NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Adriaan Basson
sal dood neerslaan die dag as hy ophou skryf. Hy is op ’n soel oujaarsaand in 1980 op Knysna, “die mooiste dorp in die land”, gebore. Daarna het hy in die rural Oos-Kaap geleer om bal te skop, in suburbian Gauteng leer lees en op Stellenbosch leer dink. Hy is tans ’n joernalis by Beeld in Johannesburg en doen die afgelope jaar verslag oor misdaad.
  Adriaan Basson

Filter

Adriaan Basson

Zietsman skiet sy laaste sigaretstompie op die grond en vermorsel die gloeiende rooi as met die punt van sy swart polisiestewel. Hy blaas ’n kringetjie rook in die lug en sien hoe jong noodwerkers die vrou se groot lyf in die ambulans laai. Sy sal nie middernag haal nie, dink hy en vra Chappie vir ’n sigaret.

“Jy fokken bum ook altyd by my, jou suinige etter,” sê Chappie en haal ’n pakkie Winston Filter uit sy ligblou hemp se bo-sak.

“Ek’s eerder ’n suinige etter as ’n moffie. Kyk wat rook jy,” sê Zietsman en pluk vinnig ’n sigaret uit die pakkie.

“Fokof, kaptein! Moenie dink omdat ek ’n inspekteur is kan jy my ’n moffie noem nie. Ons weet anyway almal jy het daai rang by ’n koelie-kafee in die stad gekoop vir R50.”

Zietsman gryp Chappie aan die arm en stamp hom só hard dat hy agteroor op die grond val. Dis toe dat superintendent Gerbrand van Zyl, bevelvoerder van die eenheid teen georganiseerde en geweldsmisdaad en legendariese en gerespekteerde polisieman van Johannesburg, ingryp en Zietsman en Chappie beveel om op te hou met hulle kak. “Jirre, manne. Die lyk is nog nie eens weg nie en julle gedra julle alreeds soos hooligans. Toon tog ’n bietjie respek vir die ou meid, man.”

Die drie mans lag.

Van Zyl stap terug na die misdaadtoneel en Zietsman help Chappie om van die grond af op te staan. “Jaaaha, jy sien wat gebeur as jy met Zietsman kak soek. Laat dit vir jou ’n waarskuwing wees ... inspekteur Botha!”

“Dis die laaste keer dat ek vir jou ’n sigaret bum, Zietsman. Koop ’n slag jou eie rookgoed. En moenie dat daai ekstra strepie ’n chip op die skouer word nie ...”

Chappie gaan terug na die polisiemotor en skink vir hom ’n bekertjie koffie uit die rooi plastiekbottel wat sy vrou vir hom gee as hy nagskof moet werk.

Hy dink aan sy laaitie wat môre drie word. Sy laaitie wat hy drie weke laas gesien het.

Die misdaad is hoog in Jozi en bevele van bo maak dit vir polisielede bykans onmoontlik om beskaafde tye by die huis te wees.

Zietsman stap nader aan die toneel en hoor hoe die ambulans se deure toeklap. “Dit was seker haar man wat haar keel gesny het. Dit was gister mos weer payday en dié klomp drink mos woes op ’n Vrydagaand.”

“It couldn’t be, captain. There’s more than that to this body. It surely is a terrible scene,” sê superintendent Lucas Phiri in sy gewone ernstige stemtoon. Phiri is reeds vyftien jaar in die polisie en hy was vanaand eerste op die toneel. “I promise you, Zietsman, this ons has to be investigated thoroughly. The cut was too clean.”

Zietsman vererg hom en sien dit is reeds halftwaalf.

“Thanks for your advice, superintendent Phiri, and please remember that my name is Zietsman like in ‘a-MAN-dla’ and not like in ‘MAN-drax’.”

Phiri vererg hom en mompel iets in seTswana - ’n taal waarvan Zietsman nie ’n woord verstaan nie.

Hy loop terug na die motor en sien dat Chappie ’n uiltjie knip. Hy kruip stadig nader, maak die deur versigtig oop en skreeu kliphard: “En jy noem jouself ’n polisieman!” Chappie ruk vooroor soos hy skrik.

“Zietsman, jy moet jou kak laat staan, boetie. Ek is vrek moeg en het nie langer tyd om hier rond te hang en te hanna-hanna nie. Gaan vra vir soep of ons nie maar kan gaan nie.”

“Jy het vergeet ek is nou ’n kaptein, meneertjie. Ek moet hier bly totdat al die leidrade ontleed en opgeteken is. Die ouens vat nog afdrukke en die pers gaan netnou hier wees.”

“Die pers se gat,” sê Chappie. “Hulle skryf anyway die meeste van die tyd ’n spul kak en maak dan of die ondersoek deur hulle gedoen is. As dit nie vir die rugby was nie, het ek lankal nie meer koerant gelees nie.”

“En die cartoons is ook nie meer deesdae wat dit was nie,” voeg Zietsman ongevraagd by terwyl hy wegstap en hard met sy stewels op die teer trap om die stof daarvan af te kry. Stukkies grys spat in alle rigtings.

Hy kyk na die ambulans se rooi liggies wat verdof en sy oë beweeg onwillekeurig na die res van Johannesburg se skyline. Hier staan ’n ou saagmeule en daar ’n nuwe glasgebou. Die lugbesoedeling verdof die toppe van ’n paar geboue en hy verbeel hom die Carlton-hotel strek tot in die hemel.

’n Blink Boeing vlieg die vertes in en Zietsman besef skielik hoe baie hy dikwels die ooptes van sy grootwordwêreld mis.

Phiri, sy nuwe baas wat tien maande terug nog gesukkel het om enigiets meer as ’n konstabel te wees, roep hom na die toneel en hy raak meteens bewus van die flitsligte orals om hom.

’n Stuk of vyf fotograwe neem die bloedplasse af en druk mekaar uit die pad om die beste skoot te kry.

“Look as if you’re busy on the ground,” snou die lang Engelsman met die lang hare Zietsman toe en vir twintig sekondes weet hy glad nie wat om te doen nie.

Flitskaarte met “fok jou” skiet deur sy gedagtes, maar hy beteuel homself en loop terug na die kringetjie wit polisiemanne.

“Ek weier om verder met die pers te deal. Are we busy? As daai blerrie soutpiel maar net geweet het hoe busy ons is. Sê vir Phiri hy kan verder met hulle praat. Hy sal anyway ’n baie meer juicy storie kan vertel as ek.”

Zietsman smag na ’n sigaret. Hy stap na Chappie wat hierdie keer met baie minder teenstand die filters aan hom ontbloot.

Dan sien hy ’n taxi wat met ’n helse spoed op die toneel afpyl. “Liewe Here,” sê hy en stap na waar die taxi met skreeuende bande tot stilstand kom.

Dit is ’n ouerige, rooi minibus met ’n drywer wat lyk of hy enige oomblik kan ontplof. Op die kant van die taxi is ’n groot Springbok-logo en ’n foto van Breyton Paulse. Op die drywer se deur is ’n plakker wat lees: I’m black, not stupid.

“What the fuck happened here?” snou die groot swart man met die dik wange en groot lippe hom toe. Die man ruik na ou bier en dra ’n Tupac Shakur-beanie op sy kop. “Just tell him the story so that we can go. I don’t have time to hang around for too long.”

Zietsman is verstom deur die man se arrogansie en verstaan nie sy teenwoordigheid op die toneel nie.

Dan sien hy hoe die kantdeur van die minibus oopgaan en hoe ’n ou man met ’n kierie uitklim. Die man loop stadig en dra ’n check-baadjie waarvan die middelste knoop vas is.

“Can I help you, sir?” vra Zietsman en sien hoe die man moeisaam sy grootraambril afhaal en na die toneel staar.

Die ou man sien hoe ’n groepie wit polisiemanne staan en rook en hoor hoe hulle lag. Hy sien ’n swart polisieman wat op die grond besig is om met kryt op die teer te skryf. Dan sien hy dit: die plas bloed en die kopdoek wat hy so goed ken.

Hy sien fotograwe wat op hulle knieë staan en met flitse die bloed verlig.

Die man begin ruk en sy kierie gly onder hom uit. Hy val gesig eerste op die grond en Zietsman kan hoor hoe sy bril onder hom breek.

Zietsman hardloop vorentoe en steek sy arm na die man uit. ’n Bewerige, ou swart hand wys na die hemel en Zietsman trek die man versigtig op.

Die man slaan sy twee arms om die groot polisieman en snik teen sy bors.

“My wife ...” is al wat Zietsman tussen die gesnik hoor en hy sit sy linkerarm om die man se lyf. In sy regterhand hou hy ’n half gerookte sigaret.

Hy druk die man een keer vas en tree dan terug.

Sonder dat die man vra, bied hy vir hom die filter aan. Die ou man kyk na sy uitgesteekte hand, na die rooi kooltjie wat tussen sy wys- en middelvinger gloei en dan na die groot man se gesig.

Hy draai om en loop langsamerhand met sy kierie terug na die taxi. Die drywer toet en beduie dat die man vinniger moet loop.

Zietsman kyk na die sigaret in sy hand en skiet die stompie op die grond. Sonder om dit met sy stewel dood te trap, loop hy terug na die toneel waar sy kollegas besig is om op te pak.


12 Desember 2003

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.