NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hannes Steyn
Hannes Steyn is een van ’n familie van tien kinders. Hy slyp sy kinderjare in ’n welsynskinderhuis in Lyndhurst, Johannesburg. Hy matrikuleer te Vorentoe Hoërskool waarna hy ’n beroep in die telekommunikasiewese aanpak. Hy skryf graag kortverhale en sy jare lange projek, swerwe, veral in Afrika, is hoofsaaklik die rede waarom hy graag die avontuurgenre aanpak. Hy assisteer tans sy vrou, Meisie, met haar gastehuise op Stellenbosch en Paternoster maar doen nog vryskutkonsultasie.
  naam

Vingers

Hannes Steyn

Ek wurm mos netnou verby skoondogter die kamer in om die kleinkinners in te tuck. Mik haar so ’n verwytende blik in die verbygaan, siende dat sy prontuit geweier het dat ek hulle vir ’n halfuurtjie of wat met staaltjies kan vermaak. Hulle hang gewoonlik aan my lippe, maar die tweetjies het môre glo atletiek en hulle moet goed rus.

Thenicia is maar reserwe vir die aflosspan en Andrew doen verspring. En hulle moet rus daarvoor? Ga!

Maar ek durf nie my mening lug nie want hierie mamma kan nogal stroppie raak as ek, wat per slot van rekening die gratis loseerder is, dit durf waag om met hulle opvoeding in te meng.

Smaak my die tweetjies raak in elk geval bietjie te groot vir my outyds-stories, die laaste tyd sukkel ek nogal om hulle aandag te hou.

Andrew is verreweg die wille een. Toe ek buk om hom op sy voorkop te soen, toe pluk hy sy kop agteroor en gee my ’n grillerige lek onder my kin. Ek demp die sieskreet net betyds, loer onderdeur my blad om seker te maak dat Ma uit die gesigsveld is, en klamp sy neusie tussen my middel- en wysvinger vas totdat sy ogies waterig om oorgawe smeek.

Thenicia, die oogappel-krulkoppie van so by die nege, strek albei armpies om my nek en koer my nader. Haar ruggie boog behoorlik van lekkerkry terwyl sy haar sagte wangetjie hard teen my baardstoppels druk.

Dan merk ek haar rooi gevlekte Smartie-vingertjies, en die storie oor Vingers van Breda skiet in my gedagtes op. (Eintlik oorle pa se storie, maar hy sou nie omgee nie ... bless his soul.) Ek leun oor en druk die deur so sag moontlik toe, maar die betekenisvolle keelskoonmaak in die gang oortuig my dat geen nonsies hier verduur gaan word nie.

Glo ’n ware storie, hier van die jare vyftig en het in Johannesburg se westelike voorstede gebeur.

Vingers het by die munisipaliteit gewerk, in die Parke-afdeling waar die geld min was en die tyd vir scheme baie. En kon ou Vingers vir jou scheme!

Heeldag, terwyl hy sy span van een park na die volgende neem, het sy gedagtes oortyd gewerk oor hoe om vinnig geld te maak. Die paar projekte wat hy wel aangepak het, onder meer die geldleenprojek aan die werkers, en ook die smous van afval-bourommel, het hom eerder meer skade berokken as iets anders. Ook glo amper sy job gekos toe die baas uitvind dat die trok nie net vir park-instandhouding gebruik word nie.

Wat sy situasie nog meer bedremmeld gemaak het, was dat ondanks sy groot, dreigende postuur en kort humeur, sy sogenaamde vrinne lankal al belangstelling in sy konkelstories verloor het.

Dit was net ou Charlie wat altyd entoesiasties geluister en allerlei niksseggende bydraes gelewer het wanneer Vingers met iets nuuts vorendag gekom het.

Charlie, in teenstelling met sy groot, logge held, was een van daai skraal, seningrige ouens wat altyd lyk (en ruik) of sy watertoevoer drie dae gelede afgesny is. Behalwe natuurlik wat sy skoene aanbetref! Om die een of ander onverklaarbare rede het hy hierdie obsessie gehad om by elke moontlike geleentheid sy skerppuntskoene te poets. “Connoisseur trademark ingevoerde Jarmins,” het hy trots verduidelik wanneer iemand daaroor uitvra.

“Maar ’n hart van goud,” het Vingers gewoonlik geskerm as die onderwerp van Charlie se higiëne opgeduik het, en die saak was gewoonlik nie verder gedebatteer nie. Vingers hoef net een van daai dik piesangvingers half dreigend in ’n ongelowige se rigting te wys en al wat omstanders was, sou eenparig saamstem.

Een Donderdagmiddag, skuins ná etensuur, het hy verveeld in die trok gesit toe sy oog iets interessants teen die Linden-poskantoorvenster vang. Dit was ’n kennisgewing wat hom (en seker duisende ander) dreigend daaraan herinner het dat die afsnydatum vir betaling van radio-lisensies einde September is, of ...

Hy was nog besig om homself daaraan te herinner dat hy noodgedwonge in die “of”-kategorie val, onder meer omrede sy eks die vorige aand weer gedreig het dat sy hom gaan opskroef oor agterstallige onderhoud, toe hierdie scheme-van-alle-schemes in sy gedagte vorm vat.

Dis hierdie einste eks van hom, Tina wat mos vroeër in die poskantoor gewerk het, wat
gereeld lank voor eind-September al begin gekla het. Veral oor die oppie-nippertjie betalers wat jaar ná jaar veroorsaak dat al wat poskantoorklerk noodwendig tot laat in die nag moet geld tel en boeke-opmaak. En dit nog sonder oortydbetaling!

Ná werk het Vingers hom na Charlie se huis gejaag. Hy vang hom net betyds in sy kamer waar hy regmaak vir sy gebruiklike agtermirragstappie kroeg toe. “Oefening,” noem hy dit gewoonlik.

Sonder om eers te groet of, soos die gebruik tussen hulle was, na sy ouers se welstand te verneem, plons Vingers hom op die lendelam driekwartkatel neer. Hy smyt laasweek se Scope van die bed af sonder om eers na die centre spread te loer. Charlie moet net sy smoel hou en mooi luister, verduidelik hy, want hy het iets baie konfidensieel om te bespreek. Nadat Charlie hom verseker het dat sy ma buite met die honne doenig is en sy pa nog steeds op Sasolburg op kontrak is, sit hy sy plan uiteen.

Vingers sal die rooftog beplan en hulle twee sal dit gesamentlik uitvoer.

Brixton-poskantoor sal geteiken word. Dit is buite sy area en niemand ken hom daar nie. September 30 net voor sluitingstyd, presies sewe dae op die minuut van nou af.

Slegs Vingers en Charlie sal aan die operasie deelneem. Absolute geheimhouding word benodig. Charlie moet eers op sy ouma se dood sweer dat hy niemand sal vertel nie.

Dit doen Charlie sonder teëstribbeling, nie net vanweë die feit dat sy ouma in elk geval al tien jaar gelede dood is nie, nee, hy wat Charlie is, is in stille ekstase oordat sy held hom so volkome in sy vertroue neem.

Toe Charlie hoor dat hy die gheddaway kar sal moet bestuur, raak hy so opgewonde dat hy sy Brylcream-hande met lang, harde hale aan die reeds smerige gordyn afvee.

Vingers het nog steeds sy gewese swaer Nico se ou diensrewolwer (wat jare terug by die polisie as onbruikbaar ingedien was maar eenvoudig net weer teruggesteel is). Hy sal dit net as afskrikmiddel gebruik, want hy het nog nooit in sy hele lewe ’n skoot geskiet nie. Was glo ongeskik vir diensplig verklaar. Seker maar oor sy gewig, want die destydse Army het nie eintlik omgegee as jy bietjie stadig van begrip was nie. Of dalk omdat hy so ’n kroniese hoogtevrees het.

Hy het juis ’n maand of so terug een aand op sy bed gelê en met die affêre gespeel. Veral gehou van die magsgevoel toe sy dik wysvinger sonder moeite voor die sneller ingegly het.

Die plan was dat Vingers sy kans op September 30 sal afwag. Sodra die laaste kliënt die poskantoor verlaat, sal hy die klerk na die agterste kantoor dwing waar die geldtellery aan die gang is.

Sy groot postuur en swaaiende rewolwer behoort te verseker dat geen teenkanting verkry sal word nie, glo hy, en Charlie beaam dit hardop met heldevererende oë.

Charlie sal sy pa se grys Taunus-stasiewa moet leen, natuurlik sonder sy ma se goedkeuring. Hy moet net in vadersnaam seker maak dat daar genoeg petrol in is.

Met dié grou hy in sy tiekiesak (wat spesiaal groter laat maak is vir sy dik vingers) en tel vir Charlie twee sjielings uit.

Met ’n dreigende verduideliking dat die geld uitsluitlik vir petrol is en nie vir bier of skoenpolitoer nie, verduidelik hy verder.

Vingers sal dan die geld in sy toksak pak, die foon buite aksie stel, almal in die kantoor toesluit en die sleutel weggooi. Hy sal dan laat spaander na waar Charlie buite voor die ingang met luierende enjin wag. Maklik, nè?

Vir die volgende paar dae het die twee aan die plan geslyp. Hoe meer navorsing hulle gedoen het, hoe meer oortuigend het hulle mekaar verseker dat niks kan verkeerd gaan nie.

Dis die “surprise-elemint” wat die deurslag gaan gee.

Hulle het elke detail ure lank bespreek. Die hele operasie, vandat Vingers voor die ingang uitklim totdat die motor die sirkel bereik waar Highstraat, Perth Road, Hurst Hillstraat en Collinsstraat bymekaarkom, behoort nie meer as sewe minute te neem nie. As hulle eers daai sirkel bereik, kan al wat agtervolger is maar opgee want dan is hulle so te sê onsigbaar.

Charlie is getaak om Dinsdag die Brixton-poskantoor se binne-opset te gaan verken.

Terwyl hy nog met Tina getroud was, het Vingers talle geleenthede gehad om die verbode areas van meer as een poskantoor deur te drentel. Sover hy kan onthou, is die meeste van die gebou-uitlegte min of meer dieselfde. Die area agter die toonbankpersoneel bestaan gewoonlik uit ’n gang met die posmeester se kantoor, teekamer, toilette en stoorkamer weerskante. Die kluis is gewoonlik in die posmeester se kantoor.

Hy het eendag vir Tina gevra hoekom die meeste van die poskantoor se agterdeure permanent gesluit bly en waarom die verskriklike diefwering voor die vensters? Sy het toe smalend geantwoord dat dit gedoen word om ongewenste elemente uit te hou, en het hom betekenisvol aangestaar. Hy het sy humeur verloor en sy swaer, wat destyds by hulle loseer het, moes net bontstaan om te verhoed dat sy in alle waarskynlikheid die volgende dag met ’n stukkende lip werk toe sou moes gaan.

Dinsdag skuins voor een het Charlie so ongemerk moontlik ingeval in die ry en die eerste linie van obstruksie bespied. Die kliënte-area en die klerk-area is vir byna die volle breedte van die vertrek deur ’n borshoogte-toonbank geskei. Waar die toonbank ophou, is so ’n drie of vier voet (daai jare was daar nog nie meters en rande en goeters nie) soliede afskorting en dan ’n deur gemerk PRIVAAT. SLEGS POSKANTOORPERSONEEL.

Terwyl hy stelselmatig vorentoe skuif, het hy gemerk dat hierdie deur normaalweg gesluit bly behalwe wanneer een van die amptenare wil in- of uitgaan. Wanneer die persoon terugkeer, maak die toonbankklerk van binnekant af die deur oop. Dit klap dan op sy eie toe, sekerlik met die hulp van een van daardie blink kontrepsies wat so ’n “shloesh”-geluid maak.

Sommige van die personeel verdwyn nou en dan deur die halfoop deur teen die agtermuur. Sy taak hierdie dag was om te bevestig wat presies annerkant daai deur - die tweede linie - aangaan.

Toe hy so vierde, vyfde van die toonbank is, besluit hy om tot aksie oor te gaan.

Alte bewus van die stewige porsie boontjiesop en visolie wat hy vroegoggend met voorbedagte rade ingewurg het, draai hy sy liggaam skuins om nie innocent bystanders in die spervuur te kwes nie, en druk ...

Daar word bespiegel dat selfs Charlie, wat dit te wagte was, vir ’n paar oomblikke totaal oorbluf was oor die gevolge.

Van die dosyn of wat weergawes oor hoe dit geklink het, was getuie nommer 7 s’n onoffisieel as die korrekste aanvaar in die hofsaak. Hierdie ou, so ’n opgeskote negentienjarige seun wat op sy militêre dienspligbreuk was en gaan seëls koop het, se getuienis het, volgens die Sondag Rapport, as volg daar uitgesien:

“... nog so in die ry gestaan toe ek ewe skielik hier van voor af so ’n skor, harde ontploffing, amper soos ’n leë veertiggallondrom wat van ’n trok afval, gehoor het. Onmiddellik daarna is dit gevolg deur ’n tien sekonde lange phweeeelllllllttttt-fluit, amper soos ’n ballon wat onder water gebars word. ’n Rukkie later toe die mense voor my begin weghardloop het, het dié wat nie gegly en geval het nie, se skoene geklink amper soos my ouma se vuiste as sy deeg knie wat te veel vog inhet ...”

Die media het hom die “amper-soos getuie” gedoop en daar was selfs ’n foto van hom op die voorblad.

Wat die aroma betref, was die media net so in ekstase.

“Wat is die trappe van vergelyking vir stink?” het die verwaande joernalis glo geskryf/gevra. “Seker stink, stinker, stinkste? Wel, Totius en al ons taalvoorvaders sou daardie dag in die Brixton-poskantoor sekerlik ’n woord moes opdink wat regs daarvan sou moes inpas.”

Getuie nommer 8, dis toe die antie direk agter Charlie, het glo omgekap en haar man wie se oë onmiddellik vol trane geskiet het van die skok, was te laat om haar val te keer. Hulle het blykbaar agterna geregtelike stappe teen Charlie en/of die poskantoor oorweeg, maar niemand weet of dit tot uitvoering gebring is nie.

Die eienares van die droogskoonmakers langsaan het, seker maar vir ’n bietjie reklame, beweer dat sy nog steeds, elke keer as sy die poskantoor besoek, Charlie se spook geruik het. Haar foto het ook die voorblad gehaal, sal later sien hoekom.

Ongelukkig vir Charlie was sy verbleikte stovepipe-jeans nie styf genoeg om die aanslag van die aarde se aantrekkingskrag te keer nie, en dit borrel toe behoorlik soos oorkookmelk rondom sy Jarmins uit.

Alhoewel die meeste van die kliënte buitentoe gevlug het, was daar nog so drie of vier wat na die verste hoekie gevlug het. Maar toe Charlie met sy een hand in ’n “mag ek asseblief kamer verlaat” gesture en die ander onbeholpe aan sy belt peuter, in die rigting van die PRIVAAT-deur skuifel, toe laat spaander hulle ook.

Gelukkig vir hom het die klerk teenwoordigheid van gees behou, die deur oopgepluk en sommer maar ook buitentoe verkas.

Hy het net betyds met sy nat, gladde skoen verhoed dat die deur voor hom toeklap. Sonder om te aarsel, het hy steunend regdeur die oop area gestrompel en die ander deur sommerso in die loop met sy skouer verder oopgestoot.

Die posmeester, wat die geharwar gehoor het, het net betyds terug in sy kantoor gespring voor die aanstormende stinkbom met die broek op die knieë. Hy het wel met meer as ’n tikkie histerie vir hom geskree dat die tweede deur op linkerhand die toilet is.

Om ’n lang, stink storie kort te maak, het Charlie daarin geslaag om die meeste van sy toegangskaartjie van sy klere en skoene af te was. Moes moeilik gewees het met die muurgemonteerde seepbotteltjie, maar hy wat Charlie was, mors nie energie aan skoonmakerasies nie en was gou-gou tevrede.

Daarna het hy, met die nat broek om sy lyf vasgemaak, by die posmeester aangedring vir die leen van iets droogs. Hy kan maklik longontsteking opdoen en hy wil nie graag in hofsgedinge met die Departement betrokke raak nie, het hy gedreig.

Die posmeester het, nadat Charlie genoegsaam uit sy pad geretireer het, ’n oorpak uit die stoor gaan haal en sommer ’n possak bygesmyt sodat Charlie sy nat goed daarin kon dra.

Maar nog was ons onwelriekende vriend nie gelukkig nie. Nee, die posmeester moet tog net sy foonnommers vir Charlie neerskryf sodat hy kan reël om die geleende goed terug te bring. Sodra dit behoorlik gewas is, natuurlik. Teëstribbeling het nie gehelp nie en met ’n stywe ruggie wink hy vir Charlie om hom na die toonbank te volg.

Die walms en konsternasie was egter te veel vir die posmeester (terloops, hy was getuie nommer 2). Hy draai in sy spore om en wys vir Charlie om hom na sy kantoor te volg. Hy glip die kantoor binne, gil vir sy personeel om die geld weg te sit en roep “kom binne ... maar moet aan niks raak of skuur nie.” “Dink die man dalk glads of ek melaats is?” het Charlie glo later verontwaardig aan iemand gevra.

Charlie maak of hy nie sien of belangstel toe die drie junior klerke die hope geld op die lessenaar tydelik in die laai inprop nie. Hy is nogal verras oor die opbrengs so vroeg as die agt en twintigste.

Daar word wel ’n mental note gemaak van die posisie van die kluis agter die nou ergerlike posmeester se stoel.

Hy neem die nota uit die onwillig uitgestrekte hand en met ’n eerbiedige onderneming dat hy die skoonmaker op sy pad uit sal help, maak hy hom uit die voete.

Die groep omstanders op die sypaadjie maak holderstebolder vir hom pad, kompleet asof Moses hulle met sy staf gemoker het. Hy kyk nie links of regs nie en ignoreer die “sssiiieeessss”-aanmerkings.

Hy ryloop terug huis toe en is gelukkig om ’n geleentheid agterop ’n bakkie te kry tot in Newlands se hoofstraat. Vandaar loop-hardloop hy huis toe terwyl hy ernstig planne beraam oor hoe hy sy skoene gaan restoureer.

Die volgende twee aande het hulle die roof ’n paar keer in Charlie se huis uitgeleef. Ma-Charlie het maar net, sigaret in die hand en curlers in die hare, kop geskud elke keer as Vingers ’n stotterende Charlie in die gang afstoot, sy regter-wysvinger dreigend teen Charlie se kop. Of as die lompe Vingers minute later met sy toksak die trappe afstrompel na waar Charlie in die pad staan en luidrugtig “brm-brm”. Vader alleen weet wat die twee mee besig is. Hou hulle ten minste weg van die Central om die hoek, het sy haarself meer as een keer hardop gerusgestel.

Daardie 30ste het Vingers vroegoggend sy baas vanaf die tiekieboks geskakel.

Met ’n stem wat kamstig dreig om in ’n gesanik te verander, het hy hom probeer oorreed dat al wat gaatjie in sy lyf aan die loop is en dat sy kop seerder is as enige babelas wat hy in sy lewe gehad het ... nee, hy het niks die vorige nag gedrink nie, hoe kan hy as die Raad eers môre salarisse betaal? Nee, die werk hoef nie ’n ambulans te stuur nie, sy suster van Bloemfontein, wat ’n gekwalifiseerde verpleegster is, kuier by hulle en sal mooi na hom kyk. Meneer moet maar sy paypêcket toesluit, hy sal dit môre kom haal, as hy beter voel, natuurlik.

Charlie, daarenteen, het nie nodig gehad om tot so ’n weersinswekkende sonde soos lieg te daal nie want hy was in elk geval werkloos. Hy het die vorige aand so terloops en met soveel moontlike melodrama aan sy ma vertel dat hy en Vingers môre vir ’n verrassing gaan sorg. Ma, wat so mooi vir hom sorg in sy moeilike tydperk van werkloosheid, gaan uiteindelik daai masseer-gemakstoel wat sy gedurig in Borsuks Furnishers se vertoonvenster bewonder, besit. Hy was nogal gekrenk toe sy, sonder om eers van haar Solitaire-kaartspel op te kyk, sarkasties gegrinnik het. Dit het die laaste sweempie van onsekerheid soos die Texan-rookring wat sy so pas geblaas het, laat wegwaai.

Hy het hierdie lenteoggend met so ’n ekstra huppel in sy stap die pad gevat na Vingers se huis. Sal later wanneer sy ma winkels toe gaan, die Taunus uit die garage wegsmokkel. Hy voel nie eens die ongemaklike irritasie elke keer as ’n skerp klippie deur die papierdun sole van sy blink Jarmins steek nie. Hy het die hele Woensdag aan sy skoene gewerk, eers die skrop met Jeyes Fluid om die meeste van die reuk uit te kry. Toe ’n reeks wasse en treatments daarna met elke moontlike boereraat. Eindproduk nie te vrot nie, behalwe vir die feit dat die sool nou twee keer dunner is en dat daar niks van die binne-lining oor is nie.

Makiesakie, stel hy homself gerus, hier teen die naweek sal hy ’n nuwe stel, nee, sommer twee, gaan koop. Hy sal seker maak dat almal weet dat hy wat Charles Vermaak is, met John Orr Jarmins rondloop, nie sommer net Edworks-replikas nie. Connoisseur trademark extraordinaire!

Heeldag het die twee van oorkant die straat die nimmereindigende stroom van poskantoorbesoekers gemonitor. Vingers het selfs vroegoggend probeer om boek te hou van al die drie-sjielingse wat so goedgunstelik die kluis instroom. Hier teen halfnege al het hy egter tou opgegooi want hy was nooit eintlik goed met tafels nie, nie eens die drie-maal nie.

Net soos verwag, het die stroom van Breda/Vermaak-fondsskenkers hier ná vier uitgerafel en vir die laaste uur of wat, het daar skaars tien deur die oop deur verdwyn.

Presies om vyf voor sluitingstyd het hy, nadat hy Charlie plegtig gegroet het, die opgerolde balaklawa op sy bleskop geplak, steunend sy logge lyf uit die Taunus gewikkel en sonder om te aarsel, oor die pad geloop. Charlie het stadig in Highstraat afgery om naby die brandweerstasie sy U-draai te gaan maak sodat die geddaway se snoet in Hurst Hill se rigting kan wys.

Alte bewus van die ou tante en haar worsie (daai jare kon jy nog jou honde enige plek inneem) wat nog nie uitgekom het nie, het hy so onopsigtelik moontlik ’n minuut of twee voor die ingang gedwaal.

Toe die antie uiteindelik uitkom, die verbouereerde Worsie al slepende agterna, staan Vingers eerbiedig opsy terwyl hy annerkant kyk.

Sonder om te aarsel, loop hy die poskantoor binne.

Hy draai sy rug op die toonbank.

In een beweging rol hy die opgerolde balaklawa af, pluk die rewolwer uit sy belt en storm op die niksvermoedende damesklerk af.

Volgens getuie nommer 1 (dis nou die damesklerk) het sy glo so groot geskrik dat sy die worsie-antie se Par Avion-seël, wat sy besig was om te lek, sommer heeltemal ingesluk het en nie eens verstik het nie!

Gelukkig vir Vingers het sy darem nie uitgepaas nie, maar hom net met verskrikte oë aangestaar, haar gesig inge-blend teen die wit agtergrond van die muur.

“Net een klankie en jy’s dood. Kom!” sis hy toe deur saamgeperste lippe terwyl hy in die rigting van die eerste linie-deur knik.

Met ’n dreigende sjjt-vinger voor die mond het hy haar oor die toonbank aan haar boarm probeer gryp, maar sy het agteruit gedeins en self deur se rigting toe beweeg.

“Maak oop of ... onthou, ek skiet jou sommer deur hierdie afskorting as jy probeer snaaks wees,” het hy sy teks, wat hy so lank aan geoefen het, seepglad onthou.

Hy leun so half oor die toonbank om haar in skoot te hou en sien dat sy, asof gehipnotiseer, die deur oopmaak en onmiddellik agteruit tree.

So vinnig as wat sy logge liggaam dit toelaat, skarrel hy die deur in en dwing die meisie in die rigting van die gang. Hy skrik effens toe die deur agter hom suig en toeklik.

Vir ’n oomblik tref onsekerheid hom as hy niks verder in die gang af hoor nie, maar dan kug iemand agter die toe kantoordeur en hy pluk hy die meisie tot halt.

Sy gee ’n verwarde, smekende gil by sy aanraking en staar hom met paniekerige oë aan. Oomblikke later vlieg die deur hier reg agter haar oop en ’n verbaasde klerk verskyn in die ingang. Sy gesig vertrek in absolute verbasing en skok en sy mond rek oop in ’n geluidlose waarskuwing.

Vingers was voorbereid daarop en stamp die meisie hardhandig teen die klerk vas. Albei verloor hulle balans en ploeg tussen die ander twee in wat besig was om verbaas uit hul stoele op te staan. Die posmeester aan die oorkant van die lessenaar het versteen bly sit toe hy die vuurwapen sien.

Die lessenaar het oorvloei met geld, meestal munte maar ook so ’n dosyn of wat hopies note van verskillende waardes. Die kluis se deur was gapend oop en nog hope het aanloklik gewink. Later het dit in hofstukke aan die lig gekom dat die totale ... wag, daar loop ek die storie al weer vooruit.

Afgesien van die geld was daar net twee rekenaartjies waaruit lang repe papiere met syfers peul, ’n paar penne, ’n dagboek en ’n telefoon op die lessenaar.

“Op die grond, plat op die grond!” het hy met ’n hees stem beveel terwyl hy die rewolwer met mening rondswaai en die sak op die tafel smyt. “Ek skiet, ek sweer vandag skiet ek julle vrek as iemand net iets probeer!”

Almal het blykbaar gereageer asof hulle self ook die oefensessies meegemaak het. Meneer Posmeester het homself nie eens verwerdig om uit sy stoel op te staan nie, net bloot onseremonieel daarvan afgedop. Daar was skaars genoeg plek op die vloer en die meisie moes haarself sommer bo-op die ander werp.

Nadat Vingers die wapen na sy linkerhand verskuif het, het hy met buitengewone kalmte al wat noot is, in die gapende toksak gegooi. Ignoreer toe die kleingeld soos beplan, pluk die telefoon van die tafel af en smyt dit teen die muur sodat dit in stukke op die verskrikte hopie klerke val. Nog nie tevrede nie, tel hy toe glo die grootste stuk op en smyt dit teen die gangmuur.

Hy lig toe die toksak oor sy skouer en met ’n “Lê net so of julle is vrek” sluit hy die kantoordeur, gooi die sleutel deur die toiletvenstertjie en laat spaander die gang af.

Dis dan ook daar, opgeprop teen die verkeerde kant van die PRIVAAT-deur dat die polisie hom tien minute later gekry het. Dit nadat die posmeester uiteindelik daarin geslaag het om die eienares van die droogskoonmakers (getuie nommer 9) se aandag deur die kantoorvenster te trek. Een van die klerke het, terwyl daar op die polisie gewag word, voorgestel dat iemand buite die sleutel moet soek aangesien hy duidelik gehoor het toe die dief ’n venster aan die oorkant van die gang oopmaak en iets uitgooi. Dit het, tot groot verligting van die posmeester, verhoed dat die deur afgebreek hoef te word. Hy het genoeg onaangename ondervinding van hoe lank dit die Departement se Instandhoudingseksie in Braamfontein neem om na gebou-reparasies om te sien, veral die spul skrynwerkers. Hoe lank wag hy net nie nou al vir hulle om die stoor se muurrakke te kom regmaak nie?

Hoe Vingers ook al probeer het, hy kon nie die Yale-slot aan die binnekant van die deur met sy dik vingers raakgevat en gedraai kry nie. Selfs met sy tande probeer.

Ten einde raad het hy die sak oor die toonbank gesmyt en oor die toonbank probeer ontvlug. Tevergeefs. Hy kon nie sy logge liggaam, selfs toe hy ’n stoel nadertrek, oor die toonbank lig en annerkant afspring nie.

En Charlie? Wel, toe hy merk dat sy maat in die moeilikheid is, het hy die voertuig parkeer en so nonchalant moontlik na die ingang gedrentel.

Sonder dat die twee polisiemanne of enige van die omstanders dit merk, het hy die geboeide Vingers se oog gevang. Dié het hom met ’n dringende knik gewaarsku om homself uit die voete te maak om sodoende darem sy eie bas te red.

Charlie sou in alle waarskynlikheid skotvry daarvan afgekom het. Dit was net sy ma wat rede gehad het om hom met Vingers se doen en late te kon verbind. Maar dis onwaarskynlik dat sy iets sou weggee onder kruisverhoor. After all, sy is nie gister gebore nie.

Charlie sou dus weggekom het.

Maar hy het nie.

Hy was wel besig om sy sleutel in die motordeur te steek, maar het toe paniekerig straataf begin hardloop toe die eienares van die droogskoonmakers, sekerlik net vir ’n bietjie reklame, hardop uitgeroep het:

“Hey, is daai nie die stinkskuiter van nou die dag nie?”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.