NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Willemien Brümmer
is in die Kaap gebore en getoë, met elke nou en dan ’n tussenpose oor die water. Eers drama gestudeer aan die Universiteit van Stellenbosch, en daarna my honneurs in joernalistiek (of hoernalistiek, soos ons dit soms noem). Ek werk reeds die afgelope drie jaar by Die Burger in Kaapstad, waar ek nou mediese verslaggewer is. Wanneer ek nie oor VIGS, nuwe mediese uitvindsels of ander se verdriet skryf nie, tik ek (op my werkrekenaar) gediggies en ander skryfsels waarin ek my eie derms in Burger-tyd uitryg. Van die gedigte is eintlik geskryf as lirieke, omdat ek so half en half sangeres is ook. Hulle is egter nog nie getoonset nie. Wanneer ek genoeg geskryf het, hardloop ek die berg uit of sing opera.
  Willemien Brümmer

Geeste op aarde

Willemien Brümmer

Sy bewe liggies, soos ’n styfgespanne snaar, toe hulle na die Klein-Karoose dorpie afdraai waar hul ou familieplaas is. Wanneer hulle verby die ou kerk is en amper by die kattehuis, draai sy die musiek sagter en babbel soos ’n kerkorrel. Oor die byna tweehonderd jaar wat die huis nou al in die familie is, oor die waterkloof en oor Mademoiselle, die pop wat gemaak is om nes haar ouma te lyk.

En dan verstout sy haar selfs om vir hom te sê hoe hulle eendag daar gaan kom aftree. Net die twee van hulle tussen berge en herinnering. Sy onthou haar vorige besoek aan die plaas, en hoe sy gewens het sy kan hom ook eendag bring - toe alles tussen hulle nog onmoontlik was. Hoe sy ure op die damwal elke lyn van sy gesig voor haar geestesoog opgeroep het, hom liggies met haar vingerpunte geliefkoos het.

Wanneer hy voor die plaashuis stilhou, is sy uit die kar voordat hy eens die enjin kan afskakel. Sy gryp hom aan die arm en trek hom na die donker motorhuis waar die sleutel gebêre word. “Vandag wys ek jou die binnekamers van my hart,” fluister sy ekstra dramaties en beklou sy hand styf. Sy merk nie dat hy by haar verbykyk nie.

“Wag, ek kry eers my goed,” sê hy en loop op sy tyd terug kar toe.

Nog voordat sy hom selfs kans gee om sy tas uit te pak, sleep sy hom die huis in en stuur hom een vir een die effe stowwerige kamers in. Dit is duidelik hier was lanklaas mense. Die huis het iets soos ’n broeiende atmosfeer van so lank stilsit sonder stemme en musiek.

In die studeerkamer stel sy hom aan die portrette van haar lank gestorwe familielede voor. Aan haar ouma met haar onaardse hartseer en haar oupa wat streng op die agtergrond toekyk. In die eetkamer laat sy hom op haar voorvaders se stoel sit, en in die kombuis skink sy vir hom druiwesap in die singende beker. Met haar hand bo-oor syne dring sy daarop aan dat hy saam met haar die krake in die huis vóél.

Sy wys hom die plek waar jy deur die vloer kan val as jy nie versigtig is nie, en sy vertel van elke skildery en meubelstuk. Sy waarsku hom dat die vloere snags kraak. Maar hy hoef nie bekommerd te wees nie, dis ’n ou huis en sy verstaan die plek se nukke. Sy vertel hoe warm en uitnodigend die huis altyd vir vriende is wat na aan haar is - byna asof haar voorsate so hul goedkeuring te kenne wil gee. Vir eers swyg sy maar oor die res.

Uiteindelik lei sy hom die hoofslaapkamer binne en klim soos ’n skulp uit haar vel. (Hoe lank het sy nie vir dié einste oomblik gewag nie.) Sy skil haar stukkie vir stukkie vir hom af totdat sy heeltemal kaal voor hom staan. Binnegoed en al.

Dié keer dring hy egter vir die eerste keer na die tyd daarop aan om haar van agter vas te hou. Wanneer sy na hom toe omdraai, maak hy sy oë toe, en fluister saggies “omdraaiens”. In die insluimer voel sy hoedat hy onherroeplik van haar wegdryf - ’n staalharde werklikheid in waar daar vir haar geen vashouplek is nie. In die deurmekaar drome wat volg, voel dit asof deure wat tevore vir haar oopgestaan het skielik toeklap. Die waterkloof ’n paar kilometer van die plaashuis kabbel vreugdeloos, en dit is al asof sy skielik nie meer die gesigsuitdrukkig van die mense op die portrette in die huis kan uitmaak nie. Sy probeer hulpeloos om weer deel van die dinge te voel, maar hoe meer sy probeer, hoe verder dryf sy weg van haar jeug en die gevoel van geborgenheid wat sy altyd in die huis het.

Toe hulle wakker word is dit reeds donker. Die vuur wat hulle die middag aanmekaar geslaan het is dood, en ten spyte van die warm dag het ’n vreemde kilheid op die huis toegesak. Sy spring senuagtig op om te gaan kosmaak. Dié keer met ekstra knoffel om die koue te verdryf. Die hoender vryf sy met nog meer kruie en speserye as gewoonlik in. Tiemie vir die heesheid in sy keel, koljander vir ekstra smaak. Boegoe teen die pyn. Rissie om hul liggame weer aan die gang te skok en hope gemmer - sommer sodat alles wat onnodig is uitgeskei kan word.

Uiteindelik dek sy die tafel met langsteelglase, kerse en die dieprooi bougainvillea wat soos bloed om die huis lê. Hy eet in stilte, en maak slegs nou en dan ’n beweging wanneer hy sy kop van haar wegdraai.

Sy sien die nydigheid eerste aan sy vingers wat byna krampagtig aan die erfmessegoed vasklou. “Wat wil jy alles môre doen?,” probeer sy vergeefs.

Dit help nie sy veg teen die trane nie. Toe hulle kom, kyk hy haar die eerste keer daardie dag vas in die oë. “As jou fokken mal familie besluit om vanaand hier te spook, gaan ek wragtig vanaand in die fokken hotel slaap,” stroom die woorde byna onwillekeurig uit sy mond.

“Wat van my?” waag sy ’n antwoord. Die trane drup sag en warm op haar kos.

Maar skielik voel sy wat hy voel. Die koue begin kriewelrig by haar bene opkruip, en die gesigte op die portrette kyk dreigend toe. Aan die donker kant van die huis hoor sy die vloer hard kraak, en in die kombuis hoor sy die porselein in die boonste kassies liggies ratel.

“Ko’s fokof net,” sê hy eindelik bleek. Soos slaapwanderlaars klim hulle in haar kar, en ry die donkerte in in ’n koorsige reguit lyn. Sy sit haar voet plat op die petrolpedaal en babbel oor ditjies en datjies, maar haar woorde weier om sin te maak.

By die Royal Hotel op die dorp klim hulle uit om mense te soek, maar dié aand is al die dorpelinge reeds vroeg in die bed. Die enigste gas is die halfdronk kroegman wat nie eens agtergekom dat hulle sy kroeg binnestap, sy naam sê en weer uitstap nie.

Toe hulle niks anders oop vind nie, is dit sý wat besluit om die kar om te keer en terug te ry plaas toe. Hy probeer nog protesteer, maar vir die heel eerste keer maak sy hóm stil.

“Maak net asof daar niks is nie, dêmmit,” sê sy met saamgeperste lippe. ’n Spiertjie spring op sy regterwang en vir ’n verandering (net vir ’n oomblik) lyk dit asof hy die weerlose een is. Hy volg haar skaapagtig die huis in waar sy vasberade na die slaapkamer stap, verby die dreigende donkerte en die koue wat steeds soos mis oor die huis hang.

Maar dié keer bêre sy die donker en die koue vir haarself om in haar slaap en slaaplose wakker daarin te verdrink.

Sy borsel haar tande, skakel die lig af en klim met al haar klere aan langs hom in die bed. Vanaand gaan ’n láááng nag wees, weet sy, voordat sy moeisaam oorleun en goeienag sê. En tóé sien sy hom vir die eerste keer soos hy werklik is.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.