NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hanru Niemand
(oorspronklik van die Paarl) is tans ’n tweedejaar-Sielkundestudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy hou egter vol dat enige ooreenkomste tussen laasgenoemde universiteit en “StudenteDorp” bloot toevallig is. “Die Verhale van Jacobus Grimm” is sy eerste gepubliseerde werk.
  Hanru Niemand

Jacobus Grimm byt vas in StudenteDorp

Hanru Niemand


Deel I: In die huis van die Du Toits
Deel II: Bogrondse bewegings

III: Besoek aan die biblioteek

Dinge is vir Jacobus Grimm ongemaklik stil. Dis Dinsdag, die enigste dag wat Die Idool nie optree nie. Die feit dat Rob vir ’n verdere drie weke niks van hom laat hoor het nie, is ook onheilspellend, veral gesien sy vreemde optrede toe Albert geskiet is.

Hel, wie moet nou nog doodgaan? wonder Jacobus. Tim Banjo is tien teen een dood, Big Ben Blue ook, Ryna vir alle praktiese doeleindes, Albert. Nou die dag sien hy in die koerant dat Sandra du Toit ook dood is, ge-overdose. Daarmee saam ’n berig oor Ronald du Toit en Adel du Toit wat nou in onderskeidelik Engeland en Spanje gaan aanbly, aangesien hier niks oor is van die gesin nie: Perry het homself ’n week of wat terug opgehang, Lenie is van dieselfde dag af vermis, Jeanne het saam met haar boyfriend onder ’n trok ingery, en nou het Sandra ge-overdose.

Dalk is dit beter so. Dat die huis finaal leeg staan, soos Perry dit wou gehad het. Hy onthou nog hoe hy al die foto’s van die hakies afgestamp het. Die simboliek was een te veel. Flambojante mense vra vir flambojante simboliek, seker.

En die dag ná Albert dood is, was daar ’n beriggie oor nog ’n Agent wat die onderspit gedelf het, Jonker. Glo ook homself opgehang. Hulle kap ook om soos vlieë. Blykbaar is net Ryna en ’n man genaamd Coetzer oor. Wie weet, dalk word sy eendag Die Sersant, dan kan sy ’n einde aan al die stront maak.

Maar dis onnatuurlik stil, en Jacobus Grimm het die gevoel dat daar iets aan die broei is. As dit nie vir hierdie gevoel was nie, dink hy hy sou nogal aan die stilte kon gewoond raak, mits Die Idool vir ewig en vir altyd ophou sing. En die BeskermingDiens is nie so bad nie, solank jy uit hul pad bly, en hulle stupid reëls gehoorsaam. Hy hoor een van die regulasies is dat Agente wat selfmoord pleeg, nie ’n behoorlike begrafnis kry, met die manskappe van die Artillerie-afdeling wat skote afvuur soos hulle geleer is in die BeskermingDiens Akademie nie. Arme ou.

Lenie maak seker dat sy al die voorrade op haar lysie gekoop het. Die tamaties wat sy heel laaste gekoop het, sodat hulle nie kneus in die sakke nie, lê heel bo-op. Nou moet sy koers kies, terug na haar heiligdom, sonder dat iemand haar sien. Sy kan nie bekostig om nog iemand aan die lewe te hou nie.

Op pad terug na die StudenteSentrum, om nog ’n koppie koffie uit magtelose verveling te koop, sien Jacobus Grimm die vreemdste ding. Hy kan sweer hy het pas verby Jeanne, of Sandra, geloop. Dit kan nie Lenie wees nie, want die meisie is netjies aangetrek gewees. Mooi. Hy’s seker dis een van hulle, al sê die koerante hulle’s dood. As Perry kon scheme om homself gearresteer te kry, kan een van hulle ’n dood fake. Hy wag vir ’n oomblik agter die pilaar, seker dat sy ’n goeie afstand van hom is, en sit haar dan agterna. Hy is immers verveeld.

Die meisie dra swaar aan al die winkelsakke. Tog kry sy dit reg om met vaart en grasie die plein oor te steek. Slim. Wie sou nou snaaks dink van so iets? Jacobus sien hoe sy die voetstuk van die standbeeld van Die Sersant oopmaak soos ’n deur, deurdat sy ’n kaart (soos ’n kredietkaart) afwaarts trek in die gleufie waar die deur die sement ontmoet het. Daar aangekom, probeer Jacobus dieselfde doen, met min vertroue. Dis tien teen een haar spesiale kaart, of iets. Tog nie. Die kaarttrekkery is bloot ’n manier om ’n slotjie uitgehaak te kry. Jacobus maak seker dat niemand hom sien nie, en stap by die deur in. Hy stap by ’n stel trappe af, maak nog ’n deur oop, en sien die grootste vertrek wat hy nog in sy lewe gesien het. Voor hom, op die vloer, is daar reusagtig in marmer gegrafeer: WELKOM BY DIE A.P. DU TOIT-BIBLIOTEEK. ’n Ondergrondse biblioteek. Wie sou aan so ’n idee gekom het? wonder Jacobus.

Voor hom sien Jacobus ry op ry boekrakke, wat amper tot by die dak hoog is. En tussen die rakke, tot sy groot verbasing, loop daar hier en daar mense verdwaald rond. Is dit ’n tipe ondergrondse beskawing wat Rob se bedrywighede na kinderspeletjies laat lyk? En waar is die meisie? Hy besluit om een van die mense te gaan vra.

“Die meisie?! Jy soek die meisie?! HaHaHAHahaha!!? Het jy nog nooit van Machiavelli gehoor nie?! HahahhhhhHHAha!?” Die man is waansinnig, maar ’n ander man snel hom te hulp.

“Kalmeer, Fritsie, hy’s nuut hier.” Vir Jacobus sê hy: “Hy moet ’n boek van Machiavelli hier kry, jy sien. Ek moet weer iets van Jung, of so iemand, kry. Daai ou daar ander kant,” en hy wys na ’n man wat lyk of hy die rakke wil dekonstrueer, “moet ’n boek van Derrida kry. Hy’s baie naby, sê hy.” Dié ou is ook nie al te wel nie, meen Jacobus.

“Hoekom soek julle almal boeke?”

“Om hier uit te kom. Mens kan tog nie vir ewig hier bly nie.”

“Hoe lank is julle al hier.”

“Fritsie is al die langste hier. Amper twee weke. Maar die rakke maak mens mal. Die boeke ook. Dis ’n sameswering, ek sê jou.”

“Machiavelli!!!” skree Fritsie, en spring op en af asof hy ’n hardnekkige kakkerlak van kant wil maak.

“En jy? Hoe lank is jy hier?” vra Jacobus.

“Tien dae. Maar hy sorg vir ’n mens, gee jou kos.”

“Wie’s hy?”

“Die stem. Hy sal nog vir jou ook roep. Dan sal jy weet wat om te doen. As jy my nou sal verskoon, ek moet nou gaan kyk waar Jung is. O, ja,” roep hy oor sy skouer, “onthou: daar ’n onderste vloer ook!”

“JY DAAR MET DIE LANG JAS!” Jacobus gaan staan stil en kyk op na die luidsprekers waaruit die stem dreun. “BY DIE TOONBANK IS ’n REKENAAR. TIK JOU IDENTITEITSNOMMER IN, GAAN DAN NA DIE ONDERSTE VLOER SE TOONBANK. DAAR SAL JY JOU OPDRAG ONTVANG.” Jacobus gehoorsaam agterdogtig. Wat wil die ou met sy nommer maak? Hy doen dit maar in elk geval. Dis nou nie asof hy iets het om te verloor nie.

By die onderste vloer se toonbank maak dinge vir hom bietjie meer sin. Hy moet ’n kookboek van Nataniël, of so iemand, opspoor. Dan, as hy dit het moet hy dit by die boks by die toonbank inlewer, en die biblioteekkode van die boek saam met sy ID-nommer intik. Dan sal verdere instruksies klaarblyklik op hom wag. Tot dusver het die bliksem hom nog geen waarborg gegee dat hy enigsins hier kan uitkom nie. Dis net die hele tyd instruksies en verwysings.

Aan dus met die soektog. Jacobus verstaan aanvanklik nie wat so moeilik is dat mens weke lank moet soek nie: die rakke is netjies in onderwerpe gerangskik, en alfbeties. Oënskynlik. Dít is waar die probleem inkom, kom Jacobus agter. Hy vind wel etlike kookboeke deur Nataniël, maar nie die een wat hy moet kry nie. Langs dié groepie vind hy skielik Das Kapital van Marx. Dit beteken dat alles hier in beginsel nie enige vaste patroon het nie. Die enigste sekere manier om Nataniël se kookboek op te spoor is om die rakke van ’n kant af te vat. Hy kry ’n naarheid oor sy maag, en verstaan nou hoekom sy mede-verdruktes so bleek in die gesig is. Nou weet hy hoekom mense wat maar net ’n paar dae hier is, lyk asof hulle jare in ’n bomskuiling deurgebring het, met krom ruggies loop en skuifeltreëtjies gee. Dit is, om dit melodramaties te stel, die vloek van die biblioteek.

Jacobus wonder of hy ook al bleek is. Hy het al baie dinge beleef wat die bloed uit sy gesig laat val het. Daar was die paartjie wat in een van die cubicles gefornikeer het, nadat die man heel waarskynlik aan die dame genoem het dat hulle dalk as maagde sal moet sterf. En daar was die man wat vir hom geknipoog het en toilet toe gewink het. Dan is daar die feit dat hy skreiend honger is. Die mal man wat Fritsie te hulp gesnel het, het gesê dat daar vir hulle gesorg word. Dis nou al 18:00, en Jacobus wonder of die man nie maar net sy hersenskimme uitgepraat het as ’n tipe terapie nie.

Jacobus se bespiegelinge is nog nie koud nie, of ’n oorverdowende sirene gaan af. Jacobus sien hoe die bleek verdwaaldes skuifel-skuifel koers kies na die boonste vloer se toonbank. Hulle stamp mekaar, en party kry dit reg om die koördinasie bymekaar te skraap om iemand te pootjie. Daar is yl dreigemente in die bedompige lug, en maer vuiste word gebal in waansinnige woede. Jacobus kan iewers krete van “Machiavelli! Machiavelli!” hoor, wat opsigself ysingwekkend behoort te wees, as hy nie geweet het dat Fritsie met gemak deur enige veertienjarige dubbeld gevou kan word nie.

By die toonbank sien hy hoe Sandra of Jeanne vinnig agter ’n kluisdeur verdwyn. Dan sien hy die honger biblioteekgangers by die klomp skinkborde met toebroodjies. Die bleekgesigte is omtrent tot by hul elmboë in die skinkborde besig. Eenkant spring Fritsie op en af op ’n kaastoebroodjie, asof dit ’n hardnekkige kakkerlak is. So dis waar al die vetkolle op die matte vandaan kom, dink Jacobus.

Jacobus staan nader om vir homself ’n paar broodjies te eien. Hy is immers self honger. Hy sou te laat gewees het, as dit nie was vir ’n bord tamatietoebroodjies wat onaangeraak staan nie. Niemand eet tamatietoebroodjies nie. Hy dink weer aan die meisie en aan Lenie wat destyds tussen snikke deur vermeld het dat iemand ál haar tamaties gevat het. Wat sal van haar geword het? Sal sy ook in die sameswering om Sandra of Jeanne se dood te fake ’n rol speel?

Jacobus val agteroor van uitputting. Om Nataniël se kookboek op te spoor is onmoontlik! Hy het sopas sy eerste rak deurgesoek. Nog net fok weet hoeveel oor.

Uit die hoek van sy oog merk hy ’n maer man op wat by ’n tafel sit en verwoed skryf. Hy loop nie skuifel-skuifel rond nie. Kyk net af en toe op soos ’n meerkat, stamp sy kop teen die tafelblad en tik-tik met sy pen op wat seker ’n blad papier moet wees.

Die man kyk vies op as hy agterkom dat Jacobus oor sy skouer loer na die syfers en letters wat op ’n totaal ongeorganiseerde manier sy papier bespikkel. “Wat wil jy hê?” sê hy, en swaai om in sy stoel, met sy pen dreigend na Jacobus uitgesteek.

“Ek kyk maar net wat maak jy.”

“Soos wat lyk dit vir jou, man?!”

“Jy probeer ’n patroon kry?”

Die man se gesig verhelder. Dit is die eerste keer dat iemand insien wat hy doen, die eerste keer dat iemand erkenning gee aan sy poging om ’n reëlmatigheid te vind in willekeurige groeperings. Selfs sy kollegas in die Departement Wiskunde het hom nooit geglo dat dit moontlik is nie. Hulle’t hom vir ’n geestesversteurde uitgekryt. Maar hy sal hulle wys!

Hy steek sy hand uit en sê: “Dirk Müller.”

“Jacobus Grimm.”

Die man skrik. “Die een wat die BeskermingDiens soek?”

“Wel, wat kan ek sê, hulle maak nie ’n baie goeie job daarvan nie.”

Dirk Müller lag. Hy weet alles omtrent oneffektiwiteit. Hy lag in sy stilligheid vir die idiote wat rondgaan van rak na rak, terwyl hulle met baie minder moeite slegs ’n rak kon nagaan, en ’n patroon vind, soos hy nou maak. “Ja,” beaam hy gevolglik.

“Maak jy darem vordering?” wil Jacobus weet.

“Amper. Ek’s seker ek is op die rand van ’n groot deurbraak.”

“Wat soek jy?”

“Popper.”

“Jy’t nie dalk al ’n kookboek van Nataniël teëgekom nie?”

“Nataniël? Hy’s daar oorkant, op daardie rak daar.” Hy beduie na die rak, verbaas dat iemand na so ’n triviale boek kan soek.

Jacobus wonder wat die kanse is dat so iets gebeur. Moet enorm wees, anders sou die “stem” nie so ’n stelsel uitgedink het nie. Dirk Müller sou egter nie saamgestem het nie, weet hy, dit moet ’n reëlmatige noodwendigheid wees. Hoe dit ook al sy, hy het nou Nataniël se kookboek onder sy arm, en hy is op pad, verby die skuifelende verdwaaldes, na die onderste vloer se toonbank vir verdere instruksies.

Lenie is effens bekommerd. Die stelsel maak nie voorsiening vir mense wat saamwerk nie. Gelukkig is dit Jacobus Grimm, en nie iemand anders nie. Hy kan nie die owerhede hiervan laat weet nie, want hy is self voortvlugtend. Sy het so ’n fyn gevoel sy hoef nie bekommerd te wees dat die ander sal saamwerk nie.

Nadat hy binne die vyfsekonde-ruimte by die kluisdeur ingesluip het, en sy pad gevind het deur die doolhof van gange wat soos ’n hospitaal lyk, bevind hy hom in die kantoor van die meisie. Haar gestewelde bene is gekruis, en die jeans span netjies om haar mooi bene waar sy terugleun in haar stoel. Haar bloes het min knope oop, haar hare is netjies gekam, haar gesig is fyn gegrimeer. Haar oë, besef Jacobus, is definitief nie dié van Sandra of Jeanne nie. Nee, hier is geen teken van die dans van die bekken nie. In hierdie oë is net moegheid, oudheid, en ’n tipe metaalagtigheid, soos ’n trein wat deur ’n godverlate vlakte ry. Lenie?

“Sit, Jacobus,” sê sy sonder enige noemenswaardige stemtoon. Jacobus gaan sit huiwerig.

“Lenie?”

“Einste. Koffie?”

“Sal lekker wees, dankie.”

Sy staan op na die ketel langs haar op ’n toonbankie, en steek gelyktydig ’n sigaret op. In die stilte skep sy lepeltjies koffie en suiker in die koppies, totdat die sigaret in haar pad kom. Sy gee dit een kyk, druk dit dood, en mompel: “Ek moet die goed los.”

Jacobus kan dit nie meer hou nie. “Wat gaan hier aan?”

“Dis ’n kompetisie.” Sy lag effens. Hy besef dat sy verwys na die kortstondige gesprek tussen die gerookte meisie en die BeskermingDiens Manskap in haar suster se kamer.

“Van wanneer af is jy nie mal nie?”

“Ek is nog steeds. Ek het dit net somtyds ’n bietjie oordryf, soos daardie aand, met die party.”

“En nou run jy jou eie sirkus in ’n geheime biblioteek.”

“Amper so iets.” Sy steek nog een op, en Jacobus is op die punt om haar te begin ernstig opneem, toe sy begin praat: “My oupa Apie het destyds, met die Anarchiste-bedreiging, voor die BeskermingDiens op die been gebring is, en Die Sersant aan die bewind gekom het, die ding gebou. Hy was altyd lief vir boeke, en kennis en nuuskierigheid.” Sy keer haarself as sy te driftig begin praat. “Hy was in kort die weldoener van StudenteDorp. Kort daarna is hy dood. Die Anarchiste-krisis was verby. Die Sersant het dit goedgedink om die tydperk behoorlik te seël, toe sluit hy die biblioteek, en bou sy eie een. Maar ek en Perry het nog altyd hier kom rondspeel. My oupa het ons al die geheime ingange gewys, jy sien. Ek ken die plek soos die palm van my hand.”

“En nou herleef jy jou kinderdae.”

“Ek het ’n plek gesoek om te bly, Jacobus. As hulle my kry, dan sit hulle my in ’n inrigting.” Sy gooi die kookwater uiteindelik in die koppies in, en die water roggel doods in die stomende lug. “Jy weet, dis anders vir ons wat hier moet agterbly. Julle almal bly maksimum vyf jaar hier, dan kry julle ’n kans om weg te kom, om oor te begin. Intussen sien julle die sites, vat die lewe maar soos dit kom, en ons arme locals word eksentrieker by die dag. Mense word musiekvideo’s wat jy net kan sit en kyk, en dan aanbeweeg. Vat nou vir jou by die party by ons huis,” haar stem is emosieloos, “jy kon net daar sit, na die blues-ouens luister, lag vir al die weird mense, my susters, die BeskermingDiens, en vir my. Raait, jy sou dalk in die tronk beland, hoewel dit onwaarskynlik is as jy saam met ’n Du Toit is (die arme Perry kon dit nooit snap nie), jy sou ’n rekord kry, maar dis ook maar alles deel van die experience. Jare later is jy iewers anders, en niemand ken jou nie, niemand weet dat iemand in ’n stadium al jou tamaties gevat het nie.” Sy steek nog ’n sigaret op, druk dit dood, en mompel: “Moet die goed los.”

“En nou kry jy ons terug deur ons een-een te vang en mal te maak.” Jacobus probeer ongemerk kyk hoe hy hier gaan uitkom. Voor sy hom iets anders aandoen.

“Nee, jy’s verkeerd. Ek moet hulle hier hou, anders verklap hulle my. Ek kan hulle nie vir ewig hier hou nie. Ek kan dit nie bekostig nie. Ek het nou wel my pa se fondse van die KarSorg-besigheid na my toe gekanaliseer, maar dis skaars genoeg vir my, en tamaties word by die dag duurder. So, ek moet hulle een of ander tyd laat gaan, maar hulle moet teen daardie tyd so mal wees dat niemand in elk geval hul storie sal glo nie.”

“En gevolglik word jy conveniently gedwing om beheer oor hul lewens te neem.” Hy wil nou hier uitkom, of hy nou bang is of nie. Mens kan net so lank in ’n biblioteek bly.

Sy skud haar kop, en lag vir hom. “Dis hoe dit werk, of jy daarvan hou of nie.”

“Dis hoe wat werk?”

“Die lewe. Beheer. Daar is ’n groot menigte wat gespeel word, gemanipuleer word. Hul eie strewetjies speel in die hande van die poppemeesters. Jy is of ’n poppemeester, of ’n pop. Julle toeriste,” beduie sy met haar nuutste sigaret in haar hand, “is gewoonlik net poppe. Julle giere en grille word die BeskermingDiens se manier om orde en eendrag te behou. Selfs julle wat kastig weerstand bied, of dink julle lewer kritiek, of wat botweg weier om deel te neem. Vir elke move is daar ’n manier om dit te gebruik.” Sy vat ’n sluk koffie, en dink vermoedelik diep na voor sy sê: “Ek sal nie verbaas wees as Die Sersant self ’n pop is nie.”

“En jy is ’n poppemeester. In jou eie biblioteek.”

“As die kans jou gegun word om beheer te kry, om beheer te kry oor jou eie lewe, dêmmit, wat sou jy doen? Dink jy nie mens word amper gedwing om ’n poppemeester te word nie?”

“Nee, dan moet ek nou ewe skielik Die Sersant begin jammer kry, oor hy vermoedelik sy eie lewe wil lei. Fok hom! Hy fok my lewe op!” Jacobus is op sy voete, en sy koffie drup van sy hand af soos hy dit oor hom gemors het met die opspringslag. Hy gaan sit. “Hoekom los jy nie net die hele besigheid nie, Lenie? Jy kan bogronds bly. Die BeskermingDiens sal jou nie opspoor nie, veral nie soos jy nou lyk nie. Hel, man, jy hoef nie die mense hier te hou nie. Jy hoef nie bleddie Big Brother te speel nie.”

“Ek’s bevrees jy’s verkeerd. Jy dink soos ’n toeris. Jy dink mens kan jou vorige foute net so vergeet. Die feit, en dít weet jy as jy ’n local is, is dat al wat jy kan doen is om jou foute se skade te beheer. Ná een verkeerde move, van jou of iemand anders, is al jou oplossings ...” sy huiwer as sy dink aan die regte woorde, en Jacobus sien haar oë soveel ouer raak as die mooi laat-tienermeisie wat voor hom sit. “... voorlopig. Tydelik. Sonder enige hoop dat dit môre weer kan werk. Nee, Jacobus, ek is nou stuck hier.”

“Jy dink nou soos ’n local, en dis onnodig. Jou foute sal jou toegroei soos ’n rankplant, tot jy fokkol kan doen.”

“Ek’s gewoond daaraan,” trek sy haar skouers op. “Ek is vir ’n moerse breukdeel van my lewe in ’n kothuis toegesluit, onthou.”

“Jy kan saans uitgaan, die klomp hierbinne het mos iets om hulle mee besig te hou.”

“Net soveel meer kanse om uitgevang te word, net nog meer bleek, mal mense.”

“Die BeskermingDiens sal jou nie vang nie, trust my. En as jy snags beweeg, sal mense jou moeiliker kan volg.”

Sy glimlag net, en hy kan sien sy koop nie sy strategie nie. Hy haat dit as mense hom nie wil glo nie, as mense hom nie kan glo nie.

“Die deure is oper as wat jy dink dit is, Lenie, dis nie nou meer die kothuis nie.”

Sy kyk hom lank aan met haar ou oë, wat tog wil lyk asof hulle ontdooi met die besef van ’n genadige swak plek in haar redenasie. “Ek moet dalk dieselfde vir jou sê.”

“Ja, dalk moet jy.” Maar is dit oop genoeg om permanent daar te woon? Waar is die mistieke tuiskoms wat die toeris nie inhok nie?

“Ek sal vir jou wys hoe om uit te kom,” sê sy.

Hulle staan onder die luik. Lenie vee met haar hande sy kuif uit sy oë. “Jy is welkom om te kom kuier. Enige tyd. Jy ken mos die pad,” sê sy.

“En jy by my. Kry my net by die eerste tafel wat mens kry in die StudenteSentrum.”

“Ek sal dalk net.” Dalk het daar tog iets tot haar deurgedring.

“Jacobus!” roep sy hom. Waar hy op die leer staan kyk hy terug oor sy skouer. “Dalk raak jy weer gelukkig. Poppemeesters bargain nooit daarvoor nie. Jy moet net vasbyt.”

“Dalk raak ons almal gelukkig. Ek sien jou weer, Lenie.”

Vasbyt, Jacobus, vasbyt.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.