NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Heilna du Plooy woon in Potchefstroom en gee klas in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde en literêre teorie aan die PU vir CHO. Sy het ’n boek geskryf oor verhaalteorieë, ’n paar kortverhale in literêre tydskrifte en ’n digbundel, Die donker is nooit leeg nie.
  Heilna du Plooy

Ander verhale deur Heilna du Plooy:

  • ’n Antwoord op sy tyd

    Liefde is ’n plek

    All fires burn out at last
    Sigrid Undset

    Die somer het verbygegaan en dit is herfs.

    Mariaan sit die telefoon sag op die mik terug. Die vroeë oggendson wat by die groot vensters inskyn, is opeens te helder. Sy sien die vertrek voor haar in strepe kleur soos ’n tuin deur ’n natgereënde ruit.

    Nou is dit eindelik verby. Uiteindelik gaan alles verby; vir mense gaan alles tog maar uiteindelik verby. Sy ken weemoed al lank, maar nou is daar ook skerp pyn. Vir ’n derde keer, genadiglik die laaste keer, het sy hom verloor.

    Die eerste keer het sý weggegaan. Die verhouding het toe al vyf jaar geduur en sy was reeds van haar man geskei. Die egskeiding was vir haar die beëindiging van ’n verbintenis wat inhoudloos geword het, maar haar man se onbegrip en hartseer het haar tog diep ontstel. Sy het nogtans geweet dit kon nie anders nie.

    Daardie eerste weggaan was gehul in ’n waas van romantiek. Sy was dertig. Dan glo mens jy is sterk en kan die lewe goed hanteer. Sy was mooi; mooier as op twintig. Ervare genoeg om te weet wat sy wil hê en nie bang om dinge te doen nie. Omdat sy geglo het in haar waarde as mens, as vrou en as mediese dokter, was sy selfversekerd en het vinnig en met oortuiging besluite geneem. Sy het haarself eintlik verbaas vir die gemak (selfs grasie, het sy gedink) waarmee sy haar sake gereël het.

    Om haar uit haar werksituasie los te maak, was minder maklik. Sy het ’n brief geskryf waarin sy haar senior vennoot vra om onmiddellik die vennootskap te beëindig. Sy het die brief self oorhandig.

    “Wag, moenie loop nie,” het hy niksvermoedend en met ’n vonkel in sy oë gesê. “Laat ek sien wat so belangrik is dat jy dit moes neerskryf.”

    Sy het oor die stad uitgekyk terwyl hy lees. Ver onder haar het die vroegoggendverkeer soos altyd rusteloos beweeg en strate en hoë geboue was grys en swart hoekige patrone.

    “Mariaan, hoekom nou? Wat het jou nou so ’n drastiese besluit laat neem? Het daar iets gebeur?” Sy stem was baie sag.

    “Ons is in ’n doodloopstraat, Frans. Ek is die derde party,” het sy, ewe kalm, geantwoord.

    Vir ’n paar oomblikke het hy stil gesit en net na haar gekyk.

    “Ek weet jy neem jou eie besluite, jy moet ook, dis jou goeie reg. Ek het geen ware aanspraak op jou nie — ek het, hoop ek, nog altyd jou reg op selfbeskikking gerespekteer. Maar ek wil jou tog vra, dink weer, dink weer daaroor. Miskien het ek nie die reg om dit te vra nie, maar ek kan nie anders nie ...”

    “Natuurlik het jy die reg om te vra. Die afgelope vyf jaar gee jou die reg. Maar ek het klaar nagedink en besluit. Ek het al alles agtermekaar. Die brief is die laaste stap,” het sy hom onderbreek. “My meubels is geberg en my woonstel verhuur.”

    “Maar ons het jou hier nodig. Die praktyk het jou nodig, die pasiënte ken en vertrou jou. Jy weet daar is mense wat net vir jou wil sien. En ek, al skrei dit ten hemele ... jy weet ek kan nie sonder jou klaarkom nie.”

    “Nee, Frans, jy kan. Ek kan ook sonder jou aangaan. Jy weet ek het nie ’n ding soos hierdie gesoek nie. Jy ook nie. Dit het ons bekruip en ek wil wegkom voordat ek nie meer kan nie.”

    “Maar alles wat al gebeur het, die egskeiding, jy het tog vir Tobie verlaat oor ons?”

    “Ja, ek het besef dat ek hom nie meer liefhet of ooit weer sou kon liefhê nie, maar Frans, dit het nie aan ons situasie veel verander nie. Ek het hom nie liefgehad nie, ek behoort jou nie lief te hê nie. Ek sou dit nooit van myself geglo het as iemand tien jaar gelede vir my gesê het op twee en dertig gaan jy al vyf jaar lank ’n verhouding hê met ’n getroude man ...”.

    “Maar ... ja wel, ek weet nie eintlik wat om te sê nie.”

    “Help my om weg te gaan, maak dit vir my moontlik om iets anders te probeer. Wetlik kan ek jou seker nie so in die steek laat nie, maar jy sal ’n locum kan kry.”

    “Jy is en bly vir my onmisbaar, as kollega en as mens. En ek weet hoe belangrik jou werk vir jou is.”

    “Julle sal regkom, jy weet dit so goed soos ek. Die ontvangsdames weet alles van die rekords en die pasiënte. Ek het alles so afgerond as moontlik probeer kry. Julle sal nie sukkel nie.”

    “Mariaan, alles het tog goed gegaan tot nou. Suzette aanvaar die situasie en ek was tevrede om jou elke dag hier te hê. Ons het mekaar gereeld genoeg gesien. Ons kan die situasie hanteer. Ons kan nie help dat ons mekaar te laat leer ken het nie. Die tye is teen ons ...” En ’n oomblik later: “Jy het nog altyd verstaan dat ek my ander verantwoordelikhede nie sommer kan afskuif of nalaat nie. Daaroor het ons al gepraat en saamgestem. Is dit nou tog vir jou ’n probleem?”

    “Nee, dis veel meer as dit. Alles wat jy sê, is waar, maar ek het nog altyd gedink ek gaan met oop oë deur die lewe en nou weet ek nie meer nie. Ek moet uitvind waar ek wil heen.”

    “Ek weet ek kan jou nie keer nie. Ek weet jou vryheid, jou selfstandigheid is vir jou belangrik, maar jy gee tog ook vir my om ... ek kan my glad nie voorstel hoe ek sonder jou sal kan leef nie ...”

    Mariaan het tydens die hele gesprek óf by die venster uitgekyk óf na die plante en skilderye in die vertrek. Sy het na die deur gestap, haar hand op die knop gesit en toe het sy vir die eerste keer na Frans gekyk. Hy het agter die lessenaar gesit, ’n groot sterk man met iets verslae aan sy skouers en hartseer om sy mondhoeke.

    Sy het die deur agter haar toegetrek en begin hardloop, tot by haar motor in die parkeergarage. ’n Uur later het sy uit die stad gery op die lang pad na die suide.

    Sy het gestap en gestap op die wye wit strande en ure lank langs die see gesit. Sy het die riwwe skulpgruis lagie vir lagie afgevryf en deurgesoek. Met eindelose sorg het sy die heel skulpies in haar hand bymekaargemaak, hulle later uitgesoek in soorte en in aparte botteltjies gegooi. In die dorpie se skulpmuseum het sy die name gaan naslaan, trappies, dresdens, bruin en groen pampoentjies, babatoontjies en ander wittes en pienkes en bruines waarvan sy die name nie kon onthou nie. Sy het haar verwonder aan die volmaaktheid van selfs die kleinstes. Elke skulp is wat hy is selfs nog voor hy heeltemal skulp geword het. En hy groei juis in hierdie of daardie rotsrif.

    Laatmiddag het sy op die stoep van die familie se strandhuis gesit en kyk hoe die lug en die see mekaar weerkaats in die skemer. Party aande was alles silwer en pienk. Soms het die laaste sonstrale vlamme laat gloei op die rondings van die wolke. En dikwels het die liggrys lug en die grou water net saam donker geword. Dan het sy gedink oor die stad ver in die noorde, oor haar werk, oor Frans. Sy het ook gedink oor sy vrou, die skraal en statige Suzette wat werk in die universiteit se biblioteek.

    “Ek en Suzette is eintlik groot maats, was dit van die begin af, toe ons nog studente was,” het Frans op ’n keer gesê. “Maar sy is so ’n stram mens, sy kan dit eenvoudig nie help nie. As mense naby aan haar kom, word sy net strammer. Liefkosing is ook maar vir haar moeilik. Sy is broos, sy is bang vir dinge. Ek is die buffer tussen haar en die lewe.”

    Suzette was so afhanklik van Frans dat hy haar selfs moes help om klere te kies. Sonder uitsondering was Suzette met sy keuse tevrede. Niemand wat haar sien, sou kon glo dat dié elegante vrou, wat boonop hoogs gespesialiseerde werk doen, so onseker van haarself was op ’n persoonlike vlak nie. Sy was aan Frans toegewy met ’n liefde wat bewus van eie tekortkominge en byna verskonend was. Juis daarom so bindend.

    Mariaan het geluister en verstaan. Dis so ’n ou storie; net, vir hulle was dit nuut en uniek. Hierdie geval was anders, hulle was nie soos ander mense nie, hulle sou dit kon hanteer.

    Mariaan stap kamer toe en gaan sit op die bed, die groot dubbelbed in die middel van die kamer. Haar voete vroetel senuweeagtig in die lang hare van die sagte mat. Frans was lief vir die kamer in groen en room. “Dis so rustig en gemaklik. Alles hier by jou is gemaklik. In ons sitkamer is nie een stoel waarin ek kan ontspan nie. Hoe ons destyds daardie harde houtmeubels kon koop, weet ek nou glad nie. Die kussinkies wat Suzette laat maak het, is nog erger. Hulle lyk soos outydse treinkussings, sulke groen kanonkoeëls.”

    Dit voel nou vir haar asof die taaiheid wat sy oor jare opgebou het, haar nogtans nie toegerus het vir die finaliteit van vandag nie. Frans was tegelyk meer idealisties en aards as sy en hy het, hoewel met meewarigheid, beter as sy geweet wat kan en wat nie kan nie. Hy het ’n soort agting gehad vir wat mooi en goed was, omdat hy daarmee rekening gehou het dat verwagtinge oor mooi en goeie dinge maklik teleurgestel kon word. Kleure, geure en teksture, die vreugdes saam met Mariaan, was vir hom mooi en goed en hy het dit onbevange geniet. Goeie dinge is ’n gawe, eintlik ’n toegif, en daarom was dit vir hom vanselfsprekend dat ’n mens dit moet waardeer. Hy het min geredeneer en gespekuleer en hy Mariaan net liefgehad van oomblik tot oomblik. Dit was vir hom gewoon die vaste gegewe.

    Mariaan was van plan om werk te soek in die kusdorpie. Die weke het verbygegaan en sy het dit nie gedoen nie. Sy het na Frans verlang met toenemende intensiteit. Sy het ook haar werk gemis. Nutteloosheid was vir haar onnatuurlik, maar haar kapasiteit vir liefde, haar vermoë om te gee, was verlam. Die selfopgelegde passiwiteit het haar geknel, maar sy kon nie daaruit kom nie.

    Op ’n dag het sy deur ’n boek oor bome geblaai, gelees hoe bepaalde soorte bome groei op bepaalde plekke. In tropiese en subtropiese streke groei bome sterk en vinnig, die palms hoog en trots en ander bome soos die wildemango dra soveel groot en swaar blare dat die stam en takke weggesteek is. Die witpapierbaskanniedood is ’n seldsame boom wat in warm droë streke voorkom en wat verkies om op die onmoontlikste, rotsagtigste plekke te groei, teen steil hellings en kranse. Vandaar die sober skoonheid, yl vertakking, min uitlopers wat elke jaar gevorm word en fyn blare slegs aan die nuwe groei.

    Mariaan het die apiesdoringboom wat haar pa op die Hoëveld geplant het, onthou. Die boom het uiteindelik wel gegroei en ook regtig groot geword, maar elke jaar se byna dood van die ryp het die jong boom se stam met baie knoetse en letsels gemerk.

    Mense is net soos bome, het sy gedink, maar ’n mens is nie net een boom nie.

    Later het sy die hele dag lank en ook die grootste gedeelte van die nag met Frans gepraat. In haar gedagtes het sy briewe aan hom geskryf, liefdesbriewe vol hartstog en verlang, maar ook klabriewe en verwytbriewe. Sy het die omstandighede verwens wat gemaak het dat hulle nie ’n normale gelukkige lewe kon lei nie. Hoekom moes dit haar oorkom dat die beste en mooiste in haar lewe onaanvaarbaar is? Hoe beland ’n mens op ’n plek wat so ingewikkeld is? Sy het nooit gevoel dat sy keuses maak nie, te veel het asof vanself gebeur. Ook gewonder of ’n mens kan verwag om die reën en die gloed van jou wêreld te geniet, terwyl jy die storms en die brand wil vryspring.

    Terwyl sy het met haarself raas en redeneer, moes sy uiteindelik ook erken dat sy met haar weggaan Frans tot ’n besluit wou dwing. Die gedagte dat sy hom regtig kon verloor, was onuitstaanbaar.

    Sy het op die droë sand gehardloop tot haar kuite pyn en die sweet haar aftap. Om te kan slaap. Kaalvoet in die koue seewater geloop tot haar voete pyn en nog langer. Die heuwels deurgesoek na die bossie met die skerp kruiegeur. Besiggebly met nietighede soos vensters was, matte uitklop. Sy het snags musiek geluister en die emosie probeer besweer deur dit so intens moontlik te ervaar. Gehuil met Tsjaikowsky se viool, hartstogtelik en opstandig. Later weemoedig haar bewende middelrif vasgehou terwyl klein klankies improviseer en soek na ’n bevrydende kadans. Om te weet suiwer akkoorde duur ook net ’n kwartnoot lank. Sy het haar saam met Richard Strauss in ’n skemer wêreld van afskeid ingedink, na ontelbare dinge verlang terwyl sy soos die sopraanstem tussen sterre sweef. Telkens geweet ontvlugting duur nie.

    Elke oggend het die son weer verblindend oor die see opgekom. Soos die besef dat sy nie vergaan het van hartseer nie.

    * * *

    In die sewentiende eeu het vrouens wat deur hul minnaars verlaat is (toe is vrouens verlaat, hulle het nie verlaat nie), melankolies geraak. Melankolia en histeria het eeuelank die kernbestanddele van die emosionele repertoire van die standaardvrou uitgemaak (na ons verneem en soos Freud later ook met groot oortuiging beweer). Daar was vir die vroue van hierdie tyd min aanvaarbare maniere om smart te besweer. Dit wil voorkom asof hulle baie flou geword het, baie gehuil het en oor ’n goeie arsenaal van versmagtende gesigsuitdrukkings beskik het om aan die melankolie van hul sielelewe uiting te gee.

    Marianna Alcoforado het aan die geliefde wat haar in die steek gelaat het, briewe geskryf. Dit is nie seker of hy werklik haar minnaar was nie. Gesien die strenge opvattings oor kuisheid in die sewentiende eeu, is dit heeltemal moontlik, selfs waarskynlik, dat hulle nooit saam geslaap het nie. Aan die ander kant was die sewentiende-eeuse mense glad nie in die praktyk van die lewe so kuis as wat die kerk hulle sou wou gehad het nie.

    Wat ook al tussen Marianna en haar galante Fransman gebeur het (en dalk was haar jong lewensdrif sterker as die klooster se kuisheidsreëls), sy was aan hom verknog. Dit is nou volgens oorlewering en volgens die briewe. Die geliefde het gewoon weggegaan en Marianna in die klooster waar sy gewoon het, agtergelaat, sonder verduideliking en sonder waarskuwing. Sy kon hom nie volg of gaan soek nie. In die sewentiende eeu kon vrouens, veral jong meisies, nie alleen reis nie. Sy kon slegs vir hom briewe skryf — oor haar lewe sonder vooruitsigte en waarskynlik ook sonder hoop op sy terugkeer. Hierdie briewe, waarskynlik geskryf aan ’n Franse offisier, die Comte de Chamilly, later Maréchal de France, het wêreldberoemd geword.

    Marianna het die Fransman ontmoet ongeveer in l665. In l667 moes De Chamilly die stadjie Beja in die Suide van Portugal verlaat. Die afdeling Franse soldate onder sy bevel moes Portugal in sy oorlogspoging bystaan, maar die manier waarop hulle afleiding van hulle militêre pligte gevind het in die voornemende jong nonne en inwoners van die klooster van die Onbevlekte Ontvangenis, het gedreig om ’n internasionale skandaal te veroorsaak. Hulle het dus opdrag gekry om onverwyld terug te keer na Frankryk. Die opdrag was so onverbiddelik dat hulle dadelik moes vertrek, blykbaar sommer oornag.

    Marianna het agtergebly met ’n liefde wat deur Arthur van Schendel in die voorwoord by die Nederlandse vertaling van die briewe as “een zeer groote liefde” beskryf word.

    Marianna skryf toe aan die ontroue minnaar “getormenteerde” briewe. Eers beskryf sy haar verlorenheid. Sy vertel hoe sy van buitengewoon intense emosie flou geword het en liewer wou sterf van liefde. Later toe die Moeder Owerste haar uiteindelik sover kon kry om weer na buite te gaan, was sy by die aanskoue van die Mertolapoort gans oorstelp. Sy het hom soveel keer in al sy manlike skoonheid in dié poort gesien, dat sy die smartlike herinnering nie kon verduur nie. Sy het die res van daardie dag gehuil.

    Aanvanklik soek sy vir hom verskonings, maar later verwyt sy hom. Uiteindelik aanvaar sy die verraad en besluit om sonder die liefde voort te leef as ’n voorbeeldige en gelowige vrou. Hoewel die briewe bewys dat Marianna ’n groot stryd moes deurmaak, bereik sy tog in ’n groot mate haar ideaal, om naamlik te leef in ’n “vreedsamer” toestand wat bestaan in ’n lewe van liefdesdiens, vriendelikheid en gestrenge boetedoening. In die register van hierdie klooster staan aangeteken dat Marianna Alcoforado ’n voorbeeldige lewe gelei tot met haar dood op drie en tagtigjarige ouderdom.

    Die Franse uitgewer Barbin het die vyf briewe “in die hande” gekry, dit in Frans laat vertaal (met groot moeite! het hy verklaar) en dit gepubliseer. Die oorspronklikes in Portugees het na bewering verlore geraak en die briewe is eers in ongeveer l889 deur die letterkundige Luciano Cordeiro in Portugees terugvertaal.

    Vir die twintigste-eeuse vrou klink hierdie briewe, wat al as die mooiste Portugese teks uit die sewentiende eeu beskryf is, taamlik sielig en temerig. Maar, nou ja, Marianna was opvoedeling en inwoner van hierdie klooster vandat sy ’n klein dogtertjie was. Haar moeder is vroeg oorlede en haar vader het haar en ’n sustertjie in die sorg van die klooster geplaas. Om ’n non te word, sou vir haar nie ’n vreemde gedagte wees nie. Van keuses het sy waarskynlik min geweet en sekuriteit sou ook tel. Sy sou weet wat sy behoort te doen, wat die gemeenskap waarin sy leef van haar verwag. Die feit is dat in so ’n gemeenskap die geleentheid om iets anders te doen, gewoon nie bestaan het nie.

    * * * *

    Die vrou van die twintigste eeu kan kies. Sy glo sy kan en mag keuses maak en sy wil dit so hê dat sy oor hierdie vryheid beskik. Verstandige twintigste-eeuse mans begryp hierdie behoefte en gun vroue hierdie reg.

    Frans het dit ook so aan Mariaan gestel toe hy haar kom haal het. “Ek kan geen eise stel nie. Ek doen jou onreg op onreg aan omdat ek nie sonder jou kan leef nie. Maar ek kan nie anders as om jou te smeek nie: kom asseblief saam met my terug?”

    In die sagte swart van die nanag, terwyl Frans diep en ontspanne slaap, het Mariaan agter sy rug gelê. Sy het haar gesig gekoester tussen sy blaaie en sy het die geur van sy liggaam met elke asemteug ingeasem. Teen hom aangevly, vel teen vel, het sy die buiging van sy liggaam gevolg met haar ledemate tot waar haar voete om sy sole buig. Haar hand het gegly oor sy bo-arm, waar die fyn dun vel glad en syerig en los beweeg oor die harde spier, oor sy benerige heup, oor die growwe tekstuur van sy gespierde dy. Daar was ’n gevoel van volledigheid in haar, tekortkominge en verwyte het verdwyn in oorgawe. Sy was tuis en sy was héél.

    Sy het nie geslaap nie en geweet sy sou saam met hom teruggaan.

    Die stinkhoutboom groei uit die grond van Afrika en dra in sy groen blare en in die verborge vlamme in die hout van sy stam die helderheid van die son en die rykheid van die aarde waaruit hy groei. Sulke bome kan net leef onder blou lug, op warm bruin aarde en in geel sonlig.

    Frans was die warmte en glans van Mariaan se bruin oë, die gloed op haar wange en die veerkrag in haar spiere. Vir Frans was Mariaan daardie vrugbare plek waar die sagte ryk grond en die regte hoeveelheid warmte en vog die lieflike louheid gee waarin ’n boom kan gedy.

    Dat vrywillige verbondenheid bind op ’n duisend maniere, sou Mariaan inderdaad beleef. Daar was frustrasies, maar sy het gevoel sy kan alles verduur omdat sy seker was dit is ter wille van iets wat vir haar absoluut kosbaar is. Daar is bome wat groei in niks meer as ’n spatseltjie grond nie.

    So sou Mariaan vir tien jaar leef, van dag tot dag, elke dag soos wat hy te lewe was. Haar lewe was vol, daar was voldoening in haar werk, daar was haar mooi woonstel en haar klein tuintjie en daar was Frans. Hulle verhouding het gegroei en ontwikkel soos wat selfs min mense in ’n gelukkige huwelik dit ervaar. Daar was steeds geen sprake daarvan dat Frans Suzette en die kinders sou verlaat nie, en hy het geglo dat hy die hele situasie goed onder beheer het. Mariaan het haar pasiënte ontvang, gevra en geluister en behandel. Sy het hospitaalrondtes gedoen, geopereer, probleemgevalle met Frans bespreek, baie gelees en studeer om haar werk goed te kan doen.

    Voor elke winter het sy ranonkelbolle en pronkertjies geplant, sodat elke lente met kleur en geur ’n herlewing in haar tuin kon wees. Tog was die kern van haar bestaan steeds Frans en die oortuiging dat hulle verhouding heel spesiaal, anders, was as enige ander verhouding.

    Op ’n dag het Suzette haar voet neergesit . Waar sy nooit vir haarself kon opstaan nie, kon sy dit vir haar kinders, wat begin begryp wat aangaan, doen. Sy was onverbiddelik en het geëis dat Frans Mariaan nooit weer sien nie. Sy het Mariaan gebel en sonder omhaal van woorde haar saak gestel: “Jy weet dat Frans my nooit sal verlaat nie en dat hy jou ook nie wil los nie. Maar ek wil hê die situasie moet nou dadelik tot ’n einde kom. Jy moet dit vir hom moontlik maak.” Suzette het, ironies genoeg, nog altyd die situasie beheer. Sy kon die toutjies trek, want sy het die reg aan haar kant gehad.

    Mariaan sit nou en dink oor daardie tweede afskeid. Dit het sonder enige drama verloop. Sy het ’n hospitaalpos aanvaar en Frans het ’n ander vennoot gekry. Daar was net ’n skielike leegte, ’n stilte in haar lewe. Op twee en veertig het sy baie minder antwoorde gehad, sy was glad nie meer so seker wat regte en wat voorregte sou kon wees nie. Dit het gevoel asof haar lewe op ’n antiklimaks uitloop.

    Die oënskynlike gelykmatigheid van die skeiding was die stil oppervlak van ’n bodemlose swart meer. Al was sy nog mooi, het sy gevoel dat veertigjarige skoonheid nie regtig meer relevant kon wees nie. Daar was ’n broosheid in haar dunner-wordende vel, in die sigbaarder are op haar hande, en sy moes leer om daarby verby te kyk.

    Skielik het sy getwyfel aan haar bekwaamheid. Geleentheid vir ’n nuwe loopbaan was daar nie: nie met soveel uiters bekwame dertigjariges in die omgewing nie. Sy moes ook agterkom hoe sy Frans se ervaring en bekwaamheid altyd as ’n stut gehad het. Gevolglik het sy harder en harder gewerk, selfs harder as wat nodig was.

    En so het die dae tog maar weer in ’n patroon geval, ’n patroon waarin sy haarself met klein vreugdetjies aan die gang gehou het.

    Op ’n dag het sy en haar suster gesit en tee drink. Dit was ’n dag vir diep gesprekke.

    “ ’n Mens is seker maar self verantwoordelik vir die omstandighede van jou lewe. En tog het ek dit nie so beleef nie. Dit was vir my of dit vanself gebeur het, of dit wat gebeur het, onvermydelik was. Ek het ook nie spyt nie. En ek kan aangaan.”

    “Sou jy dit anders wou hê as jy weer kon kies? Dink jy jy sou ander besluite neem as jy alles kon oordoen? Voel jy skuldig?” het Heleen gevra.

    “Wat help dit om te bespiegel? Daar was soveel wat vir my intens goed was in dié jare..ek kan kwalik die swaarkry en die teleurstellings onthou. Nou is dit alles verby.”

    “ ’n Mens kan in elk geval nie weet hoe dinge sal uitwerk nie. Ek het die gewone dinge gedoen, gaan studeer, getrou en kinders gekry. Later weer begin werk om die pot aan die kook te probeer hou. Ek het ’n goeie man en oulike kinders, maar soms kou ek ook maar klippe, dit kan ek jou verseker,” het Heleen gesit en mymer.

    “Jy lyk dan vir my altyd so rustig en seker van jouself,” was Mariaan se verbaasde reaksie.

    “Ek word net partykeer so vreeslik moeg vir dinge. ’n Ma staan permanent verskeurd in haar lewe: sy moet regter speel as die kinders twis, sy moet die reëlings laat uitwerk, haar verpligtinge of voorkeure is op een of ander manier altyd laaste op die lys. Jy is mos die enigste veranderlike in ’n probleem wat verder net uit konstantes bestaan. Ek voel dikwels heeltemal leeg getap. En ek het na al die jare nog nie die regte antwoorde nie: hoe weet ’n vrou waar haar man en haar kinders se regte en voorregte ophou en haar eie begin?”

    Die son was warm en loom op hulle koppe. “Die feit van die saak is, ek het ook ’n aandeel in die patroon van ons lewe, al is dit net dat ek dit toelaat. En ek dink ook nie my man en kinders het enige bose intensies nie. Hoe weet mens wat gebeur vanself en wat laat jy gebeur. Buitendien sal ek, nes jy, dieselfde paadjie loop as ek weer kan kies.”

    Maar Mariaan het bly wonder oor keuses: ’n mens word sonder jou eie toedoen gebore in ’n land en die soort lig wat jy aanskou word deel van ’n permanente register in jou samestelling. Bepaal daardie lig, die behoefte aan ’n spesifieke soort lig, jou hele lewe?

    Soms het Mariaan vir Frans vlugtig en op ’n afstand gesien in die hospitaal. Hy was maerder en daar was nuwe lyne in sy gesig.

    * * * *

    Almal in dié afdeling van die eksklusiewe privaatverpleeginrigting weet dat die man in die groot enkelkamer baie siek is. Hy is aanvanklik in die hospitaal opgeneem vir ’n ondersoek, dit het uitgeloop op ’n operasie en intensiewe behandeling.

    Na ’n paar maande is hy weer opgeneem en dit was duidelik dat die siekte die oorhand begin kry. Hy is nie ’n maklike pasiënt nie. Sy toenemende afhanklikheid van die verpleegpersoneel val hom swaar. ’n Mens kan sien hy is gewoond daaraan om absoluut selfstandig te wees, maar dit word al hoe moeiliker.

    Hy is pynlik bewus van die daaglikse aftakeling van sy liggaam en as medikus weet hy presies wat vir hom voorlê. Dis net sy effe wrang humorsin wat hom en die verpleegsters in staat stel om die situasie met ’n mate van grasie en behoud van selfrespek te hanteer. Op sulke pasiënte is besoektye nie regtig van toepassing nie. Hy sou hom in elk geval nie daaraan steur nie.

    Elke aand laat, as sy laaste besoekers (gewoonlik sy vrou en dogter) vertrek het, maak hy ’n telefoonoproep. Hy het dit begin doen net nadat die finale uitslag van die toetse gekom het en dit duidelik was dat hy nie weer gesond sou word nie. ’n Rukkie later daag daar dan weer ’n besoeker by hom op. Sy sit by hom totdat hy slaap. As hy nie kan slaap nie, vertrek sy eers as die lug in die ooste dofweg begin skemer.

    Die verpleegsters wonder en skinder en droom oor hierdie vrou en haar rol in die siek man se lewe. Aand vir aand kom sy, streel oor sy arms en hare en gesels met hom in ’n sagte stem. Sy lag maklik en word skynbaar nie moeg nie.

    Die man se vrou is ’n statige mens, kalm en beheersd, en sover ’n mens kan aflei, is die verhouding tussen hulle doodnormaal. Sy kom tweekeer op ’n dag, soms driekeer. Sy bring vir hom boeke of bande of blomme, maar daaraan het hy skynbaar nie veel erg nie.

    Een aand voel hy so moeg dat hy die nagsuster vra om die oproep te maak. Sy doen dit, en ’n kwartier later sit die mooi vrou langs sy bed.

    Sy vrou is egter so bekommerd oor hom dat sy besluit om terug te gaan hospitaal toe. Toe sy die kamer binnekom, sien sy dadelik die ander vrou langs haar man se bed. Dié vrou hou haar man se hand met albei hare vas en sy halftoe oë rus op haar gesig. Haar oë rek van skok en ontsteltenis en haar stem slaan deur as sy vra: “Wat soek jy hier?”

    Die jonger vrou staan vinnig op, haar wange onmiddellik gloeiend. Ontredderd en verleë trap sy half agteruit asof sy koes.

    “Ek kon nie weier nie, ek wou nie weier nie ... hy het my nodig, hy is so siek,” stamel sy.

    “Gaan hier weg!” sê die ouer vrou met stywe lippe. “Jy het geen reg om hier te wees nie. Gaan onmiddellik weg!”

    Die doodsiek man lê tussen die twee vroue met vlammende gesigte en al wat hy kan dink is, kop aan kop, na al die jare kop aan kop.

    “Suzette, bedaar maar, bedaar maar, daar is geen rede om oor ’n kadawer soos ek te baklei nie,” sê hy sag, maar hy weet uiteindelik dat hy glad nie in beheer is nie, waarskynlik nog nooit was nie.

    “Ek loop dadelik.” Die jonger vrou raak vlugtig aan die man se gesig en stap vinnig en regop die gang af. Sy gaan nie weer na die hospitaal toe nie.

    Die volgende nag vra die man die nagsuster om die vrou te laat weet as hy doodgaan.

    Twee nagte later sterf hy net voor dagbreek.

    * * *

    Die outentisiteit van die briewe van Marianna Alcoforado kon nooit bo alle twyfel vasgestel word nie.

    Of die briewe inderdaad aan De Chamilly gerig was, kon nie bewys word nie. De Chamilly het wel nooit ontken dat die briewe aan hom geskryf was nie en was heel trots op die reputasie wat die briewe vir hom geskep het. ’n Mens moet darem onthou, nie enige man kan so ’n oorweldigende passie in ’n vrou inspireer nie.

    In 1926 beweer prof. F.C. Green van Cambridge dat die briewe vervalsings was. Die vele taalkundige onduidelikhede en vaaghede, wat nog altyd toegeskryf is aan die feit dat die briewe van meet af aan vertalings was, het hom skepties laat staan teenoor die aanvaarde opvattings. Die briewe vertoon ook die struktuur en styl wat tipies was van die skryfsels uit die Franse salons van die tyd. Die sogenaamde vertaler, die graaf Lavergne de Guilleragues, was volgens prof. Green waarskynlik die skrywer van die briewe. Guilleragues het nogal heelwat kontak met Franse skrywers van sy tyd gehad, mense soos Racine en Moliére en Boileau, en hy was ’n geëerde gas in die Paryse salons.

    Prof. A.G.Rodrigues stem in l944 hiermee saam. Maar ook hierdie teorieë kon nie bo alle twyfel bewys word nie, en Luciano Cordeiro het buitendien die akte van Marianna se geboorte en dood opgespoor. Hierdie vrou het inderdaad in die klooster van Beja geleef en sy het inderdaad 83 jaar oud geword.

    Of Marianna die skryfster van die briewe was, of sy werklik haar liefdesmart beleef het soos wat dit in die briewe staan, sal niemand nou weet nie. Die briewe was miskien die figment van ’n man se (ydel) verbeelding, ’n poging om aandag te trek of om geld te maak. Al wat seker is, is dat die naam van Marianna van Alcoforado en die klooster van die Onbevlekte Ontvangenis in Beja dokumentêr aan mekaar gekoppel is. Net soos die Comte de Chamilly inderdaad ’n soldaat was in die stadjie Beja tussen l665 en 1667.

    * * *

    Deur die lang ure van die dag na Frans se dood dink Mariaan al hoe meer aan Suzette.

    Sy weet sy sal nooit openlik oor Frans kan treur nie. Sy is en bly die ander vrou. Sy sal nie vertroos word deur vriende nie en haar smart kan sy met niemand deel nie. Die weduwee word vertroos, sy en haar kinders sal die man begrawe. Hieroor is Mariaan nie bitter nie, sy is gewoond daaraan om Frans te deel.

    Maar sy dink al hoe meer daaraan dat sy en Suzette eintlik veel gemeen het. Hulle het altwee geweet dat die laaste jare van Frans se lewe weemoedig was en ’n weemoedige man breek ’n vrou se hart. Die konfrontasie in die hospitaal kwel haar ook. Sy wil vir Suzette sê dat daar ’n deel van Frans was waartoe sy nooit toegang gehad het nie. Sy en Suzette het albei tweede gekom en Frans was, ten spyte daarvan dat hy geglo het die onkonvensionele opset kon werk, ’n man verskeur tussen twee wêrelde.

    Laat die middag toe die son in ’n verskriklike geel gloed teen die rokerige herfslug ondergaan, ry Mariaan na Suzette en Frans se huis. Ten spyte van drie geparkeerde motors voor die motorhuis hang daar ’n gedempte stilte oor die huis, asof die plek iets weet.

    Mariaan was nog nooit in die huis nie; sy besef dat sy nie eens weet hoe Frans se kinders lyk nie. ’n Jong vrou maak die deur oop.

    “Ek wil graag met mev. De Klerk praat. Is dit moontlik?”

    “My ma voel nie lekker nie, sy het ’n bietjie gaan lê. Ek sal haar gaan vra of sy kans sien om met u te praat. Wie moet ek sê is hier?”

    “Sê maar net Mariaan ...”

    “Kom sit gerus solank hier in die studeerkamer. Die familie is almal daar in die sitkamer.”

    Mariaan stap in die studeerkamer in. Daar is ’n groot lessenaar met ’n draaistoel, rakke teen die mure en donker gordyne. Daar is net een ander stoel, ’n swaar outydse houtstoel met swart kunsleerkussings. Instinktief probeer sy iets van Frans in die kamer vind, iets van die man wat so ’n vreugde kon hê aan sintuiglikheid, iets van die warmte van die mens wat sy geken het.

    Skuins agter die lessenaar staan ’n foto op die rak. Dit is onmiskenbaar Suzette. Mariaan voel asof sy iets onbehoorliks sien. ’n Koue kruip oor haar arms. Daar is ’n wasige stola om Suzette se naakte skouers gedrapeer. Haar kop is agteroorgegooi en haar hare weggeborsel uit haar gesig. Maar die foto is ’n travestie van sensuele oorgawe. Die fyn skouers is gespanne opgetrek sodat die sleutelbene prominent uitstaan. Die nek buig strak agteroor sodat die senings wys en die ken steek skerp in die lug. Die mooigevormde lippe is te donker geverf en in ’n verbete glimlaggie getrek. In die donker oë is daar desperaatheid en wanhoop.

    Toe Suzette se dogter terugkom, staan Mariaan al by die deur. “My ma maak verskoning, maar sy sien eintlik nie kans om nou iemand te ontvang nie ...”

    “Ek verstaan ... los maar ...”

    Inderdaad is daar niks te sê nie. Dié nag word stil, tydloos en baie donker. Flardes van herinneringe dryf deur haar kop, maar die verbande bly haar ontwyk. Die onsamehangende verlede word ’n vermoeiende visioen.

    In die absolute eensame uur voor dagbreek dink sy: “Hierdie aandadigheid teenoor mekaar, wat maak ek daarmee?”

    Twee dae later besef sy dat dit tyd is om die pronkertjies en ranonkelbolle te plant. Sy doen dit dadelik, plant die klein droë bolletjies in die droë grond, gooi alles nat en laat die groei aan die aarde oor.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.