NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Zandra Bezuidenhout
se debuutbundel Dansmusieke het in 2000 verskyn. Van die gedigte is opgeneem in Groot Verseboek 2000 en die Nederlandse Tegen beter weten. Verse in vertaling het vanjaar in die Vlaamse Deus ex Machina verskyn. Sy het aan die Hoërskool Hottentots-Holland gematrikuleer en aan die US gestudeer, waar sy tans werk aan 'n proefskrif oor eietydse vrouedigters in die Afrikaanse en Nederlandse taalgebiede. Sy is 'n vryskut-taalpraktisyn.
  Zandra Bezuidenhout

Van roomys en rock

Zandra Bezuidenhout

Ons was so vyftien, sestien toe die bop-sessions begin het: Saterdagaande, op die boonste verdieping van die Strand-kafee. Dan het skoolmeisies met “Tan Angel”-gesiggies en “Pink Satin”-lippies agterop Robbie en Dave en Mike se motorfietse gespring, hulle arms dubbel om die seuns se atletiese lywe gevou, en brom-brom-brrrrrrrrrrrrrrrom saam met hulle in die Hoofweg af verdwyn, tot onder om die eerste eiland. Dan was die dorp weer ’n rukkie stil.

Maar daar was ook ons ander klompie, die uilskuikens wat dit alles uit die kamer moes aanhoor, die hitsige rit na die heerlikheid van “One o’clock, two o’clock, three o’clock rock ...” Met ’n rilling langs die ruggraat het die tuisblyers kruisbeen op hul beddens gesit en willoos deur naweekkkoerante geblaai, al die strokiesprente gelees (Saterdae was daar heelwat), en stories met of sonder foto’s oor Hollywoodsterre opgeslurp. Tot daar, net tot daar, kon ons dit waag. Somtyds het ons egter radio geluister, ons oë toegemaak en geluister na die wals van Waldteufel op “U eie keuse”, of vooruit gelees in ons voorgeskrewe boeke: King Lear en Op Safari en De kleine Johannes, maar die digbundel het die meeste van ons gelos. Of ons het ons hare gewas en ingedraai, en partykeer het ons hokkieballe witgemaak ná die oggend se wedstryd op Robertson of Worcester. Daardie meisies kon nou vir jou rof speel. Hulle het nie ’n bal gemoker nie; hulle het hom gemoer. Hulle was net so kontant met die boerseuns langs die veld.

Die kern van die waarheid het elke Saterdagaand tot ons deurgedring: kort-kort was daar ’n geluid wat ons daaraan herinner het dat ons die bruising van die bop in die Strand-kafee nooit, nooit aan 't lywe sou voel nie. Ons was die meisies van die leerlingraad; die kringleidsters, die hokkiekapteins. Ons ma’s en pa’s was ordentlike Afrikanermense wat swaargekry en êrens gekom het, en kom wat wil, hulle kinders op die regte pad sou hou. “’n Kind van my,” het Pa gesê, “sal nie BOP nie!”; dan was hy rooi in die gesig en sy oë was wyd oopgesper. Daar was niks, helemaal niks verder oor te sê nie. Net ons Engelse maats, soos Alicia en Christine en Claire, kon by hulle ma’s en pa’s verbykom. En soms het iemand so Afrikaans soos Ansie dit gewaag om deur die venster te klim sodra die pastorie stil word met die oog op die Sondag. Dan het sy vir Hendriena op die hoek gekry en dit koes-koes, al met Kerkstraat langs, gemaak vir die Strand-kafee. Net ’n paar van ons het daarvan geweet. O, hulle was heldinne. Meisies soos ons, maar vreesloos, en lankal uitgekuier vir volkspele en films oor die sendingstasies in Njassaland. En dit terwyl ons so reg was vir die wêreld, voorberei deur Die Landstem en Stage & Cinema — gereed vir die rock ’n roll en die lewe van iemand soos Prinses Margaret: met “strapless” aandrokke, ’n skalkse glimlag en ’n lang sigaret ... “In a while, crocodile ...” het ons nog die oggend op die hokkiebus gesing toe ons deur die Du Toitsklooftonnel is.

Dit was selfs erger as my pa ons Saterdagaande, so ná nege, saamgevat het om te gaan Argus koop. Ek en my suster kon saamry vir ’n roomys. Bid jou aan, roomys! Terwyl die hele wêreld rock! Reg voor die Strand-kafee, net langs die blinkrooi motorfietse, het my pa die motor parkeer. Op die boonste verdieping het trosse gekleurde liggies die kartels van die balkonne gevolg. Die stoepdeure was wyd, wyd oop teen die somernag, en as jy uit Pa se Ford Fairlane geklim het, kon jy hoor hoe die blêrkas die wamstes van “hit parade” oor die winkelstoepe uitspoeg: “Why, baby why...” En as jy by die kafee instap vir die Argus en die pepermentroomys was jy was deel van die polsing en die ritme van die voetstamp bo jou kop, en jy moes jou hou asof jy dit nie hoor nie, nie voel nie ... net gewoonweg loop, links-regs, en regop. Dit was bedompig in die kafee; by die trap was daar die reuk van sigarette en die soet walm van Lily of the Valley. Dit was van Goya, en daar was altyd van die swart geriffelde botteltjies by die parfuumadvertensie in Walls Apteek. Alles was nou so verskriklik naby. Net ’n breë trap het die roomystoonbank van die danslokaal geskei. Maar tog was die bo-verdieping oneindig ver; so goed soos oorsee.

Reg voor ons het kafeepersoneel met gestyfde keppies en afgetrokke oë die melkskommels gewoer-woer, en glasbakkies met banana-splits ongeërg oor die marmertoonbank gestoot. Kelners het dit verveeld op skinkborde gepak en boontoe gedra. Ses trappe op, dan die draai, en dan nog sewe trappe. Ons het geweet, want ons het smiddae ná skool gaan kyk hoe dit daar lyk. Maar nou sou die kelners in die halfdonker tussen die swaaiende menigte inloop en alles sien, alles hoor. Hulle sou die asbakke skoonmaak en weer afkom ondertoe. Dan het ek en my suster hulle gesigte dopgehou, maar dit het geen teken gedra van wat bo aangaan nie.

Onder in die kafee kon mens, as jy vinnig speel, na die vorige week se bop-foto’s kyk terwyl die roomys in die horinkies geskep word. Jy sê net: “Three peppermint ice-creams, please”, want my pa wou ook hê, en dan skiet jy oor na die plakbord onder die trap. Daar kon jy kyk hoe die Hendriena en Ansie die vorige Saterdagaand saam met die Engelses gebop het dat hulle onderrokke wyd staan soos vlieënde pierings. Ackermans se breë belde het hulle middeltjies styf ingegord, en “kid-glove”-skoentjies van Dixies het geflits oor die vloer. Party se monde was vertrek as hul draai; die arms half in die lug gegooi, met poniesterte wat hoog sit en hardekwas wip. En daar was Robbie en Steven en Clive se bene wat bakstaan in die stywe jeans; hulle blinknat kuiwe agteroor gekam, sigaret in die hand of skeef in die hoek van die mond. Die wêreld was hulle s’n; dit kon mens op die foto’s sien.

My pa het op die toeter gedruk. Ek en my suster het met die druppende groen roomyse omgedraai en dikbek kar toe geloop. Ek was effe duiselig toe ons in die soel aandlug kom. Bo van die balkon af het ’n paar seuns nog vermakerig gesing: “Are you lonesome, tonight; do you miss me, tonight ...” My pa het die deurknip van binne af oopgemaak. Ek het die Argus en die kleingeld en ’n roomyshorinkie uit my klam greep verlos.

Ons het stadig om die eiland gery en niemand het gepraat nie. My venster was tot onder afgedraai. Daar was flardes musiek in die lug. By die jetty het die see sterk gestoot, veral met springgety, en op die draai het die liggies agter ons verdwyn. Die roomys was loperig, met die walglike smaak van peperment.

* * *


Ek het my kop toegetrek. Die nag was ’n danssaal; ’n kuil van swetende lywe, en koppe wat soen op ’n koel balkon. Mens kon die see se ruising hoor, en die fosfor sien glim as die branders breek. In die hoek het die blêrkas nooit ophou speel nie. My uitskoponderrok was ’n reënboog as Robbie my tol en vang; ’n suisende komeet as Clive my oor sy skouer swaai. Net een keer het ek wakker geword, toe die laaste motorfietse ná twee by ons huis verby is. Ek het vaagweg geweet Lorainne en Claire sit wydsbeen agterop. Ek het weer ingesluimer en my verbeel ek klim saam met Ansie of Hendriena deur ’n kamervenster; dit was ’n nimmereindigende inbraak, tot die bure se hond teen die oggend begin blaf het.

Voor Sondagskool kon ek vir Hendriena uitvra; sy sou my droom weer oopmaak. Ons ander sou haar fyn dophou as sy praat; haar oë en die kuiltjies in haar wange sou alles vertel. Ons sou die rock in haar stem optel, die dans in haar hande herken, en ons sou hoor wie die meisies se rokke die hoogste laat opwaai het, daar waar ons op ’n ry sit met die katkisasieboeke wat ooplê in ons skote. En ons sou alles weet; alles, asof ons dáár was.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.