NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Charles J Fourie
is ’n bekroonde dramaturg en regisseur van oor die vyf en dertig toneelstukke en kabarette in Afrikaans en Engels waarvan vier tekste al by Tafelberg-Uitgewers en Jonathan Ball Publishers verskyn het. Sy toneelwerk is reeds landwyd asook in die buiteland opgevoer. Van sy kortverhale en gedigte het al in letterkunde tydskrifte verskyn. Meer onlangs is sy kortverhaal, “Nelson Geniet Zanzibar” in die Vonkfiksie publikasie van Human en Rousseau opgeneem. Hy is ook die skrywer en regisseur van ’n aantal kortfilms en dokumentêre televisieprogramme, en is onlangs aangewys as ’n finalis in die RSG / Sanlam-Radiodrama kompetisie 2000.
  Charles J. Fourie

nkosi thabo

Charles J Fourie

“Mike het ’n vreemde — ding — met sy — jy weet ... gesagsorgaan,” het Sandra met onklaar sinne en haar gebruiklike handgebare vertel, “ ... nie alleen praat hy daarmee nie maar verwys hy ook daarna as — Thabo! Ergste is wanneer ons seks het, en hemel weet, Carl — jy weet ek is nie ’n vis nie! Ek het maande laas ’n orgasme gehad! Dis ’n mission-impossible situasie.”


Sandra en ek het ses maande lank saamgewoon. Half verlief en half platonies saam wakker geword in haar woonstel in Seepunt met die alomteenwoordige Robbeneiland in die verte van die baai.

Toe op ’n dag ontmoet sy vir Mike en vra my om uit te trek. Hulle het mekaar ontmoet terwyl sy by haar ouers in Struisbaai gaan kuier het na nog een van ons menige rusies. Ma en Pa het van Roodepoort langs die kus gaan aftree.

“Om weg te kom van die geweld en kriminele element in die noorde,” het haar pa dit by geleentheid in sy bierglas om die braaivleisvuur geproes terwyl haar ma eenkant op die stoep na die see gesit en staar het.

Sandra se ma was ’n dosent in sosiologie met ’n doktorsgraad verwerf in haar middeljare. Sy het nog vlam in haar lyf gehad en glad nie van die aftree by die see affêre gehou nie. Die twee jonger sussies was gelukkig getroud met professionele kerels en albei paartjies het na die ’94-verkiesings oorsee verkas. Sandra self was die los wiel aan die gesin se wa.

Miskien omdat sy nog nie getroud was nie. Of miskien omdat sy gaan kuns swot het en reeds op skool polities andersdenkend as die res van die gesin was. Ten spyte van hierdie prysenswaardige vroeë polities-humanitêre uitkyk op die lewe en die pynlike losmaak van haar Calvinistiese opvoeding was sy eerder die los speek aan die wiel van haar eie lewe.

Haar pa het die blaam vir haar “rondvallery” geplaas by haar besluit om na haar studies die verlowing met haar jeugliefde, Pierre “wynplaas” Fouche, te beëindig.

“Daar was ’n toekoms vir Sandra.”

“Los vir Carl uit, Pa”

“Carl moet weet!”

“Ek loop!”

Sandra self het egter van beter geweet. Pierre “wynplaas” Fouche het enkele maande voor hul opbreek dramaties uit die kas geval na hy saam met ’n manlike SR-lid in die toilette by die koshuis betrap is.

Twee jaar later na ’n tydperk as au pair in Holland het die verlore Sandra huis toe gekom om haar kunsloopbaan verder te neem. ’n Solo-uitstalling in ’n vriend se galery met die tema — “a wandering spirit” — as vertrekpunt vir die enkele naïewe skilderye, het haar as nuwe talent in die kunskringe van die noordelike voorstede gevestig.

Dis ook tydens die uitstalling dat ons mekaar ontmoet het. ’n Paar glase rooiwyn later het ons dieselfde aand nog die hartstog van onmiddellike aantrekking voltrek op Blouberg se strand. Ses maande later was ons egter keelvol vir mekaar.

“Te veel te vinnig, Sandra.”

“Wat bedoel jy?”

“Ons het albei ’n break nodig.”

“Van wat?”

“Mekaar.”

Dis toe dat sy Struisbaai toe is en dat Mike in haar lewe galop het. Hulle het vinnig getrou. In ’n huis in Plattekloof ingetrek waar sy ’n ateljee vir haar aan die vierslaapkamer woonkamer oopkombuis dubbelgarage 4m x 6m swembadjie in die middel van die 1057 vk/m erf siersteenhuis met ’n nuwe aansig op Robbeneiland laat bou het. Van hier was sy van plan om die Tretchikoff van die noordelike voorstede te word.


En dis my liewe verlore Sandra wat ek vyf jaar laas gesien het wat nou voor my gesit het en angstig besig was om ’n Canderal pilletjie in haar koffie te skiet.

“Jy was tog nie so nie, Carl.”

“Wat bedoel jy? Ek was tog nie so nie.”

“Jy’t nie na jou gesagsorgaan verwys as só of só nie.”

“Geslagsorgaan.”

“Geslag-gesag, wat maak dit saak.”

“Is dit Th-abo soos in president Mbeki?”

“Nee man, dis net Thabo. Ek het hom al gevra of hy ’n ding met die president het, maar nee, dis net Thabo. Thabo hier en Thabo daar. Ses maande lank al. Kyk na my, ek is in fokken ’n toestand ...”

“Nog koffie?”

“Nee, dankie.”

“Wel, ek weet nie wat om vir jou te sê nie, maar mans doen dit soms.”

“Jy’t dit nie gedoen nie.”

“Miskien het ons verhouding nie lank genoeg geduur nie.”

“Wat probeer jy sê?”

Sy’t bewerig ’n sigaret aangesteek.

“Ek dag jy’t opgehou rook?”

“Weer begin ... die hele affêre ... so wat probeer jy sê?”

“Mans doen dit. Doen vrouens dit nie?”

“Ek het nog nooit my ... gesagsorgaan ’n naam gegee nie!”

“Geslag ...”

“Dis siek!”

“Is dit?”

“Asseblief, Carl. Jy’s ’n rasionele mens.”

“Ek het gesê, miskien sou ek as ek en jy lank genoeg uitgegaan het.”

“Probeer jy nou sê dis my skuld dat jy nie jou ... ding ’n naam gegee het terwyl ons saamgebly het nie?”

“Ding?”

“Ek bedoel — jy weet wat ek bedoel!”

“Dis miskien juis die rede hoekom mans hul DING ’n naam gee.”

Vir ’n oomblik was ons albei stil. Die gesprek was duidelik besig om die ondertoon van ons toksiese verwantskap in die verlede op te roep. Sy het die sigaret in die asbak voor haar doodgedruk en haar donkerbruin oë versag. Asof sy geweet het wat deur my kop maal.

“Ek wou jou nie sien om met jou te baklei nie. Ek’s jammer. Jy moet dink ek is laf om die affêre met jou te bespreek maar ek kan met niemand hieroor praat nie.”

“Wat van jou terapeut? Sien jy haar nog?”

“Sy’s ’n vrou. Sy sal nie verstaan nie.”

“Vriende?”

“Asseblief. Ek’s getroud. Twee kinders. Daar’s nie tyd vir vriende nie.”

“Skilder jy nog?”

“Nee ...”

“Wel, ek weet nie wat om vir jou te sê nie. Ek moet bieg dis hilarious.”

Ek het gepoog om haar die ironie van die saak te laat insien.

“Ek’s bly jy dink so.”

“Maar julle ...?”

“Ja, ons doen dit nog. Maar hoe kan jy dit geniet as iemand tussendeur met sy ... penis gesels asof jy nie bestaan nie,” het sy weer haar hande in die lug begin rondswaai. “Ek oorweeg dit om van hom te skei.”

“Weet hy hoe ernstig jy daaroor voel?”

“Dis die probleem. Konfronteer ek hom, sê hy ek moet met Thabo daaroor praat.”

Sy het in trane uitgebars en opgestaan kleedkamer toe. Toe sy terugkom het sy vir die rekening gevra.

“Ek sal dit kry,” het ek aangebied.

Buite in die parkeerruimte het ons mekaar vlugtig omhels. ’n Halfhartige poging van my kant om haar te troos. Vir ’n oomblik was haar lyf en die reuk in haar nek bekend. Ek het lank in my motor bly sit na sy weggery het en die situasie probeer opsom.

Was dit ’n poging van haar kant om my uit te lok tot iets? Was sy net alleen? Het dit iets te make gehad met die feit dat sy nie meer kan skilder nie? Kunstenaars raak effe mal as hulle kreatief geblok is. En hoe erg kon dit nou wees dat Mike met sy Thabo ’n gesprek voer terwyl hulle seks het?

Ek het besluit sy was net desperaat om met iemand te praat en gehoop sy bel my nie weer nie. Kontak met ou geliefdes ontstel my gewoonlik. Veral soos in Sandra se geval waar daar onopgeloste gevoelens bestaan.


Die volgende dag het sy my egter weer gebel en gevra dat ek haar dringend vir middagete by die Blue Peter in Bloubergstrand ontmoet. Sy het reeds gedonkerbril buite op die terras by ’n tafeltjie gesit toe ek daar aankom.

“Jy’s laat soos gewoonlik.”

“Verkeer vasgesit.”

Ek was doelbewus ’n uur laat met die hoop dat sy sou dink ek kom nie meer nie en van ons afpraak sal afsien.

“Jy lyk goed,” het sy gesê.

“Jy ook.”

“Wat drink jy?”

“Brandewyn.”

“Nog steeds.”

“Nog altyd.”

Sy het ons bestelling by die wagtende jong kelnerin langs my geplaas.

“Ek het toe vanoggend met my terapeut daaroor gepraat.”

“En wat sê sy?’

“Sy se dis — penis envy.”

“En is dit?”

“Asseblief, verbeel jou ... ek is jaloers op Mike se Thabo. Ek begin anyway dink my terapeut is ’n dyke.”

“Is sy?”

“Hoe kan mens deesdae weet.”

“Ek sou sê dis ’n vereenvoudigde Freudiaanse stelling.”

“Wat?”

“Dat jy aan penis-nyd ly.”

“Dankie. Wat sal ek in elk geval met ’n penis doen?”

“Stadig.”

“Jammer, maar jy weet wat ek bedoel. So wat’s jou gevolgtrekking?”

Die kelnerin het ons drankies gebring terwyl Sandra afwagtend aan haar sigaret kou. Sy het nog nooit goed met ’n sigaret in die mond gelyk nie. Effe stylloos.

“Die probleem lê nie by Mike nie,” het ek voortgegaan.

“Dan is jy dit eens met my terapeut?”

“Inteendeel.”

“Wat dan?”

“Ek stel voor jy gee jou ... gesagsorgaan ook ’n naam.”

“Jy’s nie ernstig nie,” het sy gesê en begin lag.

“Ek is ernstig.”

“Soos wat sal ek my ... noem?”

“Wel, ek het vir jou ’n moontlike lys van name gemaak.”

Ek het die velletjie papier waarop ek die lys name neergeskryf het, uitgehaal en dit op die tafel voor haar neergesit.

“Sien jy op die oomblik iemand, Carl?”

“Nee.”

Sy het die velletjie papier opgetel en deur die lys name gelees. Vorentoe geleun en haar hand saggies oor myne geplaas.

“Ek mis jou, Carl.”

“Mis my of wil my naai?”

“Ek weet nie. Miskien albei.”

“Jy’s getroud, liewe Sandra. Jy’t kinders. ’n Gesin.”

“En jy’t niks.”

“Ek verkies dit so.”

“Ek mis jou onvoorspelbaarheid.”

“Jy bedoel my onverantwoordelikheid.”

Sy het haar hand weggeneem.

“Ons het vyf jaar gelede hierdie einste dag van mekaar afskeid geneem, onthou jy?” het sy gesê en haar oë versag.

“Ek het al vergeet.”

“So watter een van die name verkies jy?” het sy speels gevra.

“Wel, ek het gedink ... Nkosi sal nogal oulik by Thabo pas.”

“Nkosi?”

“Ja.”

“Wat beteken dit?”

“Dankie.”

Die glimlag het stadig van haar mondhoeke geglip.

“Ek moes jou nooit gebel het nie.”

“Jy moes met iemand praat.”

“Dit was ’n fout.”

“Glad nie.”

“Ek gaan deur ’n moeilike tyd.”

“Ek weet.”

“En jy maak soos altyd ’n bespotting van alles.”

Sy het opgestaan en sonder om weer na my te kyk weggestap. Haar handsak oor haar skouer geswaai. Vir die eerste keer het ek gemerk dat haar heupe uitgesit het sedert ons geliefdes was. Dat haar skouers effe hang. Dat sy ouer geword het. Vir ’n oomblik wou ek opstaan en haar terug roep. Haar vir oulaas omhels. Maar ek het bly sit. Miskien was dit tyd dat ek ook ’n intieme verhouding met my ... Thabo aanknoop, het ek gedink, en nog ’n brandewyn by die jong afwagtende kelnerin langs my bestel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.