NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Erns Grundling
is ’n vryskutjoernalis en SêNet se webmeester. Sy skrywersloopbaan is kortgeknip toe sy juffrou in standerd een sy opstel oor vla opgefrommel het met die woorde: “Moenie jou André P Brink-maniere in my klas kom uithaal nie!” Hy het onlangs weer begin skryf. Hy sing ook in die band Saamrou — hulle klink glad nie soos die Grafsteensangers nie.
  Erns Grundling

Spoorloos vertrein

Erns Grundling

“Is daar ’n herberg op die roete tussen Gomorra en De Aar?”

Uit: Koos Kombuis se “Kerke van die Nag”

As Frankie lag sien jy net skewe tande wat mekaar soos onkruid verdring. Sy geskeurde denim is alles behalwe ’n modefoefie. Dis halfagt op ’n bevrore Saterdagoggend by die Kaapse stasie. Frankie is ons selfaangestelde portier, sy trollie kraak en kreun onder die bagasie.

By die perron wag die gewone konsternasie (konsterstasie?) ons in. ’n Vervaarde soektog na kaartjies, ’n sokkerwedstryd wat spontaan met ’n klein Coca Cola-bal begin, en ’n rolstoel wat amper onderweg na die kafeteria ontspoor. Langs ’n pilaar neem ’n paartjie liefdevol afskeid. Ek dink aan Piet Botha se album Suitcase vol Winter, en die musiekvideo wat langs ’n verdwaalde stasie geskiet is:

“Klein bietjie liefde,
klein bietjie geluk,
heelwat van dit en dat,
maar meestal - ’n suitcase vol winter.”

My winterkoffer is veilig op Frankie se trollie as hy ons begelei tot by tweedeklastrok nommer 9 van die Trans-Karoo. ’n Paar van ons is dadelik opgewonde, 9 is ’n magiese getal! Ons weet self nie hoekom nie, maar dis orraait. Ek stop ’n groen noot in Frankie se hand en hy poseer vir ’n foto. Weer die skewe tande, ek wens ek kon vir hom “treinspore” by ’n tandarts laat kry. Dit sal nogal ironies wees. “Wanneer kom julle weer hier verby?” vra hy nog, maar ons het reeds weggetrek. In die verte troon Tafelberg majestueus bo die Moederstad uit. Tyd om te gaan ...

Soms loop ek verby ’n bakkery en ruik iets uit my kinderjare, gewoonlik gemmer. Die reuk van ’n trein neem mens ook ver terug, “na die kompartement van my drome” om nóg ’n musiekgroep, Kobus!, aan te haal. Op Uitenhage het die kleinste stoomtreintjie ter wêreld, Little Bess, ons kinders destyds altyd drie keer in die rondte (en deur ’n donker tonnel!) op Sondae geneem. Die treinmuseum op die dorp spog ook met twee spoggerige stoomtreine uit toentertyd, en wonderlike staaltjies oor ’n bobbejaan wat só bedrewe was dat hy die kondukteur met die sinjale gehelp het. Terwyl ek lekker nostalgies raak, stop ons by Bellville. Die eerste van een en dertig stasies, voor ons ’n dag later by Johannesburg sal opdaag.

Hoewel ons moeg is na ’n rowwe kwartaal op Stellenbosch, en ek nog die newe-effekte van ’n vitamine B-inspuiting en ’n whiskey probeer verwerk, is die gees reg. Die Pick ’n Pay-sak klingel terwyl die vyf bottels, soos die hoeke van die Kasteel, een vir een op die tafel geplaas word: Old Brown Sherry, Tassenberg, Smirnoff Vodka, Bell’s Whiskey en Wellington VO5 Brandy (gelukkig het die trein wél brieke). Die glase staan op aandag en word gou-gou voller, saam met die kompartement. Die tjoeke-tjoeke-paf van die trein is ons enigste klankbaan, aangesien die CD-speler se batterye voos is. Kort voor lank is almal besig om a cappella te sing. Eers Innes en Franna se “Trans-Karoo, bring haar huis toe, laat jou ysterwiele rol ...” en dan die Briels se immergewilde “Dit het gebeur op ’n trein na Pretoria”.

Huguenot. Wellington. Hermon. Wolseley. Worcester. De Doorns. Die name van stasies flits verby. Die landskap is nog groen en klam, met welige wingerde wat ’n poskaartmooi uitsig waarborg. Terwyl ons grappe vertel, skinder en sing, wonder ek oor die magiese inspirasie wat treine aan liedjieskrywers bied. Treine en riviere. Albei is iewers heen op pad, en nes ’n river vertak in strome op pad na die see doen ’n trein by verskeie stasies aan langs die spoor. Treine en riviere neem ook albei altyd afskeid. En op ’n kaart sny ’n trein se spoor ook soos ’n rivier deur die landskap. Gert Vlok Nel sing juis in sy liedjie wat hulde bring aan Koos du Plessis: “Koos jy’t gesing oor vroue die see en die myne en ek sing oor vroue die see en treine.” En dan is daar Richard en Lochner se “Tussen Treine”. Ja, treinry is dinktyd, ’n selfhipnose tussen die ritme van tjoeke-tjoeke-paf. Tjoeke-tjoeke-paf  ...

My gedagtes word summier onderbreek deur die konstabel wat aankondig dat ons nou by Touwsrivier gaan stop, en kontak met die mense buite die venster moet vermy. Dis glo gevaarlik. Ek maak die venster oop en loer rond. Armoede staar ons in die gesig. Harry en sy maatjie kom kap ’n wafferse riel voor my venster. Hulle laat my dink aan nóg lirieke van Gert Vlok Nel, waar hy sing “Moenie my hier vergeet nie, waar die Here nie eens van ons weet nie.” Ek gooi ’n paar vyftigsente in hulle rigting terwyl die trein weer begin beweeg. Ek hoop hulle kon dit kry ...

Nou begin die landskap klipperig raak, die windpompe neem toe. Weg is die lowergroen plantegroei en geuwelhuise ... Karoobossies is ons voorland. Dis pragtig, en net daar besluit ek: Ek gaan nog baie swerf, maar ek wil beslis eendag in hierdie land sterf. Suid van die Steenbokskeerkring. Verkieslik in die middel van (n)êrens. Dis dan wanneer dronkverdriet begin om die rooi sinjaal te wys, en ek besluit om terstond aandete te gaan soek in die BJ’s-eetsaal. Die BJ’s is niks om oor huis toe te skryf nie. Dit is soos ’n versukkelde Wimpy op wiele, met verdunde tamatiesous, en die diens is stadiger as die tannies by ’n laerskool se snoepie. Die pryse is ook belaglik duur.

Dit raak gou donker en alles is in rep en roer wanneer een van trok 9 se kompartemente beroof word. Dreigemente slinger heen en weer, die kondukteur trippel ongemaklik rond, maar gelukkig vind ons die een klasmaat se kamera. Die selfoon bly egter soek. Dit raak gou duidelik dat die personeel op die trein nie vertrou kan word nie. Daar is onmiddellik ’n demper op die gemoedere. Dié wat vroeër gefuif het, het hulself omtrent nugter geskrik. Die res van die aand hang ons maar rond in die kompartemente, speel bordspeletjies en lees tydskrifte.

Net voor middernag stop ons op ’n seminale treinstasie - De Aar. Ek hardloop dadelik na perron 6, en dink aan Koos Kombuis se lirieke uit 1987 in Die Bar op De Aar:

“Langs perron nommer 6
het ek ’n dors om te les.
In die bar op De Aar
sit ons almal bymekaar
en ons wag op die trein
na wie weet waar.”

Teen twee-uur drentel ’n paar van ons in die nou gange van die kompartemente rond, op ’n Trans-Karoo verkenningstog. By die derdeklaskompartement staar ek verskrik na mense wat opgekrul lê op plastiekbanke en blou komberse, wat herinner aan ’n staatshospitaal. Iewers is daar ’n rokie, en die soet reuk van die boom van kennis en van goed en kwaad vul ’n kompartement. Laat jou ysterwiele zol ...

’n Gedig van Breyten maal deur my gedagtes, voor ek aan die slaap raak:

hiiiiieeeeeeee

dié patatranke langs die spoorlyn —-
hoe seer
moet hulle ore nie wees nie

Uit: Breyten Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet

Die volgende oggend skrik ek laat wakker. Makwassie. Leeudoringstad. Klerksdorp. Potchefstroom. Net mielies waar jy kyk. BJ’s se personeel vra om verskoning - daar is geen eiers nie. Oberholzer. Krugersdorp. Die huise begin toeneem, woonbuurte, dorpe, stede ... en dan die molshope van goud. In ’n japtrap stop ons vir die laaste keer - by Johannesburg se stasie.

Welkom in Gomorra. Terwyl ons self op die perron moet voortsukkel met ons bagasie, mis ek skielik vir Frankie. Die mense maal, die trein fluit, en voor ek op die bussie klim, dink ek aan Stef Bos se lirieke uit “Stad van Goud (Egoli II)”:

“Maar de trein gaat verder, verder, verder
Altijd maar vooruit
Van stad naar stad, van oost naar west
Van noord naar zuid.”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.