NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hanru Niemand
(oorspronklik van die Paarl) is tans ’n tweedejaar-Sielkundestudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy hou egter vol dat enige ooreenkomste tussen laasgenoemde universiteit en “StudenteDorp” bloot toevallig is. “Die Verhale van Jacobus Grimm” is sy eerste gepubliseerde werk.
  Hanru Niemand


Deel I: Danté staan sy man
Deel II: Pionnespel

Die koms van Die Jollie Bobbejaan

Hanru Niemand

III: Hoera vir die Jollie Bobbejaan!

“Pig,” sis Joan Black oor die donker tafel na Rob.

“Bitch.”

Met dié ruk sy haar yoghurt-kannetjie uit en spring op en oor die tafel, om Rob vol teen die kop daarmee te tref. Haar offisiere ruk ook hul kannetjies uit en begin om Evans en Cummings, Rob se twee “sekretarisse”, te takel.

Dis nou vir jou ’n fokken goeie begin, dink Jacobus, terwyl hy die “sekretarisse” gaan roep om hulp te ontbied (want dit voel soos ’n oormag Yoghurt Susters). Intussen is Ryna besig om te probeer om die klomp uitmekaar te hou met netjiese skoppe en houe van haar versteekte knuppeltjie, soos sy geleer is in die BeskermingDiens Akademie. (Sy dra die knuppeltjie altyd as sy saans uitgaan,veral noudat die pepper spray-man uit besigheid is.) Met die hulp van die “sekretarisse” word die Yoghurt Susters onder beheer gebring, en hul kannetjies gekonfiskeer. Ryna vee die bloed uit haar mondhoek. “Gaan ons almal nou mooi saamwerk?”

“Pig,” spoeg Joan Black in Rob se rigting. Hy glimlag net, en swaai die klos hare wat hy uit haar kopvel uitgetrek het.

“Kan ons nou asseblief net begin?!” Ryna lyk ontsteld. En sy’t haar pistool uitgeruk.

“OK,” sê almal. Jacobus vermoed dis ’n strategie wat sy geleer het in die Akademie.

“Soos julle almal teen dié tyd weet, is die plan om Die Jollie Bobbejaan te bevry. Wat julle nie weet nie, is dat die Duif Eenheid gesetel is op dieselfde plaas waar hy aangehou word, hier agter Die Bult. Julle vergader 13:00 op die plein. Die BeskermingDiens werk nie oor middagete nie, so ons behoort nie opgemerk te word nie. Jacobus sal die wapens, wat ek vooraf vir hom gee, uitdeel, en hy sal dan vir julle die padkaart gee. Julle behoort my dan daar te kry. As julle teen 13:25 nog nie daar is nie, draai om. Abort mission. Enigiemand wat nie verstaan nie?” As sy kwaad is, praat sy altyd Afrikaans met Engelse mense. Hulle knik hul koppe.

Manskap De Wet sit die telefoon neer en stap na die elf manskappe onder sy bevel. “Ons het sopas ’n tip-off gekry. ’n Poging tot diefstal,” en hy benadruk “poging” met ’n meewarige glimlag, “gaan om 14:00 môremiddag plaasvind by Agter die Bult Duif- en Bobbejaanboerdery. Ons moet sorg dat ons 13:30 daar is, om ’n lokval op te stel.” Die jong dosyn manskappe, pas uit die Akademie, dink gretig aan hul eerste arrestasie.

Die twee kombi’s vol onderskeidelik Bloubaarde en Yoghurt Susters ry om 13:20 verby die bordjie wat sê Agter die Bult Duif- en Bobbejaanboerdery, JPDF van Aswegen. It’s the perfect cover, dink hulle.

“Jy’t gesê die bobbejaan sal iets kan sê,” kla Ryna by Daan van Aswegen.

“Juffrou, hierdie bobbejaan is die makste wat jy sal kry. Kyk, hy glimlag permanent en hy kan onophoudelik dans met sy duime in die lug.” Daan probeer die dans duidelikheidshalwe naboots, met min sukses. “En jy kan hom roep met dié fluitjie.” Hy bring ’n pers fluitjie te voorskyn.

Ryna is nog nie klaar nie. Sy pruil mooi soos ’n soet, wulpse dogter en poseer met haar heupe eenkant toe: “Maar jy’t gesê hy sal iets kan sê.” Dit was juis onder sulke omstandighede dat Daan hierdie onbesonne belofte gemaak het.

“Ek sê jou wat, juffrou, vir die prys van die bobbejaan alleen gee ek die goue ring, die goue ketting om sy nek, en die beblomde syhemp saam. Die bell-bottom kry jy ook verniet.” ’n Blink idee tref hom: “En met die syhemp oopgeknoop het hy mos instantly borshare! Wat meer kan jy voor vra?” en hy voeg effens onseker by: “Vrouens is mos mal oor borshare ...” en hy vryf so liggies oor syne wat welig groei bo sy oopgeknoopte hemp, wat net-net sy boep in toom hou.

Ryna slaan toe. Sy wieg na hom toe, streel met haar naels deur sy borshare en sê: “O ja, jy’s reg,” en soen hom.

“Ek sê jou wat, juffrou, 20% afslag.”

“OK,” sê sy en druk die note in sy broekrek in. Hy glimlag verleë en kam vinnig deur sy yl olierige hare wat lank genoeg is om agter op te wip. Hy wil nog die meisie innooi vir ’n koppietjie koffie (hy’s so eensaam hier op sy plaas) toe Ryna die kombi’s sien aankom. “Vinnig, in die huis in, oubaas,” byt sy. Sy kyk op haar horlosie terwyl sy hulle inwag. 13:23. Hulle stop voor haar op die stowwerige werf. Dis droog vanjaar, en ’n ligte windjie waai die stof rond.

“So where are they?” vra een trigger-happy Bloubaard toe hy uitklim.

“Still out for lunch,” lag sy. “What we do now is free Die Jollie Bobbejaan. And get him in one of the combi’s before they come back.” Hulle loop na die hok, die Bloubaarde en Susters haastig, Ryna rustig. Hulle’t nogal vinnig gery, dink sy. Twee minute vroeg. Sy sluit die hok oop. Die Jollie Bobbejaan wals daaruit, flambojant in sy beblomde broek en hemp, en hou sy duime in ’n thumbs up posisie. Hy glimlag breed. Een van die Bloubaarde klop hom op die skouer, wat styf span onder die beblomde syhemp, en sê: “Howzit, brother. We’ve come to get you.”

“Duh!” antwoord die Susters in ’n koor, hul swart uniforms silwerskoon. Ryna gee al twee groepe net een kyk, en almal raak stil. Die Jollie Bobbejaan glimlag breed. Hulle stap na die kar.

“Shit, brother, it must’ve been kak to sit in that cage all the time, heh?” Die Jollie Bobbejaan glimlag breed. “And still so positive!”

Ryna kyk op haar horlosie. 13:27. “What we do now is open all the birdcages. That will ruin the unit,” sê sy.

“Sounds like a good idea to me,” sê Rob. Hulle loop almal saam af, Ryna met die sleutels vir die hokke wat swaai om haar vinger.

13:29. Die BeskermingDiens-voertuig kom tot ’n stilstand op die werf. Hier is fout, sien Manskap De Wet dadelik: vyftien tot twintig gewapendes wat die duiwe probeer steel. Bloubaarde én Yoghurt Susters. En wat maak Agent Roux daar? Hy besef dat hulle net ’n dosyn manskappe is wat met knuppels gewapen is. Hy weet wat hom te doen staan. Shit, en hy wou so graag sy eerste arrestasie gemaak het. “Manne, ons is in die moeilikheid!” roep hy agtertoe. “Ons sal moet terugval.” Sy woorde is nog nie koud nie of die gewapendes begin vuur. In sy truspieëltjie sien hy hoe Manskappe Briers, Viljee en Duvenhage se koppe agteroor ruk, voor hy die voertuig in rat sit. Maar voor hy kan wegtrek, tref ’n skoot hom in sy regterskouer, dan sy linkerskouer. Dan in sy nek. Hy sak af in sy stoel. Sy voet verslap van die petrol af. Die laaste ding wat hy sien is hoe die vet plaaseienaar verward buitentoe hardloop, en een van die gewapendes in ’n swart uniform hom afmaai. Dan is dit swart.

Ryna loop met haar geweer rondom die BeskermingDiens-voertuig. Sy ruk skielik die deur oop, gereed om te vuur. Dan verslap sy. “Al twaalf dood,” sê sy. “Kom ons ry.”

Ek moes die bobbejaan lankal laat skiet het, dink Die Sersant Daan Dupisani. Aan die ander kant: ek het al probeer. Maar die bobbejaan is slim, en rats. Hoeveel keer het hy nie al in die skare ingedop net voor die manskap die sneller trek nie. Om te dink dat mens ’n skerpskutter moet aanstel om ’n bobbejaan te skiet, iets wat ’n boer as deel van sy irriterende pligte beskou. Dit alles dink Die Sersant terwyl hy deur die enorme venster van sy kantoor op die veertiende verdieping kyk. Hy kan basies die hele StudenteDorp sien vanuit sy kantoor in Administrasie A, die hoogste gebou in die dorp. Die Sersant kyk bekommerd na die konstruksiewerk aan Administrasie B, sy magnum opus. Dit sal by voltooiing die grootste gebou in die dorp wees, met nie minder as vyftien verdiepings nie. Gewoonlik sou die blik hierop hom troos, tevrede stel, maar hy kan nie langer ignoreer wat op die plein daaronder gebeur nie. Vyf en twintig jaar nou al, dink hy, staan ek hier. En nog nooit het ek soveel moeilikheid gehad as die afgelope jaar nie. Eers die blues, wat ek ondergrond moes dwing, toe die Yoghurt Susters, toe Danté en sy Makkers, en nou dié gedierte. Hy sien vanuit sy venster hoe Die Jollie Bobbejaan in die StudenteSentrum inwals, duime in die lug en ’n breë glimlag op sy gesig, met ’n groot skare mense wat agter hom aandans. Soos die Rottevanger van Hamlin, dink hy. En dan tref dit hom: Die Jollie Bobbejaan is maar nog net twee dae hier, en hy’t al klaar ’n kultus-aanhang. As dinge enigsins langer so aanhou, sal hy genoeg steun hê om die BeskermingDiens se gesag geheel en al te verontagsaam. “Môre,” prewel Die Sersant, “môre sal jy sterf, Jollie Bobbejaan.” Hy beveel Byleveld om die skerpskutter in te roep.

Jacobus Grimm sit by sy tafel waar hy altyd sit. Hy drink sy koffie. Vandag is dit nie ’n kwessie of die rugbykykende massa hom sien nie - almal is weg. Selfs Danté en sy Makkers is afwesig. Dit voel vir Jacobus of iets skort. Tog, gewoonlik is die klomp hier rondom hom, en later die skermutselings, ’n irritasie; die rugbykykende massa wat hom ignoreer somtyds aanleiding tot een of ander eksistensiële krisis. So, hoekom het jy altyd teruggekom, Jacobus? vra hy homself. Ek weet nie, antwoord hy homself, of, ek weet nie meer nie. En Marlene, is selfs sý meegesleur in Die Jollie Bobbejaan se veldtog? Het sy deel geword van ’n groter, meesterprotes? Is sy dan nou geïntegreer? Het sy dan nou ’n vol mond tande? Ja, Die Jollie Bobbejaan het baie dinge verander, dink Jacobus. Maar hy is onrustig oor die vent, al van die begin af. Dalk het dit te doen met die feit dat sy ontsnapping ’n dosyn lewens gekos het, al is dit BeskermingDiens Manskappe. Dalk is dit die feit dat hy nooit iets sê nie? Hy is die volmaakte politikus, dink Jacobus. Mense is mal oor iemand wat ’n beblomde syhemp dra, iemand wat altyd lag, iemand wat altyd dans in die strate met sy duime in die lug. Wat meer is, vrouens hou van ouens met borshare en ouens wat soos bobbejane lyk. Wie beter om vir ’n leier te hê as iemand wat in die strate ronddans met ’n positiewe houding, met stylvolle syhemde en manlike (dog sensitiewe) borshare. Dis tog voor die hand liggend. En niemand kan ’n vinger na hom wys en sê dat hy leë beloftes maak nie. Maar hy hou nie van die vent nie. Dalk omdat hy hom glad nie snaaks vind nie. Want vir wie sal hy lag as die staatsgreep afkom soos beplan en Die Jollie Bobbejaan gemoedelik die regering behartig. Wat gaan hy doen, elke dag om die StudenteSentrum dans, en almal vervuld laat? En nooit meer Danté wat skitterende wawiele maak, sy swart puntbaardjie streel en sy syserp driftig om sy nek gooi nie. Nee, die Danté’s en Marlene’s sal volledig deel van die groep agterdansers wees. Jacobus moet egter erken dat die Marlene-loosheid van die stilte sy ore welgeval.

Buite die StudenteSentrum dans Die Jollie Bobbejaan. Danté en sy Makkers dans in ’n kring rondom hom. Dit is Griekse Week vir Danté en sy Makkers. Heel week al, net voordat hulle met ’n reeks skitterende wawiele begin, maak hulle almal eers ’n kring en dans in die rondte. Hulle breek dan gewoonlik twee stelle borde. Die eerste stel breek hulle op die vloer, die tweede op mekaar se koppe, om Danté se pynvolle verlede te herdenk. Mens moet immers die verlede ken, sê hulle. Nou is dit ook nie anders nie. Die Jollie Bobbejaan glimlag breed terwyl die rooi-en-wit strepe van Danté en sy Makkers om hom draai soos ’n suikerstok. As die borde breek gaan ruik hy daaraan, en gaan dan voort om te dans. “Kyk net die kabbeling van sy spiere,” sê Danté, duidelik beïndruk, en vryf sy swart puntbaardjie tussen duim en voorvinger, soos hy altyd maak as hy beïndruk is.

“Absoluut enkeld dier,” stem een van die Makkers wellustig saam, en vryf sy swart puntbaardjie tussen duim en voorvinger, soos hy altyd maak as hy wellustig is. “He must be an animal in bed.”

En so dans die spul, totdat die res van sy massiewe gevolg jaloers begin raak. Danté en sy Makkers mag tog nie Die Jollie Bobbejaan vir hulself hou deur in ’n kring rondom hom te dans nie. Marlene druk haarself deur die gedrang en skree heeltyd “Shut up! Shut up!” en somtyds “Gee my ’n muffin!” Die mense ken al vir Marlene so, maar weet nog steeds nie of sy dié bevele op Die Jollie Bobbejaan rig nie, of “Gee my ’n muffin” nie dalk ’n Freudian slip is nie. Want sjoe, Die Jollie Bobbejaan het darem vir jou mooi borshare, hoor! Mens sou haar eintlik nie kon kwalik neem nie.

Agter Die Jollie Bobbejaan aan dans die menigte en sing “olê! olê! olê!”. Die Jollie Bobbejaan glimlag breed. Marlene beweeg soos ’n kanonkoeël voort en maak sulke vet amandla-vuisies as sy “dans”. Aan die rand van die plein waardeur die menigte nou dans, staan ’n dosyn manskappe van die BeskermingDiens. Hulle weet nie wat om te doen nie. Al wat hulle kan doen is om hulp te ontbied. Intussen het hulle hul “riot-formasie” ingeneem, soos hulle geleer is in die BeskermingDiens Akademie. Sedert Manskap De Wet se dosyn gesneuwel het, is die manskappe oor die algemeen meer senuweeagtig. Wat gebeur as iemand die dag ’n pistool in Marlene se hand stop? Hulle riot-uniforms sal nie dit kan keer nie. Dit sal ’n bloedbad wees. Alle Afrikaners, alle rugbyspelers, almal wat nie dink nie, almal wat enigsins van Plato gehou het in een of ander onbesonne adolessente stadium, almal wat ondeurdagte woorde soos “mitsdien” gebruik, en (veral) alle BeskermingDiens Manskappe. Almal teikens. Hulle klou verbete aan hul effens langer swart knuppels (BeskermingDiens Spesiale Uitgawe Riot-knuppels). Hul kneukels span wit daarom. Vroeër het die manskap in bevel met sy BeskermingDiens Spesiale Uitgawe Kryt (spesiaal ontwerp om op absoluut alle oppervlaktes strepe te trek) op die grond ’n wit streep getrek, net voor die voorste manskappe se voete. “Laat hulle net dié lyn oorsteek, manne, dan gaan ons tot aksie oor,” sê hy, wel wetend dat die menigte in die teenoorgestelde rigting beweeg, in die StudenteSentrum in.

Jacobus bemerk Rob, Ryna en Joan Black wat uit die verskillende uithoeke van die StudenteSentrum na sy tafel aangestap kom. Hy ruk uit sy beswyming uit, en begin hom instel op die vergadering wat wag. Sy soen hom met haar aankoms. “Hallo, skat.”

“Hallo, lief.”

Met Rob en Joan Black in die prentjie raak dinge ’n bietjie meer formeel. “OK, let’s get down to business,” sê Ryna. “As you’ve probably noticed -”

“Yes, we who live above ground did. I don’t know about you, Rob.”

“O, shut up,” sê Rob.

“Could we please get on with this? As I was trying to say, Die Jollie Bobbejaan’s support is growing geometrically. By tomorrow he’ll have enough support for us to take Administrasie A by military means.”

“Why not wait longer, to make the need for violence less?” vra Rob.

“Always the bloody pacifist, aren’t you?”

“My, aren’t we sexually frustrated today.”

Ryna bring haar pistool te voorskyn. “OK. Hier’s wat gaan gebeur. Julle twee hou op, of ek blaas eenvoudig julle breins uit oor hierdie kitch plastic tafels agter julle.” Sy skep asem. “We can’t wait any longer, because Die Sersant is constantly trying to assassinate him. One of these days he might get lucky. Tomorrow at 13:00 I need you to bring as many men and women as possible. Jacobus will supply the weapons. I will be inside the building. When the door is blasted open, that will be your sign to storm the building. Once inside, you’ll have to work your way up to the fourteenth floor. Die Sersant’s office. I’ll see you all tomorrow.” En hulle staan op. Môre, dink Jacobus Grimm grim.

13:00. Vanwaar Jacobus en die sowat vyftig gewapende Bloubaarde en Yoghurt Susters agter die struike naby Administrasie A ( met Adminstrasie B reg langsaan) sit en wag, gewaar hy die menigte aankom. Hy kan sien hoe hulle almal YMCA sing, en die gepaardgaande handbewegings maak. Die Jollie Bobbejaan dans met sy duime in die lug en glimlag breed. Hy maak nie die YMCA-bewegings nie. Hulle pyl reg op Administrasie B af, dink Jacobus. Maar wag, laat ek my liewers by die aanval bepaal, dink hy. Gisteraand het Ryna in sy arms vir hom gesê: “Jacobus, ek wil hê jy moet die stormloop lei. Jy’s al een wat al in Administrasie A was, die dag toe jy gearresteer is.” Hy glimlag. Hy onthou dit nog soos gister. Hy wil vir Ryna sê dat dit regtig nie so moeilik is om ’n mens se pad te vind deur Administrasie A boontoe nie. Jy vat net die hyser op, dan’s jy op die veertiende vloer, so maklik soos dit. Maar hy is te trots op die waarde wat sy aan hom heg, te gevlei deur die feit dat sy sy arrestasie onthou om vir haar te sê dat enige idioot die die pad boontoe sou kon vind. Dan bemerk hy die drie dosyn manskappe wat buite Adminstrasie A stelling ingeneem het. Elkeen met ’n geweer. Dit was nie in die beplanning nie, dink Jacobus bekommerd. Hy het nog nooit ’n geweer gevuur nie.

Vanuit sy kantoor bekyk Die Sersant en Ryna die optog van die menigte. “Goeie idee om die gewapende manskappe onder uit te plaas, Agent Roux. Wanneer kom jy weer in aanmerking vir bevordering?”

“O, binnekort, Sersant,” sê sy en glimlag. Sy blaas ongemerk weer die fluitjie wat Die Jollie Bobbejaan roep.

“Lastige bloody bobbejaan,” prewel Die Sersant as Die Jollie Bobbejaan begin om Administrasie B te klim.

Die skare is in vervoering. “Die Jollie Bobbejaan klim Adminstrasie B!” roep talle opgewonde.

“So haastig!” uiter een van Danté se Makkers, en vryf sy swart puntbaardjie tussen duim en voorvinger, soos hy altyd maak as hy wellustig is. Op en op klouter Die Jollie Bobbejaan rats. Dit is Marlene wat eerste skree, so helder soos ’n skoot op ’n windstil vlakte: “Hoera vir Die Jollie Bobbejaan!” Sy bal haar vet amandla-vuisies. Die res van die skare volg haar voorbeeld na, en gou dreunsing almal: “Hoera vir Die Jollie Bobbejaan! Hoera vir Die Jollie Bobbejaan!” Intussen kry die skerpskutter Die Jollie Bobbejaan in sy visier. As die bobbejaan net wil stilstaan, dink hy. Maar daar’s nie tyd nie. Hy moet ’n skoot waag. Hy trek die sneller. Die koeël trek stil en sierlik deur die lug en tref die muur net langs Die Jollie Bobbejaan dat die stof opslaan. Hy skrik so groot dat hy vergeet om breed te glimlag en roep hard uit: “Boggom!” Almal hoor dit. Dit raak stil soos die mense verward na mekaar kyk. Dan, asof hulle telepaties konsensus bereik het, word die dreunsang verander in ’n nuwe kreet.

“Boggom! Boggom! Boggom!” slinger die mense hul proteskreet die lug in.

Die skare word uit hul kreet uit geruk deur die ontploffing wat Administrasie A se deure oopblaas. Die manskappe is verward. Jacobus-hulle storm. Beide kante trek los met geweervuur. Een van die eerste skote tref Jacobus in die been. Hy val onmiddellik. Hy sien hoe die Bloubaarde en Yoghurt Susters een vir een inmekaartuimel. Maar uiteindelik is hulle te veel. Rob en Joan Black is onder die ses wat dit tot by die deur maak. Hulle kyk onseker terug na Jacobus. “Net op met die hyser!” skree hy in pyn. ’n Tweede koeël het hom met ’n dwaalskoot in sy regterhand getref.

“Moenie bekommerd wees nie, Sersant. Hulle sal nie by jou kan uitkom nie,” sê Ryna en haal ’n reusemasjiengeweer uit Die Sersant se kluis.

Byleveld hoor Agent Roux se woorde oor die interkom. Sy het hom al baie keer uitgevang dat hy afluister, maar met die gewere en alles kry sy nuuskierigheid die oorhand. En met die woorde kliek iets onheilspellends in Byleveld. Hy moet dadelik na sy broer, Byleveld, in die Argief gaan.

Op met die hyser gaan die oorblywende ses. Hulle wag gespanne, met hul gewere gereed in hul hande, vir die deur om oop te gaan op die veertiende vloer. Die deur se klokkie maak “pieng”. Oop gaan die deur, en Ryna wag die ses in met die masjiengeweer se loop teruggeslinger oor haar gespierde skouer. Sy staan met haar heupe eenkant toe geposeer, en met ’n uitdagende glimlag op haar gesig, asof sy uit een of ander geweertydskrif se swimsuit edition kom. Sy sien hoe die Bloubaarde en sommige van die Yoghurt Susters na haar kyk. Oorlog en seks, dink sy, werk só goed saam.

“You gave us a fright there, sister,” sê Rob. “Almost thought you were another manskap.”

“Perish the thought. Now follow me to the office. He’s sitting there like a, well, sitting duck. I’ll kick open the door, and take care of your rear. You just do what comes naturally.”

“Sounds good to me.” Die sewe loop na die deur toe. Joan Black is swaar gewond en strompel woordeloos saam. Haar swart uniform is vol bloed.

“Here we go,” sê Ryna. Sy skop die deur oop. Die ses bars die kantoor in. Voordat hulle kan uitpluis waar Die Sersant hom in die groot kantoor bevind, skiet Ryna met een sarsie van die reusemasjiengeweer al ses in die rug. Hulle val vooroor. Sy laat reën nog ’n sarsie op hul neer, net om seker te maak. Die Sersant kruip agter sy lessenaar uit, en kom orent.

“Uitmuntende werk, Speurder Roux, baie dankie. Ek sal seker maak daardie bevordering kom, selfs gouer as wat jy verwag het.”

“Dankie, Sersant. Ek waardeer dit,” sê sy, en maak die magasyn op hom leeg. Sy stap oor na sy lyk. Sy haal sy vlieëplak uit sy hand uit, en sit dit op sy lessenaar neer. Dan trek sy sy handskoene uit, en trek dit self aan. Sy pak die lyk beet en gooi dit deur die venster. Nog een ding, dink sy, en delg met ’n netjiese hou van die vlieëplak (soos sy in die BeskermingDiens Akademie geleer is) die ongelukkige vlieg uit wat dit in haar teenwoordigheid gewaag het.

Die Jollie Bobbejaan het tot op die toppunt van die konstruksiewerk van Administrasie B gevorder. Hy dans met sy duime in die lug, en glimlag breed. Elke nou en dan roep hy “Boggom!” en die skare skree terug “Boggom!” Almal juig as Die Sersant soos ’n sak patats op die grond neerplof. “Boggom!” roep Die Jollie Bobbejaan. En die besef tref Jacobus soos die twee koeëls wat hom gewond het. Die vent is letterlik ’n bobbejaan! Hy sien die skare wat op en af hop soos hulle dans. Hy sien Marlene wat skree “Hoera vir Die Jollie Bobbejaan,” en met vet amandla-vuisies die lug slaan. Hy sien hoe Danté en sy Makkers voor Administrasie B skitterende wawiele maak, en hoe sommige van hulle dit waag om die gebou uit te klim om die bobbejaan vir sy telefoonnommer te vra. Hy sien die bewustelose skerpskutter op wie die skare toegesak het toe hulle sy intensies agtergekom het. Hy sien die magdom lyke rondom hom. Sommiges lê soos hulle agteroor geruk is, sommiges het op hul knieë ingesak en lê met hul elmboë onder hulle ingevou die grond en soen (asof hulle verlaas groet). Sommiges se oë is weerbarstig oop. Wat sou van Rob-hulle geword het? Hoekom het hulle nog nie afgekom nie? En hy sien, as sy oë opwaarts kyk, hoe Ryna met Die Sersant se vlieëplak in sý handskoene tik-tik, en buitentoe kyk na die skare. Sy glimlag tevrede. Die bliksem, dink hy, en treurig aan hoe alles dieselfde gaan bly, net sonder veel gelag.


Deel IV: O moenie huil nie

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.