NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Carina Diedericks
(23) is oorspronklik van Johannesburg, maar fuif tans in Kaapstad. Sy is besig met 'n honneurs in Afrikaans en Nederlands en Politieke Wetenskap. Luister gereeld na die goeroe, André P. Brink: "Only by dreaming and writing the impossible, can life be made possible once again."
  Carina Diedericks

Oogkontak


Sy staan in die ingangsportaal van die Table Bay Hotel. ’n Toeris in wit sokkies en bruin Bally sandale bekyk die pseudo-koloniale taferele teen die mure. Sy stap na die geblomde gemakstoel in die hoek voor die venster. Stadig gaan sit sy, versigtig om nie haar romp te kreukel nie. Vou die bene netjies by die enkels. Agter haar staan die glasdeur op ’n skrefie oop. Die koue wind sypel deur die skrefie. Dit ruik na see-uitklotsels.
     Uit haar swart leersak haal sy The Book of Laughter and Forgetting. Sy wink die kelner nader en bestel Chinese groentee. Sy maak die boek oop op bladsy 88. Begin lees by “ Dancing in a ring is magic ...” Sy kyk op toe die kelner die silwer skinkbord met die tee neersit.
     Die geblomde hoekies begin vol raak. Vrouens met lang Vogue sigarette en pencil-skirts drink vars uitgedrukte aarbeisap en vodka. Mans in Armani pakke en sydasse wat halfmas soos borslappe op hulle torso’s hang. Drink martini’s. Gee nie om of die goeie siel agter die toonbank die ding roer of skud nie. Maar dit is nog vroeg. Rustig lees sy verder.
     ’n Halfuur later sit sy die boekmerk in die boek. Bladsy 109. Sal volgende keer begin lees by: “I calculate that two or three new fictional characters are baptised here on earth every second.” Sy drink die laaste bietjie tee uit die wit Arzberg koppie, sit dit versigtig op die skinkbord neer en wink weer die kelner nader. Soos ’n Fred Astaire klik-klak die kelner oor die marmervloer. “Gin and dry lemon”, herhaal hy en glimlag, een wit handskoenhand agter sy rug.

Uit haar sak haal sy ’n notaboek. Sy maak die boek versigtig oop. Die sagte, bruin leer gly onder haar vingers. ’n Dik swart pen lê ingewikkel in ’n sakkie teen die regterkantse blad. Versigtig haal sy die pen uit, skroef die doppie af, huiwer vir ’n oomblik en begin skryf.
     ”Dis reeds hol, maar ek grou al langs die wande,” skryf sy in ’n netjiese handskrif op die eerste bladsy van die notaboek. Sy kyk vir ’n oomblik op en skryf dan verder.
     ”Ek maak dit al hoe leër. As ek klaar is moet daar niks wees nie. Niks moet oorbly nie. Ek put eindelose genot daarin om my vingers diep in te wikkel en stukke uit te krap, uit te trek, uit te torring, todat die stringe wat oorbly klewerig om my vingers draai en slymerig koek.”
     Sy voel die blik op haar en glimlag onderlangs. Sy skroef die doppie weer op die pen. Hy is hier. Sy kyk op. Onopsigtelik stap haar oë deur die portaal. En dan, links van haar, sien sy hom. Teen die kaggel. Hy is besig om deur ’n stapel wit papiere te lees. Sy leesbril sit halfmas op sy neus en sy Mont Blanc pen rus regop tussen sy duim en wysvinger. Hy kyk nie weg toe sy vir hom kyk nie.
     Met sy blik steeds op haar, draai sy weg en kruis haar bene. Die romp trek effens op en die waai van haar been steek wit af teen die swart romp. Ingedagte kyk sy by die venster uit. Die koue seelug deur die oop deur lig haar hare van haar skouers af. Sy streel die hare agter haar oor en leun vorentoe na haar gin en dry lemon. Uit die hoek van haar oog sien sy sy bo-arms in die gestyselde hemp wat saamtrek en ontspan, saamtrek en ontspan.
     Steeds voor haar gekeer met die drankie wat pêrels oor haar vingers laat loop, draai sy haar kop effens na links. Hy sit met sy bene uitgestrek, die koerant op sy skoot. Die wit papiere lê in ’n waaier op die tafel. In sy linkerhand rus sy pen steeds tussen sy vingers. In sy regterhand hou hy ’n glas vas. Die wit ys in die kristal Whiskey glas tingel. Sy hand bewe effens.

Stadig begin ’n glimlag in haar mondhoeke te krul. Die glimlag krul op tot in haar oë en skiet na haar slape uit. Soos ’n satynsagte blou doek streel haar oë sy voorkopwimpersneusmondkenadamsappel. Met ’n laaste kyk in sy rigting trek sy die blou doek netjies terug. Die kepe langs sy mond word dieper. Die blou are langs sy slape klop liggies. Hy staan op, stryk sy broek plat met sy klam hande en stap nader.

Sy kyk na die notaboek onder haar hand. Die ink het ’n afdruk gemaak op haar palm. Sy skroef die doppie van die pen weer af en skryf vinnig vir oulaas: “Ek voel aan my vingers. Dit is nat en klewerig. Ek voel aan die wande van my leë oogkaste. Die bloed word hard en swart.”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.