NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Edna Deudney
is ’n boorling van die Oos-Kaap. Na vele omswerwinge, wisselende beroepe en gelukkige ongelukke, woon sy tans rustig op Gissey-sous-Flavigny, 'n piepklein dorpie in Bourgogne, Frankryk.
  naam

Die transformasies van Dirk Zijlmans

Edna Deudney

Deernisvol kyk Dirk Zijlmans na sy eens so moedige appendant. Hy skud die laaste druppeltjies urine versigtig af.

Sterrekyker! Dis wat hy hom vroeër genoem het, Sterrekyker, van adolessensie af tot hier diep in sy veertigs.

Hy sug, dink aan die geleidelike verandering, almaar effens tammer, effens minder gewillig. Met wrange selfspot en tog ook ’n mate van bekommernis prewel hy, “Landmeter, dis wat jy nou is. Landmeter, maar darem nog nie Waterwyser nie.”

Half ergerlik rits hy sy gulp toe. Gebrek aan viriliteit? Allermins. Landmeter? Nee, eerder Landloper, want gee maar net die geringste kans en ’n egte ridder van die wapad is hy, dié avontuurlike ou staatmaker van hom. Die probleem lê heeltemal anders. Dis die bekende ou patroon van verwerping. Vir die soveelste keer in sy lewe.

Dat sy vrou in die loop van die afgelope jaar of meer, belangstelling verloor het, hinder wel, maar tog nie te veel nie. Skouerophalend kan hy dit afskryf as haar vertraagde lewensoorgang. Buitendien, daar is nog baie visse in die see, of beter gestel, konyntjies op die land. Veel erger is dit dat Jeanine, sy jare lange maitresse, blykbaar aan ‘t afkoel is, dat sy geen inisiatief meer neem om by hom uit te kom nie. Hy het gemeen dié kongres hier in die stad waar sy nóú woon, is ’n gulde geleentheid, maar so pas was daar weer een van haar flou verskonings oor die telefoon: Belangrike sakekennisse van haar man op besoek. ’n Smoes versin? Nee, sy glo nie dit sal werk nie. En hier sit hy nou, alleen in die hotel se erotiese minnaarskamer, wat hy spesiaal vir hulle twee bespreek het.

Selfbejammerend kyk hy na sy meervoudige weerkaatsing in die spieëls wat oral op strategiese plekke aangebring is. Ja, vanaand kan hy sien hoe die ouderdom op hom druk. Op die drumpel van vyftig en behoorlik gereed vir die graf, dis soos hy lyk en voel. En waarvan? Jare en jare van verontregting en verwerping. Altyd en altyd weer word hy sy troon en sy kroon ontneem.

Dirk Zijlmans weet, dié soort gedagtegang moet hy vermy. Doen hy dit nie, word hy al hoe swartgalliger, is die trane van selfbejammering dikwels baie naby. Maar nou ja, wat as die hele wêreld teen jou is, as jy jou bes probeer, maar alles is altyd ’n fokkop? Uit die diepste skuilhoekies van sy geheue kruip al die ellendigste ervaringe soos wurms uit. Al wat misstap is van diegene wat veronderstel was om hom lief te hê, veronderstel was om hóm belangrik te laat voel, begin kankerend rondkruip in sy gemoed.

In sy ouerhuis wil hy sy voete nooit weer sit nie. Geld, ja, geld kon hulle hom gee, maar liefde? Om van belangstelling nie eers te praat nie! Sy pa? Dié het hom selfs een of twee keer Fikkie genoem. Nee, dit was nie om hom te terg nie, dit was om van hom ontslae te raak, te verhoed dat hy soos ’n hondjie agter hom aanloop. Eintlik was dié stumperd die groot baba in die huis. Hy wat Dirk is, kon skaars aan die agterspeen suig. Sy ma altyd besig om haar na die gróót baba se sinne en grille te skik.

Hy móés die leemte vul en waarmee anders as dit waarna elke kind sou gryp? Allerhande versnaperinge, dit was sy troos. Ja, net die lekkerste. Hy’t mos sakgeld genoeg gehad. Maters? Nee, die kinders in die buurt het hom ou Smulpaap genoem. Te groot en lomp vir die seuns se rowwe speletjies, het hy maar eenkant staan en toekyk. Alleen en verworpe. Gelukkig was daar darem nog altyd die biblioteek. Nie vir simpel ou storietjies nie! O nee, kookboeke, reisgidse, sekshandleidings en les bes versamelbundels van kwinkslae en skerpsinnige woordspeletjies - daarmee het hy sy verbeelding en sy tong geslyp.

Hy veroorloof hom so ’n effense glimlag. Nogal aan te prys dat hy reeds so jonk geweet het, eensaamheid en verworpenheid moet jy ontvlug. Jy moet doelgerig iets daaromtrent doen, ’n wenresep ontwikkel.

Eenmaal uit die huis uit en student, het hy wat Dirk Zijlmans is, homself eenvoudig gedwing om sy ingetoënheid af te skud. Dit was wel nie altyd maklik nie, maar hy’t sy strategieë beplan, hom daarin geoefen om soos die glimlaggende Boeddha midde-in ’n geselskap te sit, fyn te luister, en dan, presies op die regte moment, met droë humor of ’n gevatte kwinkslag die aandag op hom te vestig.

Maar dis nie al nie. Hy het ook sy ander talente ontgin, hom daarop toegelê om ’n behoorlike fynproewer te word, self gekook ook; ’n kenner by uitstek geword, nie alleen van die mees verleidelike disse en wyne nie, maar ook en veral van die vroulike geslag, van hoe om hulle te knuffel, te streel, te behaag en uiteindelik lekker te pak. O ja, hy’t sy lompheid oorwin, het mos geld gehad, en ’n eie kot. Een na die ander het hy dié wat gewillig was, aan sy tegnieke onderwerp. Genotvol? Ja, heel genotvol en plesierig, veral toe hy Jaak en ’n paar ander vrolike manne leer ken het. Saam het hulle gefuif en gevry.

En tog, ten spyte van al die pret was daar steeds ’n pynlike leemte. In sy diepste wese was hy nog altyd die ontvlugtende dromer, het hy steeds hartstogtelik gesoek na die één vrou wat hom in alle opsigte sou vereer, hom as koning in haar hart sou laat troon.

Dit was die jare sestig en die jag was oop. Een na die na die ander het hy dus die gewilliges as ‘t ware fisies en geestelik met die ratsheid van sy tong beproef. Hy het onder die vroulike dankbaarheid, die aandag en bewondering gedy, maar hom tog altyd weer kieskeurig afgewend. Die regte vrou vir hom moes passievol en sexy wees, maar veral ook verstandig. En toe, eindelik, so teen die einde van die jare sewentig het hy gemeen, nou het hy haar gevind.

Sy was nogal mooi met opvallende “talent”, ’n ware “cock teaser” het die kollega Engels die nuwe vroulike leerkrag Nederlands genoem. Die man het maar net geraai, dog hy wat Dirk Zijlmans is, het geweet, want die toets hét sy geslaag, al vroeg in die eerste semester op uitnodiging by hom in sy woonstel. Daardie aand het hy haar deeglik met sy kulinêre en knuffelkundighede ingelyf. Deurslaggewend was egter haar verstandige en waarderende opmerking ná een van sy gevatte spitsvondighede. Dit was tydens ’n gesellige byeenkoms in die personeelkamer. Soos die dag van vandag onthou hy haar woorde: “Ja, dat adremme, dat moet echt in je zitten.”

Dit was ’n behoorlike huweliksfees, want so wou sy dit hê. Hulle het gaan woon waar sy verkies het, die huis ingerig volgens háár smaak, die vriende onthaal van wie sy gehou het. Hy het alles aan haar oorgelaat, hoogs tevrede dat iemand so verstandig, eindelik met moederlike sorg sy lewe vir hom reël. Hy het selfs saam met haar op ’n streng vegetariese dieet gegaan ter wille van die kind wat sy beplan het, ’n kind wat volgens haar die summum van alle kinders sou wees. Dat dié prinsie sy plek sou inneem, dit het hy nie toe kon raai nie. Sy ideaal was om al sy vrou se wense te vervul en al wat hy verwag het was om vir altyd koning in haar hart te troon. Maar nee, moederskap het van háár die koningin gemaak, koningin en heerseres, haar babaseun langs haar op die troon.

Nou nog sien hy hoe sy daar in die kraambed sit. Die kind langs haar in die wieg, het sy haar gaste ontvang, behoorlik soos ’n vorstin wat aan bewonderende onderdane oudiënsie verleen. En hy? Hy moes soos wie weet watter slaaf sorg dat die huishouding vlot: opruim, koskook, koffie en koek en alles en nog wat aandra vir die besoekers wat meesmuil en terg. “Dirkie! ’n Seun! Maar onthou, eers as jy ’n dogter het, is jy ’n man!”

Nooit vir ’n oomblik ’n enkele woord van dank of aanprysing nie, slegs die spot van haar vriende, slegs bevele en verantwoordelikhede. En dit was maar net die begin. Hy het uitgehou en aangehou, ’n jaar of twee drie, totdat sy begin neul het, dis tyd vir die dogter. Dis toe dat Jeanine in sy lewe gekom het.

A, daar rinkel die telefoon uiteindelik. ’n Sprankie hoop. Sy’t sekerlik ’n geloofwaardige voorwendsel versin! Sy hart begin soos dié van ’n verliefde skoolseun pomp.

Teleurstelling. Dis Maltrap Margot. Sy wil weet hoe op aarde hy hulle so in die steek kan laat. ’n Pragtige someraand, ’n gesellige “terrasje”, die vooruitsig van ’n flinke “dansavond” en hy het glo ’n ander afspraak! “Kanselleer dit, man. Ek en Stephanie en Jaak wag op jou.”

“Hou op seur, Margot. Ek sal sien wat ek kan doen.”

Dirk Zijlmans oorweeg die situasie; die vooruitsigte van ’n prettige aand teenoor die skrale moontlikheid dat Jeanine wel ’n plan gaan maak.

Sal hy, of sal hy nie? ’n Moeilike besluit. As hy net nie so bitter sterk oor Jeanine gevoel het nie. Partykeer dink hy dis sommer bog om hier op die drumpel van vyftig nog steeds soos ’n romantiese jongeling die enkele ridder van die enigste vir hom bestemde vrou te wil wees. Maar nou ja, vir die afgelope tien jaar reeds is Jeanine dié enigste besonderse vrou. Reeds daardie eerste dag toe dié mooi vrou sy klas binnestap, het sy hart ’n polsslag gemis. Daarna dag na dag haar bewonderende blik op hom, die kundige kollegedosent! Ook die speelse onderdanigheid van “Ja, Meneer” of “Nee, Meneer” en dit ten spyte daarvan dat sy ’n volwaardig volwasse vrou was, wel getroud met ’n sakeman in wie se status en belange sy gedeel het. Dit het haar slegs aantrekliker gemaak, verwyderd, maar tog nie onbereikbaar nie. Al gou het die vonk van hulle ligte flirtasie vlam gevat, ’n vuurwarm romanse geword. Toe het hy sy huis en sy vrou en die kind wat buitendien net aan sy vrou behoort het, verlaat.

Dit het hom sy pos aan die kollege gekos, maar Jeanine het vergoed. In sy eenmanswoonstelletjie was hulle gesteelde uurtjies ’n voorspel tot die paradys wat die toekoms hom beloof het. Maar hy sou moes wag, want met trane en beloftes is Jeanine na ’n jaar of wat, skielik saam met haar man na die Ooste waar hy vir enkele jare hom na sy firma se belange moes gaan omsien. Hy wat Dirk is, was vir maande lank ’n drenkeling in verdriet. Sy huidige vrou het die reddingsboei uitgegooi, maar dit was Jeanine se briewe en haar kort besoekies ten tye van vakansies waarvoor hy bly leef het. Om háár het hy sy toekomsdrome geweef. Eendag, as hy meer as ’n gewone ou onderwysertjie is, eendag as hy soos sy goeie vriend, Jaak, ’n belangrike pos aan ’n universiteit beklee, dan sal sy bereid wees om by hom aan te sluit, sy lewe met hom te deel. Dit was sy droom.

Intussen het hy nietemin, om dit pront te stel, geleef soos dit ’n man betaam. Hy het sy oppervlakkige flirtasies gehad, het selfs uit ridderlike erkentlikheid getrou met die vrou wat hom, tydens Jeanine se afwesigheid, uit die dieptes van depressie gehelp het. Ouer as hy, en verstandig genoeg om nie te wil broei nie, het sy hom die kans gegun om verder te studeer. In die jare van Jeanine se afwesigheid was sy ’n fort van veiligheid. Maar nou ja, sy is eintlik ’n beroepsvrou met ’n lewe van haar eie. Daarom dat hy ten opsigte van sy onverstilde groot passie vir Jeanine en die minder belangrike kort gelukkies van huweliksontrou, nog nooit teenoor haar skuldig gevoel het nie. Sy is, meen hy, redelik op hoogte van sake, verkwalik hom blykbaar nóg sy gereelde afdwalinge, nóg sy verslingerdheid op sy minnares.

Weer rinkel die telefoon. Dié keer ís dit Jeanine. Dirk Zijlmans se gesig straal, maar net vir ’n oomblik, dan val dit, en sy mond vertrek soos die van ’n skoolseun wat die bloupas gekry het.

Vir ’n wyle sit hy ineengedoke. Haar woorde eggo in sy ore: “Dirkie, ek hunker na ’n bietjie heuning. Jy weet mos, ‘a taste of honey’, maar sonder om my huwelik in gevaar te stel, kan ek nie wegbreek nie.”

A taste of honey! Dis nie die eerste keer dat sy dié woorde besig nie. Nog altyd het dit hom aan ’n bepaalde romantiese fliek laat dink, een wat hulle nog saam gesien het. Pragtig idealisties, maar nou begin ’n ander betekenis tot hom deurskemer.

Verdomp! Is dit al wat hy vir haar is? ’n Blote bron van genot: die bietjie heuning op die tong, hy vir haar en sy vir hom! Wel, dit moet sy weet, heuning is geensins ’n skaars artikel nie. Boonop wag sy vriende op hom, Jolige Jaak en Malkop Margot en belangrikste nog, Stephanie. En sy hét heuning in haar heupe; ook altyd gewillig om hom te laat proe. Hy kan háár mos later terugbring, hier na dié erotiese nessie toe.

Doelgerig skryf hy ’n nuwe boodskappie by die ruiker wat Jeanine sou verwelkom het. Die oue frommel hy op, werp dit deur die venster na buite. Dit maak seer, maar ’n man moet uiteindelik kies en die keuse is geensins onaangenaam nie. Moontlik, net moontlik is dit tyd dat sy erotiese uitvluggies met Stephanie ’n vaste gewoonte word. Sonder die gereelde waarderende passie van ’n vrou kan en wil hy nie leef nie. En wie weet, miskien is sy die een wat hom enduit koning sal laat kraai. Buitendien, dis ’n vrolike groepie vriende wat op hom wag.

Maltrap Margot is een van Jaak se talle handperdjies. Sy en haar boesemvriendin, Stewige Steffie, soos hy in sy enigheid dié goedbedeelde Fransinnetjie noem, is deel van die Departement se entourage by al wat buitelandse of binnelandse kongres of byeenkoms is. Toe hy en Jaak in September drie jaar gelede die eerstejaars so deurkyk, het Steffie hom dadelik opgeval. Jaak het Margot aan hom uitgewys. “Een prettig meid,” het hy háár genoem en verduidelik dat sy en Stephanie eintlik reeds afgestudeerde taalstudente is, maar om bepaalde redes nou weer ingeskryf het vir ’n kwalifikasie vertaalkunde. Margot waarskynlik omdat sy getroud is met een of ander hoë amptenaar, jare ouer as sy en gewoonlik êrens in die buiteland besig met sy ampspligte. Student wees, is haar afleiding. Gesellige verkeer met dosente, jolyt en so af en toe iets meer, dit het Jaak nie genoem nie, maar dit het gou geblyk. Hoe dit ook al sy, albei meisiekinders is ouer en beslis meer wêreldwys en gesofistikeerd as die alledaagse student. Wat meer is, hulle is altyd beskikbaar.

In dié goeie geselskap word Dirk Zijlmans se aanvanklik mislukte aand een van die joligste wat hy in ’n lang tyd beleef het. Talle Belgiese biere agter die blad en waternat gesweet van kalkoentjie trap, strompel hy, lank na middernag met Steffie aan die hand die hotelkamer binne. Laggend saam onder die stort, dan sommer nog so half nat op die heerlike breë bed. Gretig byt sy aan sy boarm, karnuffel hom met haar naels.

“Ontspan, Steffie, ontspan.” Waarderend koester sy hande haar pragtige twee voorosse. Laag neig hy oor haar, laat sy tong en lippe tergend om en oor die genoemde osse se horinkies streel. Dan af en af oor haar naeltjie en nog laer af. Haar dye lok uitnodigend oop.

A, die oester hier tussen die mos, en dié pronkerige pêrel, so uitdagend hard onder sy tong. Nog en nog peusel hy daaraan, weer en weer dring sy tong die geswolle skag van die oester binne, totdat Steffie skielik wegruk en begeesterd uitroep, “La vache! La vache!”

Dirk Zijlmans glimlag voldaan. In dié omstandighede beteken die Franse “La vache!” nie “Die koei!” nie, maar iets soos “Verdorie!” Dis nou op Nederlands. Op Engels sou mens dit vertaal as “Oh gosh!” of selfs so iets soos “The bitch!” Vir hom is dit Steffie se teken dat sy die eerste fyndraai om is, dat Landmeter nou vir alle verdere plesiere, syne of hare of hulle s’n saam, die verantwoordelikheid moet dra.

Maar ai, wat gaan aan? Wat makeer sy dapper ridder dan nou? Hoe lyk dit dan of die blerrie ou Landmeter nou skielik op moedverloor se vlakte probeer waterwys? Watse maniere is dit? Om hierdie oomblik, van alle moontlike oomblikke, te kies vir ’n totale transformasie!

Dirk Zijlmans gaan staan op sy knieë, te verleë om verder te vroetel. Tevergeefs bepotel hy sy eens so moedige appendant wat totaal verdwerg, onder sy groot maag verdwyn. Dan rig hy hom met skaamte na die feestelik oopgestrekte meisiekind.

“‘T gaat niet, Steffie, ‘t gaat niet.”

“Kom je niet recht?”

Dit moes sy nie gesê het nie. Die blou van Dirk Zijlmans se oë word vlak en flets van die trane wat onbedwingbaar opwel. “Nee,” prewel hy haas onhoorbaar en rou bars die snikke uit sy breë borskas.

Stephanie skuif op haar kaal boude orent. Haar uitbundig dierlike loopsheid is vir eers voldoende gepaai. Nou kan die moederdier oorneem.

“Come to Mama, come . . .”

Gul kussing sy hom, sodat hy so half op haar skoot en teen haar maag lê, sy kop gekoester in die vou tussen haar moederlike borste. Liefderik streel sy sy agterkop, sy nek, sy skouers en sy rug. Sy prewel dat sy hom liefhet, dat sy hom nooit iets sal verwyt nie. So troos sy hom, totdat hy uiteindelik kan begin praat. En omdat sy daar is en hom so veilig laat voel, en bereid is om geduldig te luister, begin hy stamelend kla en uitpak oor sy jare lange geskiedenis van verontregting. Gelukkig duur dit nie te lank nie, want al gou oorval die vermoeienis hom. Soos ’n groot ou baba raak hy in haar arms aan die slaap.

Sy druk ’n soen op sy wang, fluister nogeens, “ Je t’aime, mon amour, je t’aime.” Versigtig bevry sy haarself, skik hom aan die regterkant van die bed sodat hy gemaklik verder kan slaap. Self verkies sy links, maar eers gou badkamer toe.

In die verbystap speel sy met haar oë oor die kamermure en oor die plafon waar massiewe spieëls asof in ’n ander dimensie die slapende man daar op die bed, asook haar eie naakte liggaam uit alle hoeke weerkaats. Sy is hoogs tevrede met die verloop van sake, voel haar die godin van vrugbaarheid self. Noudat Dirk Zijlmans na ’n jaar of meer se onbestendige erotiek, ’n vrytjie hier en ’n kort gelukkie daar, in haar arms verkrummel het, nou is dit haar kans. Sy sal sy tanende viriliteit met al die kundigheid van ’n ervare vrou weer tot lewe wek, hom uiteindelik sy volle potensiaal laat verwesenlik en daarmee saam ook hare. Hy het die beroepstatus waarna sy soek. Belangrikste nog, hy is goeie genetiese materiaal, oorgewig ja, maar sy sal hom ’n spesiale dieet laat volg, sal sorg dat hy hom weerhou van die uitspattige gefuif van Jaak en kie.

Triomfantlik rig sy haar tot haar meervoudige spieëlbeeld. “Madam Stephanie Zijlmans, regardez, voilà le future père de vos enfants.” Sy sien reeds in haar verbeelding die spannetjie kleingoed om haar swerm.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.