NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Franci Greyling
is ’n skrywer van jeugverhale soos Die meisie van Melrosehuis en Vleuels soos die arende, en die skepper van Storiewerf — ’n webtuiste vir die bevordering van kinder- en jeugboeke en jong skryftalent. Sedert Julie 2002 gee sy Skryfkuns aan die PU vir CHO.
  Franci Greyling

Terug na die natuur

Franci Greyling


’n Oomblik gelede was daar nog niks langs die waterkant nie — net die water en die spore in die modder — en nou staan die koedoe daar.

Stil. Sy kop waaksaam gedraai: asof hy iets gewaar en wil seker maak dat dit veilig is.

Vermoed hy gevaar? Skuil daar iets in die skemerte, in die donker oewerbosse? ’n Roofdier op soek na prooi?

Die glans van die ondergaande son lê blink op die water.

“Renier.”

Hy skrik toe Linda onverwags langs hom praat.

“Etenstyd.” Sy buig oor hom en die laptop om die slaaibak neer te sit. “Al weer die wildcam! Ek is seker jy’s verslaaf daaraan!”

“Nee,” maak hy dadelik beswaar. “Maar ek dink die kamera is verskuif. Dié stomp lê anders as gister.”

“Dit kan wees,” sê sy. “Of dalk het ’n olifant dit raakgetrap of ’n seekoei daarteen vasgeswem.”

“Daar’s nie ... ”

“... seekoeie in jou gunsteling-watergat nie?”

“Spot jy?”

Sy skud haar kop. “Sê maar net ...”



Hy word wakker van ’n voertuig wat met ’n gebrul wegtrek — en met die helder wete dat hulle wildtuin toe moet gaan.

Versigtig om Linda nie te steur nie, staan hy op, maak die slaapkamerdeur agter hom toe. Die kleurspatsels teen die sitkamermure verdwyn as hy die lig aanskakel. Ver weg loei ’n sirene.

Die rekenaar wag vir hom; die sluimerliggie aan. Wanneer hy daaraan raak, reageer die skerm dadelik. Met klikgeluidjies skakel die modem op die internet in.

Dis donker by die watergat. Die koedoe is lankal weg. Dit was ’n mooi dier met breë krulhorings. Een wat hy al vantevore gesien het.

Linda kan regtig nie kla oor iets so onskuldig soos die wildcam nie. Dis tog goed dat hy in die stad naby die natuur kan voel; om selfs as hy vir die werk moet reis, te kan deel in wat by die watergat gebeur.

Maar nou sal hy sélf gaan kyk, hierdie einste watergat gaan opsoek. Haarfyn beplan, bespreek, afhandel. Hy kan sommer nou plek op die net soek, nes die volgende cam-beeld op die skerm verskyn het ...



“Hoe kan jy planne maak sonder my?”

“Ek wou jou verras. Dink net, ’n week in die natuur! Ons staan vroeg op, rus as dit warm word, en laatmiddag as die diere kom suip, wag ons by die watergat.”

“Ek bly nie in ’n tent nie!”

“Nee, ek’t ’n bungalow bespreek. Volledig toegerus. Ons was juis so lanklaas met vakansie.”

“Dis ’n hele dag se reis daarheen!”

“Dit gaan wonderlik wees. ’n Hele week weg van alles.”



Hy tel die weke tot die vakansie, laat die motor diens, beplan roetes, bevestig weer die bespreking, ruil stories uit met afgunstige kollegas, kyk dikwels na die wildcam om te sien hoe dit by die watergat gaan, maak doodseker hulle het alles wat nodig is. Gemaklike klere, kaarte, voëlgids, verkyker, sonbrandmiddel, selfoon, koffiefles, koelhouer.

Die eerste wat hy inpak is sy laptop.

“Renier ... ” waarsku Linda.

“Ek ... ”

Hy sluit die laptop in die kas toe.

By die verkeerslig voor die woonstelblok draai hy terug. Wat as daar ’n inbraak is? Dis altyd so ’n gesukkel met die versekering.



Die bungalow is koel toe hulle, moeg van die lang rit, arriveer. Ná die bagasie weggepak is — die laptop diep agter die reistasse — skink hy vir hulle sjampanje op die stoepie.

“Op die natuur — op ons tyd hier.”

Sy lig haar glas.

Mild vou die skemer om hulle.



Voor dit lig word, maak hy Linda wakker.

“Renier!”

“Kom, dis die beste tyd van die dag.”

Die eerste sonstrale val skuins oor die veld wanneer hulle by die kamp uitry.

Stadig, moet hy homself vermaan, ry stadiger.

Hulle draai die ruite af. Die oggendbries speel deur Linda se hare.

Sy sien eerste die skugter duikertjie; hy die vlakvarkgesin; sy die kameelperd; hy die afdraaipad na die uitkykpunt.

Die grondpad kronkel ’n entjie voordat dit in ’n oopte voor die dam doodloop. In ’n effense holte onder die stilhouplek, lê die watergat.

Dis kleiner as wat Renier gedink het, verder weg van die uitkykpunt as wat hy voorsien het, maar hy herken die bome om die soom van die dam, die gerf riete, die boomstomp in die water. Hy soek die plek waar die kamera opgestel is. Ja, van daardie paal se kant af ... die watervlak lê so ...

Behalwe vir ’n langbeenreier wat teen die verste oewer wei, is dit stil by die dam. Met die verkyker ontdek hy ook ’n paar waterskilpaaie wat naby die voël uit die modder sukkel. Dit het hy nog nooit opgemerk nie. Wat sou die mense nou op die wildcam sien? Waarskynlik slegs die suggestie van die reier.

“Dis stil,” merk Linda op.

“Ja.”

Hy gee die verkyker aan en sien haar gesig ophelder toe sy die reier in fokus kry. Hulle is hier. Hy maak sy oë toe, haal diep asem. Die reuk van soetgras en bome en water. Die stilte word vol geluide. Voëls, insekte, fyn veldgeluidjies.

Hulle is regtig hier.



Hy slaap droomloos.



Die tweede dag neem hulle verder die wildtuin in. Verby die watergat en deur ’n droë lopie met tekens van leeuspore; langs ’n rivier waar ’n olifant onverwags uit die digte bosse verskyn; deur gemengde veld met sebras en blouwildebeeste en rooibokke; ure lank oor ’n vlakte waar ’n arend hoog in die bleek lug die enigste beweging is en die geluid van sonbesies deur alles sny.

Middagete geniet hulle in ’n uitgestrekte kamp waar hulle onder bladstil bome op ’n breë stoep bedien word.

Dit word warm.

Hulle draai die ruite toe om die lugversorger vir die lang terugtog te gebruik.

Die bungalow is verwelkomend knus ná die uitgestrekte ruimtes.

Daar is ’n onrustigheid in hom wat hy nie kan peil nie.



Hy droom van sonbesies en sirenes en lê lank wakker in die nag vol vreemde geluide.

Dis Linda wat hom met koffie en beskuit wek. Haar hare is in ’n poniestert weggebind; die verkyker om haar nek. “Kom, jong, die watergat wag.”

“So vroeg?”

“Die beste tyd van die dag!”

Dit lewe om die drinkplek. ’n Troppie sebras se strepe kaats helder in die water. Tussen die bosse kom ’n koedoebul nader. Vlak voor hulle snuffel ’n vlakvark. Wat sou die beeld van die kamera af wees? Hoe sien die res van die wêreld die toneel? Wát gaan in die res van die wêreld aan? Renier voel na die radioskakelaar.

Die sebras snork verskrik toe musiek skielik die stilte verbreek. Die vlakvark draf stert in die lug weg.

“Wat maak jy nou?”

Hy soek vervaard na die knoppie.

“Nie gedink nie ... ” Ook die koedoe het tussen die bosse verdwyn.



Dis vroeg reeds warm.

Aan ontbyt vroetel hy met die selfoon. Om te sien of daar belangrike boodskappe is, beduie hy.

Hulle verwyl die dag in die kamp: Linda met ’n boek en verkyker op die stoepie; hy skuil binne teen die hitte en die helder lig.

Eers toe dit koeler word, staan hy uit ’n onrustige middagslaap op.

“Luiaard!” spot Linda toe hy op die stoepie uitkom. “Ek het al gewonder of jy ooit gaan ontwaak.”

“Ek’t so ’n drukkende hoofpyn. Dis seker dié hitte.”

“Dis so rustig by die watergat ... jy sal sommer gou beter voel.”

Hy skud sy kop. “Nie vanmiddag nie.”

Sy lyk teleurgesteld

“Maar moenie dat dit jóú keer nie.”

“Is jy seker?”

JA!

“Ja, ek’s seker.” Hy sak op ’n stoel neer waar sy opgestaan het. “Ek sal maar ’n bietjie hier buite sit. Neem jou tyd ... ”

Sy glip binnetoe vir die sleutels, stap soos ’n jong meisie na die motor.

Hy moet homself dwing om te bly sit tot die motor uit sig verdwyn.

Die selfoon is gereed, die laptop nog waar hy dit gebêre het.

Koorsagtig maak hy plek op die tafel, koppel met bewende hande die laptop en selfoon, wag gespanne dat die skerm reageer, die modem inskakel; tik met stram vingers die adres in.

Eers toe die beeld van die watergat begin verskyn, ontspan hy. Sit terug.

Hy is tuis.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.