NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Charl Cornelissen
Lees elke dag van my lewe, mal oor feite en filosofeer(?), hardegat in die ekstreme (my vrou reken ek is die perennial rebel), werk elke week ’n fliekie of twee in. Musiek (daagliks) praat met my siel. Voor ek vyftig is, wil ek graag 'n voltydse swerwer wees!
  Charl Cornelissen

’n Tyd om te gaan

Charl Cornelissen

Die volgende storie mag dalk soos ’n wolhaarstorie klink, maar die mense wat weet van die dorpie sal jou sê: die plekkie bestaan wel. Dit alles gaan oor ’n ou varsity-vriend van my wat ek nou onlangs ná jare weer daar op die strate van Melville raakloop. Ons het terstond daar by De la Crème gaan sit en ’n koffie en room eclair’tjie gevat en nuus oor-en-weer uitgeruil. Ge-”hoe’s jou ma en hoe’s my ma” vir ’n vale, en dis toe dat hy dié wonderlike storie aan my vertel het. Alles in die storie, sê hy, het rêrig met hom gebeur.

Wat gebeur het was dat dié vriend van my, Antonius de Lange, ná varsity begin werk het by Chaim & Finkelstein, twee prokureurs daar op ’n dorpie in Barkley-Wes se rigting. Daar het hy mooi van besigheid geleer terwyl hy ’n ingeskrewe klerk was. Later mooi geleer van diamante en om ’n lang storie sommer lekker kort te hou, het ou Antonius met verloop van tyd sy eie dinge begin doen met die diamante saam en toe hy vyf en veertig jaar oud word het hy besluit genoeg is genoeg en het hy sy belange in al sy besighede verkoop. Skat-stink-ryk en nog nooit getroud nie, maar het darem al heelwat girlfriends gehad.

Antonius het besluit om twee jaar af te neem om bietjie te rus. Om net tyd vir homself te hê. Net dinge te doen waarvoor hy lus het. Nou waarheen gaan ’n man as hy wil wegkom van alles en almal af? Antonius het begin navraag doen en so het dit dan gekom dat hy gehoor het van ’n dorpie op ’n eiland wat deel uitmaak van Groenland, met die naam van Rijtsjavitz. Daar gaan blykbaar net mooi niks aan nie, en Rijtsjavitz het al wêreldwyd ’n reputasie opgebou dat dit dié een plek is waar mens van almal kan wegkruip. So afgeleë dat jy blykbaar jou eie spesiale proviand moet saamvat. Net die basies dinge is daar te vinde. Antonius het besluit dit klink eksie-perfeksie soos die plek vir hom. Begin rondbel en uiteindelik het hy ’n huisie te huur gekry vir ’n tydperk van twee jaar. Begin pak. ’n Paar stelletjies warm klere, baie warm beddegoed, ses kissies Roodeberg, vier en twintig blikkies gekookte kondensmelk, 20 kg biltong (ge-vacuumpack) en toe het hy veertig boeke gaan koop. Om te lees.

Op ’n goeie dag het Antonius sy mense gegroet en die tog begin. Uiteindelik na ’n lang vliegtuigrit met ’n paar oorklimstoppe en ’n stamperige bootrit het hy op Rijtsjavitz aangekom.

Die plekkie was klein ... en stil ... en vêr van alles af. Net wat Antonius wou hê. Perfek. Pragtige spierwit sneeulandskappe het orals hom begroet. Die persoon wat Antonius gehelp het om vanaf die hawe tot by sy plekkie te kom was ’n spraaksame mens. Sy naam was Tawking. Die dorp se plaaslike taxi-man en bron van informasie. Duidelik uitgehonger vir enige geselskap, het Tawking Antonius op pad na sy huurhuis met informasie oorval.

Blykbaar het die dorpie net bestaan uit ’n paar huisies, ’n winkel wat sommer as ’n gemeenskapsentrum ook dien, bv. soos wanneer die dokter en tandarts besoek kom aflê so elke drie maande, dan doen hulle hul dinge daar. Daai selfde tyd kom die pos aan saam met die dokter-hulle en word dit van daar af uitgedeel. Dan is die winkel ook sommer ’n poskantooortjie. Verder is daar ’n kroegie wat Woensdae en Vrydae en Saterdae oop is. Dan, belangrik, is daar ’n polisiestasie wat beman word deur die Sheriff en sy deputant. Antonius sê toe Tawking die woord Sheriff noem, het Tawking se oë so groot gerek dat die wit duidelik sigbaar was. En, het Tawking onbewustelik dié woord gefluister. Antonius het dit bemerk en was dadelik nuuskierig. Hy het Tawking bietjie meer uitgevra oor die Sheriff. Dit het blykbaar baie se mooipraat en die belofte van ’n kissie Roodeberg gekos om die man so vêr te kry voor hy bereid was om iets oor die Sheriff te sê.

Dit kom toe uit dat die dorpie, vanweë die afgeleë ligging daarvan, met verloop van tyd iets van ’n wegkruipplek vir misdadigers geword het. Ideaal, want niemand het hulle daar kom soek nie. Ook het hulle gewoonlik groot bedrae geld saamgebring wat dan in die dorpie se ekonomie gestort is. Probleem is net dat meeste van dié skelms dan egter net bloot hulle weë voortgesit het tot groot konsternasie van al die wetsgehoorsame inwoners. Dit was later onuithoubaar. Al die wetsgehoorsame inwoners het toe ’n vergadering gehou en besluit iets moet aan die wettelose situasie gedoen word.

’n Advertensie vir ’n wetstoepasser was geplaas. Die enigste aansoek wat hulle gekry het was van die Sheriff. Hy het hulle sommer laat weet hy bring sy eie deputant saam. Blykbaar, so vertel Tawking, het die mense stil gaan staan en stil geraak toe die Sheriff sy voete die eerste keer daar gesit het. ’n Berg van ’n man. Spiere waar ander mense nie eens plekke het nie. Dit het gelyk of mens nie met die man moet sukkel nie. En toe die inwoners sien wat die berg sommer die eerste week met die misdadigers maak wat nie mooi wil luister nie, het die manne daarna geweet met dié man sukkel mens glad en geheel nie. Tewens, jy raak stil elke keer as jy net aan hom dink. Die woord Sheriff noem jy sommer bloot nie.

Maar die Sheriff het jou uitgelos solank jy nie die plaaslike wette verbreek het of met die Sheriff skoorgesoek het nie. Dit was blykbaar geensins ’n slim ding om te doen nie ... skoorsoek met die Sheriff! Die Sheriff het ook glad nie op straat beweeg indien dit nie absoluut nodig was nie, en sodoende het sy statuur tot iets vreesaanjaends gegroei. Antonius sê toe aan my hy het glad nie in sy tyd daar, die Sheriff gesien nie.

Die eerste maand, sê Antonius, was een groot stuk saligheid. Geen oproepe, geen televisie, geen koerante met slegte nuus in nie, geen radio met slegte nuusberigte nie ... net stilte. Antonius reken hy het so dertig botteltjies Roodeberg geklap daai eerste maand en so twaalf blikkies kondensmelk, maar nie meer as so 3 kg. se biltong nie. Hy was ook trots om te rapporteer dat hy nege boeke in die eerste maand kafgedraf het.

So middel in die tweede maand het Antonius egter eensklaps agtergekom dat hy behoefte aan geselskap het. Hy het na die kalender gekyk en gesien sy geluk is in, dit was ’n Woensdagaand. Hy het besluit vanaand gaan hy bietjie kroeg toe. Teen die aand se kant homself lekker warm aangetrek en na die kroegie gestap. Daar aangekom die ergste sneeu van sy voete afgeskraap en die kroeg ingestap. Sê hy toe hy die kroeg instap het dit doodstil geraak. Almal het na hom gekyk. Selfbewus het Antonius na die kroegtoonbank gestap en op ’n leë kroegstoeltjie gaan sit. Die kroegman het nader gestaan. Antonius het aan die kroegman beduie hy koop ’n drankie vir almal.

Dit het die ys gebreek. Die manne was bly oor dié meevallertjie en het hulle so een vir een kom voorstel. Tawking was ook daar. Later die aand toe die spreekwoordelike ys nou al behoorlik gesmelt het, het Antonius besef hy sien nie die Sheriff raak nie. Hy het oorgeleun na Tawking en hom gevra waar die Sheriff dan vanaand is. Meteens kon jy omtrent die noorderligte hoor speel in die naglug, sê Antonius. Almal was tjoepstil, en, sê Antonius, almal se wit van hul oë het spierwit gebrand. Tawking het beduie, mens noem nie sommer die naam van die Sheriff nie, dis moeilikheid soek, en moeilikheid met die Sheriff is nie wat enigiemand by sy positiewe wil hê nie. Antonius het besef, dié Sheriff moet iets verskrikliks wees, en miskien is dit beter dat hy maar liewer glad nie die Sheriff raakloop in sy twee jaar daar nie. Hy het tog in alle geval niks uit te waai met die Sheriff nie.

Nog ’n sielsalige maand het verbygegaan, waarin Antonius ’n gereelde besoeker in die kroeg geword het. Sy weeklikse besoekies aan die kroeg was erg gesellig en dit het net mooi die behoefte aan geselskap in toom gehou. Ná so ’n kuiertjie op ’n Woensdagaand was die volgende paar dae se rus en stilte weer koning. Maar, ná nog so ’n maand verby is, besef Antonius eendag twee dinge.

Eerstens het hy bewus geword dat hy vrouegeselskap mis en tweedens besef hy eensklaps wat hom sedert sy aankoms nog heeltyd onbewustelik pla.Hy het nog geen vrou op Rijtsjavitz gesien nie. Probeer soos hy wou, hy kon nie onthou van een vrou wat hy in sy tyd daar al gesien het nie.

Kon dit waar wees? Daai Woensdagaand het hy die saak aangeroer in die kroeg. Soos gewoonlik met Tawking. Tawking het eers so half ongemaklik rondgeskuif en toe het hy die opset uitgelê. In die tyd voor die koms van die Sheriff het al meer vroue die dorpie verlaat a.g.v. die wilde klomp skarminkels daar en toe ná die koms van die Sheriff was daar maar altyd moeilikheid oor vrouens omdat daar so min van hulle was. Later was daar selfs ’n moord oor ’n vrou gepleeg. Toe, op ’n kwade dag kort ná die moord, het die Sheriff alle vroue uit die dorpie verban. En dit was dit.

Antonius sê my ou Tawking het éérs ongemaklik rondgeskuif ná Antonius se volgende vraag. Uiteindelik het Tawking hom ingelig dat alhoewel niemand daaroor praat nie, is dit wel egter so dat die manne met verloop van tyd maar girlfriends in die diereryk vir hulle gekry het. Antoinius reken hy is van skone skok en naarheid aan die gedagte summier huis toe. Hy het nie sy voete vir die volgende maand in die kroeg gesit nie. Die gedagte was vir Antonius eens te erg.

Maar eensaamheid is niemand se maatjie nie. Ná nog ’n eensame maand het Antonius hom maar weer een Woensdagaand in die kroeg bevind. En so het die tyd begin verbysleep.

Stadig! Alleen! Eensaam! Uitgehonger vir vrouegeselskap!

Nog twee lekker, maar veral saans, eensame maande later, betrap Antonius homself een aand dat hy ’n rob sóóó staan en betrag. Vies vir homself het hy sy huis binnegegaan. Intussen het iemand plakkate oral in die dorpie aangebring wat die jaarlikse Midwinter’s Ball aangekondig het. Dit was blykbaar dié sosiale okkasie op die dorpie en daar was altyd hope kos en drank, alles verniet, en, beste van alles, dan was daar ook ’n dansorkes. Selfs die Sheriff woon die geleentheid by. Blykbaar oefen van die manne en hulle girlfriends al geruime tyd om te dans. Sommige oefen sulke slow-shuffels en ander oefen weer tiekiedraaie en ander gaan sommer los dans.

Antonius het nie geweet wat om te doen nie, maar soos die partytjie nader gekom het, het hy besef daar is van die diere wat al hoe mooier vir hom begin lyk! Eendag, reken Antonius, toe besluit hy hy gee nie meer ’n snars om nie, dis tyd dat hy ook ’n girlfriend kry. Maar Antonius is punteneurig, hy kry nie een wat presies in sy smaak val nie, en intussen kom die Midwinter’s Ball nader. So kom dit toe dat die oggend van die Midwinter’s Ball aanbreek en Antonius nog nie ’n date vir die aand het nie. Twaalfuur daai middag besluit Antonius dis alles pure verniet, hy gaan nie Midwinter’s Ball toe nie, want hy het nie ’n date nie. Antonius reken ’n doppie om die slegte gedagte te gaan verdrink, is net die ding. Toe hy buite sy huis kom en die voordeur toetrek, dog Antonius hy gaan sommer gou net seker maak die agterdeur is ook op knip en toe, met die omstap agter die huis sien hy iets wat hom sprakeloos laat. Daar agter sy huis, in sy tuin, staan die pragtigste ou mooi vet klein pienk speenvarkie!

Antonius het sy oë gevryf, maar die pienk speenvarkie was regtig. Dis nie ’n mirage nie. Hy besef hierdie pragtige dingetjie is sy date vir die aand! Die volgende oomblik kom die speenvarkie nader gedraf na Antonius toe en toe hy sy arms oopmaak spring die varkie reguit in sy arms in. Vroetel met haar snoetjie so in sy nek. Pure lekkerte. Antonius se beker van geluk loop oor. Sy hart het gesing van heideblommetjies pluk en seemeeue en allerhande ander mooi dinge. Hy het die varkie na binne gevat en dadelik begin om ’n lekker bad vir die varkie te tap. Badolietjies waarvan hy nog so bietjie gehad het is in die bad gegooi en fluks het die wit skuim bo die bad se rand geborrel. Antonius het die res van die middag daaraan spandeer om die mooi varkie selfs nog mooier te laat lyk. Toe het hy die varkie ’n slapie laat vang, want Antonius het geweet dat hy en dié girlfriend van hom dié item by die Midwinter’s Ball gaan wees. En dat hulle gaan dans tot die son opkom.

Toe het Antonius homself begin mooimaak. Baard geskeer en lekkerruikgoed gespuit dat die soetheid so gehang het in die lug. In sy koffer rondgekrap en op sy mooi-mooi’s afgekom, dit gou gestryk, dit aangetrek en homself in die spieël bekyk. Antonius was tevrede met dit wat hy gesien het. Hy en sy girlfriend gaan vanaand die tonge laat klap.

Daarna het hy begin om die varkie mooi te maak vir die aand. Babapoeier is mildelik gestrooi, so ’n eau-de-cologne agter haar oortjies en die pragtigste oranje en swart gestreepte strik om haar nek. Die haartjies op die kop tussen die oortjies so skuins reg na agter gekam met ’n blou kammetjie, en toe het hy so ’n klein rooi tandeborseltjie uitgehaal en die varkie se tandjies geborsel. Haar asempie het na kruisement geruik. Hy het die varkie tevrede bekyk en trots hardop gedink: “Mooiste, vanaand is ons twee se aand, en niemand gaan dit vir ons spoil nie!”

Dit was toe ook hoeka al tyd om te vertrek na die Midwinter’s Ball, en trots het hy en die varkie in die ysbedekte straat afgestap. Hy het nie eens die koue agtergekom nie. Die Midwinter’s Ball was gehou in die gemeenskapsentrum. Toe hy naby die gemeenskapsentrum kom, het hy gesien dat almal reeds na binne beweeg het. Antonius was heeltemal in sy noppies hiermee want dan kon hy en sy girl ’n baie grand entrance maak. So gesê, so gemaak. Buite by die deur hoor hy van binne af ’n stem wat die mense versoek om solank na hulle tafels te beweeg, daar word nog net gewag op hom, Antonius, en die Sheriff. Die Sheriff het blykbaar laat weet daar is ’n klein oponthoud, maar hy is op pad. Goed, besluit Antonius, dan is dit dan nou sulke tyd.

Met ’n opgepofte bors van trots soos ’n skou-kropduif maak Antonius die deur oop en hy en sy varkie maak hulle grand entrance. Almal se koppe swaai deur se kant toe om te sien wie kom nou in, en toe raak dit grafstil.

Jy kon selfs ’n sneeuvlokkie hoor val.

Antonius kyk na die mense en die mense kyk met afgryse na hom. Na hom en dan na sy varkie. Hy begin vermoed dat hy lont ruik. “Maar julle het dan gesê as ’n ou hier ’n girlfriend soek moet hy maar ’n diertjie opsoek ...” stamel Antonius, toe Tawking met ’n vreesgevulde gesig en stem hom in die rede val: “Nee, dis reg, diertjies is reg, maar kon jy nie iemand anders kry nie? Moes jy in HEMELSNAAM saam met die Sheriff se girlfriend kom?”

Ek vra toe vir Antonius wanneer dit gebeur het? Nou drie aande gelede, sê hy my. Hy sê hy het reg deur die nag beweeg om by die boot uit te kom wat hom vasteland toe geneem het en van daar na die hoofstad tot by die vliegtuig terug Suid Afrika toe. Hy het vanoggend geland. Sy Roodeberg en boeke is sommer daar gelos. “Van vinnig gat-skoonmaak kan niemand my nou niks vertel nie” sê Antonius so half trots.

En toe het ek ook geleer van vinnig gat-skoonmaak. Ons het nog so lekker gesit en gesels toe Antonius my sóó begin bekyk, en uit sy baadjie se binnesak ’n botteltjie babapoeier, ’n blou kammetjie en ’n klein rooi tandeborseltjie haal en vra: “Wat maak jy later vanaand?”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.