hy moervinnig begin loop. Nou’s hy behoorlik laat en boonop het hy reeds gister sy laaste waarskuwing weg.

Op die parade, op pad klas toe, waar die inheemse rondswerwers gaan om te sterf loop hy hom vas in twee mans. Die een se arm is af; die ander lyk ’n bietjie vertraag. Die geraas van konstruksiewerk aan die gebou oorkant verdoof hom, en hy verbeel hom dat die straatprediker sê: “Almal wat ’n doos is, kom drink.”

Klink nogal snaaks. Brandon begin onbeheers lag, al waggelende, toe hy besef dat die prediker eintlik besig is om almal wat dors is aan te hits, deur charismaties die Bybel in sy hand rond te begin swaai. Of hy dink dis ’n Bybel. Dit kon net sowel ’n ou Enna Murray-omnibus wees, waarvan die blaaie een vir een uitval.

Die maniak is blykbaar nie vreeslik geïmponeer met die glimlag op sy gevreet nie. “Don’t make jokes with God! Moenie ’n grap van God maak nie! I’m telling you, God is not a man to make jokes with!”

Toe hy, nogal skaam, vinniger sy pas versnel, gly hy amper op die gemors van die Kaapse voëls. 08:56. Terwyl hy God-weet-waarom roekeloos deur die karre begin vleg, wonder hy hoekom hulle altyd op die standbeeld van Edward VII die woord versprei.

Op skool het die meneer altyd gesê dat Eddie bekend was vir sy wellustige geskiedenis met vroue en drank. Dis miskien waarom dié uitgeteerde maniak Gods woord versprei op die trappe. Hy’s as aan soos plaasbotter oor die dronk vrou wat ’n paar trappies onder hom bedwelmd haar kind borsvoed, en die ongelooflike vet man wat lusteloos ’n gebraaide hoender verorber terwyl die olie hom afdrup.

09:04. Hoe gaan hy verduidelik dat hy weens die mode laat is? Hy trek die deure van die klaskamer oop. Voorbereid op ’n helse gemors wat heel waarskynlik tot sy skorsing gaan lei.

As hy net vroeër geweet het dat ook die ysterlektor deur yuppie-flu platgetrek kan word. ’n Paar ekstra minute voor die spieël sou nie skade gedoen het nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.