NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Trisa Hugo
is gebore en het grootgeword en gematrikuleer in Brits. Sy is baie jonk getroud, het twee dogtertjies gekry in die middel 70’s en toe op die moeilike manier haar honneurs in Sielkunde behaal, deur Unisa. Sy het lank navorsing gedoen by die RGN, maar is deesdae afgetree op Kleinmond, so besig om uit te vind wat mense al die jare met vrye tyd gedoen het, dat sy minder tyd kry vir skryf as waarvoor sy gehoop het!
  Trisa Hugo

Perlesoentjies by die see

Trisa Hugo

Brendon voel aan die band wat sy body-bag om sy lyf vashou. Maak seker dat die toutjie met die lifter nie van sy arm kan afglip nie. Jessie se woorde bly maal in sy kop. Hy het nooit gedink ’n ring maak soveel saak vir haar nie, in elk geval nie ’n bloemen diamantring nie.

’n Skielike brandertjie wat teen die rots opslaan bring hom terug na dit wat hy moet doen. Soos altyd doen hy eers sy ritueel wat hom laat ontspan, om die naar gevoel van sy maag af te kry. Hande bymekaar, oë toe, kop op, asem in. Hou. Dan stadig uit.

As Sean net verdomp gou wou maak dat hulle dit agter die rug kan kry. Sean trek ook net aan en spring in, hy kan nooit verstaan dat hy wat Brendon is hom eers moet instel en voorberei nie. Hy weet nie hoe lank hy nog sal kan volhou hiermee nie. As Sean dalk ook ’n ma en pa of ’n meisie gehad het, sou hy dalk anders gevoel het. Dis net Sean en sy ouer broer, maar dis juis hý wat hulle by hierdie besigheid betrek het.

Sean beweeg so saggies nader dat Brendon hom eers hoor toe hy by hom praat. “Is jy reg, my ou? Ons moet uit wees voor die water weer opstoot.” Die groot menere is taamlik vlak hier rondom Spykerklip, maar dis nie enige ou wat dit hier inwaag nie.

Brendon besef ook hy sal moet konsentreer, daar is nie tyd om gedisoriënteerd te raak onder die water nie. As hy daardie dowwe wit skulp sien, moet hy hom met een beweging lossteek en in die body-bag kry. As hy eers moet opgaan vir asem is dit so maklik om net daardie paar grade te draai en ongemerk met die deining ’n klein entjie te beweeg en weg is hy. Dit het hom lank gevat om te besef dat dit eintlik hý is wat wegbeweeg en nie sy teiken nie.

Brendon en Sean is gelukkig, die water is helder en taamlik gou kry elkeen ’n paar knewels uit. Toe die body-bags te swaar word en hulle ongemaklik begin word onder die water, is albei verbaas om te sien hoe vinnig die weer verander het in die rukkie wat hulle geduik het. Daar is ’n skielike byt in die lug toe hulle hul duikpakke sommer net daar langs die motor afstroop en aantrek. Brendon is nie seker of die hoendervleis van koue, of van wat ook al is nie.

Hulle kon die body-bags ook vandag vinnig in die motor kry, met die skielike kouetjie was daar nie baie mense wat op die rotse rondgeklouter het nie. Vandat Freddie deur Neptune opgetel is en hulle hul eie running moet doen is dit dubbeld so erg. Om ’n nuwe ou in te kry wat hulle kan vertrou is nog erger as om alleen te werk.

Dis eers toe hulle die sakke leeggemaak het in die trok en terugry huis toe dat die knop op Brendon se maag skiet gee. Hy beny Sean so half wat kan sit en twak praat en rook asof hulle maar net gaan brood koop. Aan die ander kant wonder hy weer of Sean dan geen gewete het nie. Wat as hulle voorgekeer word met die goed?

Later die aand kan Brendon net nie ontspan nie, hy bly kriewelrig, vroetel hier, vat daar.

“Jess? Wat maak jy? Hoekom kom sit jy nie by my nie?” roep hy haar nader.

Sy kom sit styf teen hom en vra: “Wat byt weer vanaand? Nog steeds die werk wat jy nie gekry het nie?”

Brendon is moedeloos. Hoe verduidelik hy tog aan Jessie dat hy net so graag soos sy ’n doodgewone lewe wil lei? Maar hoe kan hy ’n lewe maak en dan nog vir haar ook sorg op die salaris wat die elektriese plek hom wou aanbied? Wat nog te sê ’n ring koop? Self verdien sy so min by die kleuterskool dat hulle net die klein woonstelletjie se huur daarmee kan betaal, verder niks nie.

In die stad het hulle wel meer verdien, maar daar was huurgeld en vervoerkoste so hoog dat dit ook alles net so ingesluk het. Terug stad toe wil hy ook nie weer nie, al die pushers daar ken hulle, en dis so maklik om weer daar betrokke te raak. Noudat hulle al twee skoon is sien hy eers hoe amper hulle hul lewens verwoes het.

Dit voel vir Brendon of hy al in sirkels dink. Of geld die sentrale tema is van hulle hele lewe, alles bly terugkom na geld, of dan eintlik, die gebrek daaraan. Dis ook nie asof hy materialisties is nie, dit voel net vir hom soos ’n oorlewingstryd elke dag.

“Hey, jy roep my en dan sit jy en sulk ...” onderbreek Jessie sy gedagtes. “Wil jy koffie of iets hê?” Brendon is dankbaar vir die afleiding wat koffie bring.

Hy spring ook sommer op en sê: “Sit jy, ek maak vir ons.”

Hulle drink hulle koffie in stilte. Die gesprek wil maar net nie vlot nie, Brendon se kop wil nie loskom van die gemaal daarbinne nie.

Jessie ruk haar later op. “As jy dan nou nie lus is vir gesels nie, gaan ek maar vroeg slaap!” Brendon is so moeg, en hy voel eintlik verlig toe sy omdraai en wegstap.

Hy sit en wag dat sy selfoon lui, hy wéét sommer sy ma gaan bel, en dit help niks hy skakel die foon af nie. Sy sal maar net boodskappe los, en aanhou bel tot hy antwoord.

Hy moes haar nóóit gesê het van die onderhoud van vanoggend nie. Veral nie voordat hy geweet het watse belaglike salaris hulle hom wou aanbied nie. Daarmee sou hy skaars sy motor op die pad kon hou en kos koop! Om nie eers te dink aan goed soos ringe nie. Almal weet salarisse op hierdie klein kusdorpie is belaglik laag, maar só laag?

Brendon hoor weer die ou by die elektriese plek: “Dis my offer. As jy nie kans sien om daarvoor te werk nie, is daar klomp ouens hier wat maar te dankbaar sal wees vir die job.” Hoe graag hy ook al wil, met één dive maak hy soveel as wat hy in ’n máánd daar kan verdien. Dit maak net nie vir hom sin nie.

Al verwag hy die oproep, laat die bekende deuntjie van sy selfoon hom skrik. “Boetie? Ma wag al die hele dag dat jy Ma laat weet van die werk!” Presies die woorde wat hy verwag het. Die woorde waarop hy nie eers vir homself ’n antwoord het nie, wat nog te sê vir sy ma of vir enige iemand anders. Hy sê maar liewer vir sy ma dat iemand anders toe die werk gekry het wat meer ondervinding het as hy, dan hoef hy nie verder te verduidelik nie.

Die nag kan Brendon nie slaap nie, hy bly rondrol. Sy kop bly net vol geld, geld, geld. Hy weet net nie watter kant toe nie, soveel gedagtes maal deur sy brein. Dis ook nie asof hy geld wil hê vir enige luukse goed, of enige iets snaaks nie, al wat hy vra is genoeg om ’n doodgewone lewe te lei. Om vir Jessie ’n verloofring te kan koop, meubels, en so. Soos ander gewone mense.

Brendon het skaars aan die slaap geraak, toe Jessie hom kom wakker maak. Sean het vroeg-vroeg kom aanklop, die ouens wil vandag nog ’n run maak en hulle sal moet wikkel om die laagwatergety nog te vang. Sy maag wil-wil weer begin knop trek, maar hy spring dan onder ’n warm stort in wat help om hom te laat ontspan.

Hoewel die water helder is, sukkel hulle om mooi grotes in die hande te kry. Brendon voel ook bewerig, dit gebeur ’n paar keer dat sy lifter aan die skulp raak voor hy hom kan afsteek, en dan kan jy maar vergeet om die kalant van sy rots af te kry.

Toe Brendon en Sean by die woonstel aankom, hoor hulle die gelag en die musiek nog voor hulle die deur oopmaak. Jessie en Clinton sit so en lag dat hulle nie die deur hoor oopgaan nie. Jessie sit stadig regop, en vra: “Is julle nie vroeg terug nie?”

Brendon kon nog nooit vreeslik vat kry aan Clinton nie, hulle wêrelde verskil te veel, en hulle het al in die verlede kort-kort vasgehaak. Hoe kan Clinton met hulle saampraat as hy nog altyd by sy ouers bly? As hy hom nie hoef te bekommer oor waar sy volgende maaltyd vandaan kom nie?

Clinton spring op en gryp Brendon se hand: “Jis, julle! Hoe’s dinge? Lanklaas gesien?” Alles in een asem.

Brendon vind dit moeilik om vandag beleefd met enige persoon te wees, wat nog te sê Clinton, maar hy kry dit tog reg om doodgewoon te vra: “Vertel my liewer wat is nuut jou kant?”

Clinton het duidelik gewag vir die vraag. “Goeie nuus! Ek het ’n job gekry, by die elektriese plek. Ek begin môre.”

Sean het intussen geloop. Brendon het skielik ’n bitter smaak in sy mond. Clinton het verdomp alles wat hy nie het nie, en dan nog die job ook wat hy so graag wou hê. Wat hy kon kry, maar nie kon vat nie.

Hy skakel die ketel aan. “Koffie?” Hy kyk vraend, eers na Jessie, en toe na Clinton. Hou hom dan besig met koppies en suiker, dan hoef hy nie te praat nie.

Die hele volgende week is Brendon ongedurig, die weer is sleg, hulle kan nie gaan duik nie en hy bly omgekrap. Jessie is ook stiller as gewoonlik, maar hy skryf dit toe aan sy eie ongedurigheid.

Die weer klaar teen Saterdagoggend op, waaroor hulle baie bly is. Die volmaan die vorige aand behoort vir hulle ’n baie mooi spring-laaggety te gee. Die middag laat met laagwater haal hulle toe ook maklik ’n paar mooies uit, sonder om te diep in te gaan. Brendon voel weer beter, hy is nog ver van ring koop af, maar ten minste kan hy nou weer ’n selfoonkaart en kos vir die week koop.

Sean kom die Sondaggoggend vroeg daar aan, spierwit. Sean se broer vat die trok op Saldanha toe, en hulle was die vorige aand in ’n padblokkade. Sean was saam agterin saam met die ander drie. Hulle is almal rondgestamp, maar die polisiemanne het vroeg-vroeg al geld gepraat, en hulle kon wegkom, ná bietjie onderhandeling. Dit is die eerste keer wat Brendon vir Sean so sien.

Brendon bly ronddwaal, en toe Jessie poskantoor toe stap, toe gaan sit hy op die bankie langs die rotse. Hy bid. Vra mooi, of verkeerd so verkeerd is as dit vir liefde gedoen word. Of verkeerd regtig verkeerd is. Wie het reg en verkeerd uitgedink.

Trane stroom later van sy gesig af, maar hy bly net so sit. Voel nie nader aan ’n antwoord nie. Weet nie watter kant toe nie. Hy staan later traag op en stap stadig terug.

Hy sien eers nie die briefie wat op die tafeltjie lê nie, maar toe hy die deur oopmaak, toe roer die windjie die briefie van die tafel af. Hy lees dit sommer so skuins, waar dit op die vloer lê.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.