NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Jan Durand
is ’n brandbestryder van die Kaap en is in Johannesburg gebore en getoë. Hy skryf gediggies, stories en songs oor die vyftigs en sestigs in die suburbs. Sy temas sentreer rondom ’n chronologiese en ekonomiese era in ons land en stede wat soms nader as fiksie aan die been sny, wat hy graag met ander sal wil deel.
  Jan Durand

Die sopkombuis

Jan Durand

Dit is Saterdagoggend halfvyf wanneer Walter die voordeur stil agter hom toemaak. Hy draai by die tuinhekkie uit die nou straatjie in.

“Vandag is ’n goeie dag vir so tien, vyftien rand,” dink hy terwyl hy tussen die klein baksteenhuisies sy weg na Newtown en die Johannesburgse mark vind. Walter weet dat hy dalk te hoog mik, maar in sy lewe van veertien jaar het hy geleer dat as jy nie hoog mik nie, het jy ook nie hoop nie. En as daar niks anders is nie, is hoop die enigste ding wat jou uit die ellende kan hou. Hoop en harde werk.

Ouma Joey het gesorg dat hy dié lessie reeds vroeg in sy lewe leer. “Waar daar lewe is, Walter, is daar hoop,” het sy hom getroos as dinge sleg loop.

“As dit ook nie vir Ouma Joey was nie, wat sou van my geword het?” wonder hy hardop.

Enigiemand kon vir Ouma Joey as voorbeeld vat. Sy het nie gaan lê toe haar enigste dogter met die nuus van haar ongehude baba vorendag kom nie. En sy het ook nie gaan lê toe Issie haar kind net so by sy ouma kom los en die wapad agter Walter se wegloperpa aanvat nie. Ouma Joey moes maar sien en kom klaar. Sy sou nie háár kleinkind by enige weeshuis laat grootword nie. Oorlogspensioentjie en al, grootmaak sou sy hom grootmaak. Al het sy al vir twaalf jaar niks van Issie gehoor nie. En om mense te kontak, was mos deesdae maklik. Dit is dan al 1963. Daar is telefone, telegramme en ’n goeie posdiens. As Issie iets vir haar ma of haar kind oorgehad het, sou sy mos lankal van haar laat hoor het.

Van niemand sou Ouma Joey aalmoese aanvaar nie en sy moes eenvoudig net die ou Singer-trapmasjien na die kombuis sleep en klere maak vir ’n ekstra inkomste. Só kon sy vir Walter in kos en klere hou en die skoolfonds betaal.

Ouma Joey was vir ure op ’n dag oor die Singer gebuig in die swak kombuislig. In die winter moes die koolstoof warmte gee en in die somer het die koel luggie deur die oop kombuisdeur gehelp om die kombuis koel te hou. Sy kon bykans enigiets van ’n patroon af maak en dit het gesorg dat sy gereeld werk het. Vir die brak kolle was daar ook die klein verstellinkies soos ’n broek wat te lank was, of ’n rok wat bietjie los gehang het. ’n Boksbroekie kon sy met soveel vaardigheid aanmekaar stik, dat die enigste manier waarop jy ’n gekoopte broekie kon uitken, die Everlast-etiket voorop was.

Walter sou sy reg grootmaak. Sy sou nie toelaat dat hy soos sy ma ontaard nie. Miskien sou Issie ook beter uitgedraai het as Ouma Joey gesorg het dat sy die waarde van harde werk en eerlikheid vroeg aanleer. Daarom het sy gesorg dat Walter sy kant in die huishouding bring en hy moes maar uitspring met ’n los werkie of twee om sy ouma te help om die pot aan die kook te hou.

“Walter, ledigheid is die duiwel se oorkussing,” het sy nog vanoggend gesê, toe sy Walter met die beker koffie in die hand wakker maak.

*

Wanneer Walter die mark nader, skree Gerry van vêr af: “Howsit, tjom?” En sonder onderbreking: “Reg vir die outing?”

“Hallo,” antwoord Walter. “Alles honderd persent.”

Sy vriendskap met Gerry Joubert het gekom van die Saterdagwerkies by die mark. Alhoewel Gerry naby hulle gebly het, is hulle huis meer in die bo-dorp. Walter kon sien dat Gerry dit makliker gehad het as hy. Die polshorlosie aan Gerry se arm en die duur skoene wat hy mark toe kon aantrek, het getuig daarvan.

Outing, dink Walter by homself. Ouma Joey sal ’n hartaanval kry as hy sulke Afrikaans gebruik.

“Praat met my en ek sê jou wie jy is,” was een van Ouma Joey se gunstelinggesegdes. “Jy hoef nie ryk te wees om waardig te wees nie. As jy Afrikaans praat, praat jy Afrikaans. En as jy Engels praat, praat jy Engels. Dit is nooit nodig om die twee te meng nie.” ’n Ander gesegde was: “Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou.” Gereeld het Walter dié gesegde gehoor.

Ouma Joey was erg besorg dat haar kleinseun dalk net die verkeerde maats sou maak. In ’n voorstad waar mense se skandes en skades moeilik geheim gehou kon word, het die Jouberts, Gerry se ouers, afgesien van hulle windmakerigheid, nie ’n slegte reputasie gehad nie en Ouma Joey het die pasgebore vriendskap dus gelate aanvaar. Die Jouberts het sekerlik die geskiedenis van Ouma Joey se kleinkind geken, maar nooit iets laat blyk nie, en so het die vriendskap ontwikkel.

Gerry het Walter die “tricks of the trade”, soos hy dit uitgedruk het, van die mark geleer.

“Kyk, tjom, jy moet net eers leer om eerste ding in die oggend al die specials op die mark te check en te onthou. Dan om die rich bitches uit te ken. Die’s van Houghton, Illovo en die ander ryk suburbs. Die mense met die groot karre,” het Gerry hom meegedeel. “Dan moet jy sorg dat jy die beste parking spot uitwys. Dis nie lank nie of jy het jou eie regulars.” Gerry het gelag. “Jy ken hulle sommer by die naam.” Hy het ’n denkbeeldige kardeur oopgemaak. “Good morning, Mrs. Goldstone, and how are you this morning?” met so ’n teemstemmetjie. “Today the tomatoes are really prime produce. The potatoes that came in this morning are not the best that I’ve seen ... maak jy uit wat ek meen? Jy moet ook nie te voor op die wa wees nie en te naby staan as die goed klaar gelaai is nie. Jy wag tot die antie die beursie oopmaak voor jy nader staan.”

Gerry het ook geweet hoe om met die lorriedrywers te praat wie se goedere net-net nie die markstandaard kon haal nie. Om net te wag tot die markinspekteur se oë weggedraai was.

“Die goed is nog in perfectly good condition, man. Jy weet mos, jou beste bargains is altyd die rejects,” het Gerry gesê. “Ek is ook seker dat hoeveel van jou goed die prime stêmp kry, hang af van hoeveel jy die inspector onder die tafel deurpass. So moenie worry nie ... die goed is reg vir enige huis.”

“Vat als wat die lewe jou opdish en as jy die bad times kan side-step, why not,” het Gerry ’n ander Saterdag vir Walter gesê. “Wys my een ryke wat arm begin het en hom ryk gewerk het, tjom. En as jy een kry, guarantee ek jou hy het dit gemaak omdat hy op een of ander way skelm was.”

Gerry se sêgoed was vir Walter snaaks, maar hy moes sy maat wys dat eerlikheid en harde werk altyd beloon sou word. En skelmheid was vir diewe en boewe.

“Jong, daar’s skelm en daar’s plein en simpel common business sense,” was Gerry se reaksie. “Kyk nou maar na ’n ou wat deal met blink klippies. Wie maak hy seer? Net die rykes ... en as jy moet hoor hoeveel stories is daar van ouens wat uit hulle plase gekroek is deur die groot companies ... ou tjom, hulle het almal voete van klei.” Dan het Gerry sy kop geskud. “Nee, ek sê jou, you must scheme and not dream, ‘cause a buck is a buck and don’t come with no luck. Niemand het hulle nog ooit ryk gewerk nie. Niemand ...”

Die mark is besonder besig vanoggend en dit is eers hier by twaalfuur toe dit begin stiller word, dat Walter kans kry om sy geldjies te tel.

Amper twaalf rand, dink hy. Genoeg vir Ouma Joey se deel, ’n rand vir die poskantoorspaarboekie en dan vir vandag se soppies.

Walter onthou die eerste keer dat Gerry hom van dié tipe bioskope vertel het.

“Sopkombuise ... soppies vir short, café-bios of tearoom bioscopes, almal dieselfde ding. Dit is waar ouens soos ek en jy nog kan afford om bioscope te kyk. Waar kry jy anders ’n double-feature, die een ná die ander, back-to-back, non-stop heeldag lank, én ’n koulie, vir net vyftien sent?”

Vir Walter het die bestaan van soppie-bioskope sy groot swakte binne sy bereik gebring. Rolprente.

Van die eerste keer dat hy in ’n bioskoop was, is hy al mal oor rolprente. Juffrou de Bruyn het eenkeer, toe Walter nog in standerd drie was, die kinders op die laaste dag van die kwartaal ’n besoek aan ’n bioskoop in die middestad belowe. Walter het in daardie stadium geen idee gehad wat ’n bioskoop was nie, maar wat hy van die opgewonde praatjies van die klas afgelei het, was dit iets soos poppespel, maar net nie met poppe nie, maar met regtige mense in rolprente, was. Wat ’n rolprent was, kon hy nie werklik verstaan nie, maar hy wou ook nie te veel vra en so wys hy’s niks gewoond nie. Toe die laaste skooldag van die kwartaal aanbreek, kon hy oorloop van opwinding. Ouma Joey was skepties, maar ’n briefie van Juffrou kon baie vermag en so bevind Walter hom toe saam op die uitstappie.

Met skoon klere, skoene netjies blinkgemaak en die kouse perfek opgetrek, is Walter saam met die klas. Eers het almal by die bushalte gewag, toe tussen die reusegeboue na die bioskoop toe.

Die rolprentwêreld het Walter totaal oorweldig. Toe die ligte in die bioskoopteater uitgedoof word en die vertoning begin, was hy verstom weggevoer na ’n wêreld van fantasie. Hy was so meegevoer dat op ’n keer, toe die held onwetend amper in die skurk se strik wou val, hy glad kliphard ’n waarskuwing uitgeroep het, tot groot vermaak van die klas. Toe die bioskoopvertoning klaar was en hulle die bus huis toe gehaal het, het Walter eers werklik tot sy sinne gekom. In ’n waas is hy weer in die bus. Hy het nie eens aan die joligheid in die bus deelgeneem nie. Hy kon nie wag om weer by ’n bioskoop uit te kom nie.

Ouma Joey het egter bioskoop toe gaan as ’n onnodige uitgawe beskou en die kere dat Walter toegelaat is om te gaan, was beperk tot gevalle waar ouers van vriende Walter uitdruklik saamgenooi het.

Die verbeeldingswêreld van die bioskoop het ’n magiese invloed op Walter gehad. Hier kon hy ’n Herkules of Zorro of Tarzan word, sy fantasieë van held, of dié van ryk besigheidsman, danser van faam, of die cowboy wat deur die bose skurk gedwing word om sy rewolwer wat weggebêre was, weer uit die kas te haal, uitleef. Walter kon nie genoeg kry van die bioskoop nie, soveel so dat dit feitlik ’n obsessie geword het.

Totdat Gerry met die voorstel van die sopkombuise tot sy redding gekom het.

Dit het baie gekos om Ouma Joey te oortuig. Daar was egter geen rede om dié kleinkind van haar te wantrou nie en sy het besluit om Walter kans te gee. Maar net een Saterdag ’n maand, en net ná al sy werkies afgehandel was en hy sy onderskeie bydraes tot die huishouding en posspaarboekie gemaak het.

Dit is vandag reeds die tweede keer dat hy en Gerry die uitstappie stad toe sou neem.

Walter stap oor na waar Gerry op die platform sit, luilekker in die son. “Ek het genoeg gemaak,” deel hy sy maat mee. “Ons kan maar waai as jy wil.”

“Nee, tjom. Vandag het my regulars my gedrop, ek het baie minder gemaak as wat ek in mind gehad het.” Gerry haal sy skouers op. “Maar ons kan maar anyway waai, hier gaan nou niks meer aangaan nie. Ai, wat ’n disappointment. Ag, nou wel, some you win, some you lose, and the ones you lose, you can never choose.”

Gerry het sy maat geleer dat mens baie goedkoper in die stad kon kom met die trein as met die bus. Johannesburgstasie, of Parkstasie, soos Gerry die stasie genoem het, was ook so geleë dat die soppies-bioskope binne loopafstand was. Veral vir twee jong, fikse en ywerige soppiegangers.

Maar eers moes die soppies nageloop word om die vertonings te vergelyk en die beste kombinasie van rolprente te kry. Dan die dagbeplanning. Dit is moeilik om op ’n Saterdagmiddag en -aand al die vertonings in al die soppies in te pas en daarom moes hulle maar goed beplan.

“Mens moet die regte double feature kry. Dan’s dit value for money,” het Gerry sy maat tydens die eerste ekspedisie wysgemaak.

Nadat hulle die kaartjies gekoop het, gaan hulle die bioskoop binne en soek die beste sitplekke. In die soppies is daar geen bespreekte sitplekke nie, jy vat wat jy kry om moontlik later, gedurende pouse, wanneer een van die rolprente klaar was en van die mense die bioskoop verlaat het, ’n beter plekkie te kry. ’n Rukkie nadat jy plaasgeneem het, kom vra ’n kelnerin jou toegangskaartjie en watter tipe koeldrank jy wou hê. Ná ’n tydjie word jy die koeldrank bedien. In ’n glas op ’n piering. Agter elke ry sitplekke was daar ’n tipe toonbank wat as tafel kon dien en waarop jy pierings, borde en asbakkies kon neersit. Die piering het ’n spesiale betekenis gehad. Dit beteken dat die dame jou nie weer sou pla vir jou kaartjie nie, want dit is aanvaar dat as daar ’n piering voor jou was, dat jy reeds betaal het. Maar jy moes ook jou geskeurde halwe kaartjie hou indien hulle jou sou vra. Verder moes die piering op sy maag gedraai word as jy die sitplek verlaat om toilet toe te gaan of dalk gedurende pouses iets te gaan koop by die kantien. Dit het aangedui dat jy weer van plan was om om na jou sitplek terug te keer.

Die kombinasie wat Walter en Gerry kies, is twee Westerns en gou is die twee in die storie wat voor hul afspeel, vasgevang. Voor hulle hulle weer kom kry, is die eerste vertoning verby en die pouse breek aan.

Walter koop vir hom en Gerry elk ’n koeldrank en sit rustig en wag vir die volgende vertoning om ’n aanvang te neem.

Terwyl die advertensies gedurende die pouse op die skerm speel, merk Gerry op: “Ek vrek vir ’n pie en gravy ... sommer ’n parfait ook.” Dit is duidelik dat Gerry nog steeds erg omgekrap en teleurgesteld is. “As my regulars maar net vanmôre uitgekom het.” Gerry staan op. “Sien jou nou. Net gou toilet toe.” Gerry skuif tussen die sitplekke deur en in die gang op na die uitgang toe, waar die toilette is.

Die forthcoming attractions en die coming soon to this screen is al verby en die volgende fliek het al ’n aanvang geneem toe Walter begin bekommerd raak oor Gerry nog nie terug is nie. Hy besluit om te gaan ondersoek instel en staan op, en skuif sukkel-sukkel in die donker na die uitgang toe.

Walter stoot die swaaideur na die toilet versigtig oop, om nie die mense wat binne die teater sit te veel te pla met die lig wat inskyn nie. Hy sien niemand in die toilet-area nie en stap om die muur na die wasbakke toe. Geen teken van Gerry nie. Dit is toe hy weer om die muur kom dat hy dit hoor. ’n Gedempte geluid van agter een van die toe deure. Walter stoot saggies teen die deur wat op ’n skrefie oopgaan. Hy kom dadelik agter dat daar nie net een persoon in die toilet is nie. Dit is Gerry en ’n man. ’n Veel ouer man. Gerry het sy arm om die man se skouer. Die man haal ’n tienrandnoot uit sy beursie en gee dit vir Gerry. Gerry omhels die man en vly hom teen die man aan. Dan gewaar hy vir Walter deur die skrefie en sy oë verstar terwyl hy sy asem skerp intrek. Die man draai onmiddellik verskrik om, stamp die deur toe en Walter hoor hoe hy die skuifslot toestamp.

Hy weet nie wanneer hy begin hardloop het nie. Walter weet net hy moet wegkom. Wegkom van Gerry en die waarheid. Wegkom van die soppies. En wegkom van die gevoel van hartseer en walging wat in hom opborrel. Dan kan hy dit nie meer hou nie. Teen ’n muur kom hy tot stilstand. Gebukkend braak hy sy afsku uit.

Dan hoor hy die kreet agter hom. “Wat hol jy weg soos ’n sleg hond? Scheme jy jouself beter as ek? Wat is jy, man? Jy’s ’n bastard! Nothing but a bastard.” Gerry kom blasend tot by hom. Hy gluur Walter boosaardig aan. “Jy hou jou bek, hoor jy! Jy weet niks. Maar jy hou jou bek. Ek vermoor jou, jy moet net kak gaan verkoop!”

Dit is asof Walter blind word. Rooi strepe flits voor sy oë. Hy spring vorentoe en met albei hande stamp hy Gerry van hom weg. “Los my ... gee pad voor my,” kry hy dit hortend uit.

Dan hardloop hy strompelend voort. Huis toe. Hy kyk nie om nie.

Eindelik is hy daar. Hy bars by die voordeur in en storm verward deur na die kombuis waar Ouma Joey soos gebruiklik agter die Singer sit. Sy kry nie behoorlik kans om van agter die masjien op te staan nie. Walter soek die warmte van haar omhelsing op soos ’n kuiken die vlerke van die hen. Die snikke skeur deur sy bors. Ouma Joey wag vergeefs dat hy bedaar, dan kreet hy dit eindelik uit:

“Meng jou met die semels, Ouma. Meng jou met die semels ...”


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.