NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Anna Kemp
is in die Vrystaat gebore en het (meestal) daar skoolgegaan en daar gestudeer. Sy het klasgegee in Afrikaans en Duits aan die Universiteite van Zoeloeland en Natal (Durban) en sy woon en werk nog steeds in Durban.
  Anna Kemp

Roulied

Anna Kemp

Sy sien vlae kleure en teksture, waar sy op die bank na buite lê en kyk: die verbleikblom by die oop venster, die geroeste rankroos, die grootblaar Delicious Monster, die fyn kantpatrone van die luiperdboom se blare, die onbeheerbare Wilde Strelitzia by die hek, en die droë takke — soos are — van ’n populier, hier en daar nog klossies blare wat oorleef.

Lug, blou lug, wit lug, grys lug, bruin lug, sien sy net soggens, wanneer sy langs die see gaan stap op die breedgeplaveide goue-myl-pad, wat — vir haar — begin en eindig by die smeulende slangpark.

Vroeg in die oggend word sy gewek deur ’n voël wat buite sit en sing. Wat klink of hy sy wysie verloor het. Soekende, deurmekaar note. Dan maak sy die kinders wakker. Sy buk oor die gloeiende kind met die koel asem. Sy raak saggies met haar vingertoppe aan die kind se lyfie. Trek, tap lewe oor na haar toe, uit die kind uit. Die koue kind, wat selfs in die warmste nagte onder ’n kombers slaap, is traag om uit sy winterslaapwêreld na haar terug te keer. Sy hou haar oor teen sy mond om te hoor — want sy kan dit nie voel nie — of hy asemhaal.

Sy maak onbyt vir die kinders. Vir die dansende akrobaat, wat aan haar maatjies snuif en skuur as sy haar by die klas aflaai, en vir die skraal kind met sy teer lang vingers, die kind wat altyd na binne kyk, met sy ingekeerde oë.

Langs die see gaan stap sy, en verdryf so die kilte wat in die laat namiddag in haar selle insypel. Die see het soms die kleur van organe, en waar die vlakwater oor die sand uitspoel en terugtrek, lê die skuim — spierwit — oor die water. Netvet gespan oor donkerrooipers lewer.

Waar sy op die bank lê, vasgeval in die swaar middaguur, met windklokkies en ligmusiek en ’n geïgnoreerde huisalarm op die agtergrond, dink sy dat indrukke en herinneringe soos die wolke by die see is. Wolke sonder buitelyne, wat op ligte dae verbydryf en oor die horison, waar die oog nie kan onderskei tussen water en lug nie, verdwyn. Wolke met buitelyne, wat op dae, wanneer die loodgrys lugruim afdruk op die see, op die swart-gestreepte horison mobiliseer.

Sy glimlag as sy aan die car guard dink, wat met sy verlepte bene en breë glimlag geruisloos in sy rolstoel uit die bosse verskyn by die strand, waar sy altyd parkeer.

Sy stap stadig, aanvanklik. Sy voel hoe die vogtige hitte haar oraloor bedek. Anders as die vurige sonhitte van die binneland, wat strepe op haar neus en nek en skouers brand. Soms stap sy sonder selfbewustheid. Gegrond. Sy stap asof ’n hand van voor teen haar druk, en sy daarín stap. Lang treë, los arms. Met ’n swaarte in haar onderlyf en bene, haar maag ’n kloppende bloedsak. Die geplaveide pad en die betongeboue absorbeer haar blik en haar gedagtes, kaats dit nie in harde seine terug nie.

Sy gaan daagliks deur die groetritueel met die ou deurskynende vroutjies, met hulle gekkovingers vertroulik op mekaar se arms. Sy hoor hulle uitasem-gesprekke: you know, she said … and then he said … and they did … and that was not the end … and that just shows you …. Sy sien die strandskoonmakers — donker skaduwees met rubberhandskoene en groen plastiese sakke. Die drawwende lewensredders, glimmend swart, behalwe die ryklik getatoeëerde een wat voor hardloop, wat lei. Die meisie, wat lustig aan haar roomys lek, laggend saam met haar vriendinne. Wat die bababedjie in haar hand argeloos rondswaai, soos ’n skooltas. Die ou man met sy gevlekte vel, sonbril, sagte heupe en smal skouers. Behoeftig vra hy uit na haar en die kinders terwyl hy die materiaal van haar staphemp tussen sy middelvinger en duim vryf. Hy hou sy hoed skuins langs sy gesig om die stomende son van sy weerlose vel weg te keer, en die lawaaierige windjie uit sy oor met die gehoorapparaat.

Verder aan stap sy verby die duiwe, met rooi oë en pote, ingeteel, bronstig van paringslus, met ’n pouglans — soms — in hulle nekvere as die son hulle reg vang. Wanneer kinders vir hulle mieliepitte uit klein bruinsakkies voer, klap hulle aggressief na mekaar en skrop suinig op die grond waar die pitte val. Jaag die twee of drie seemeeue wat nader vlieg venynig met hulle getalle-oormaat weg. Sy onthou dat hulle een keer, toe dit reënerig en vreemd koud was daar op hulle plein, stemmig bymekaar gesit het, koppe in die wind in. Soos gemeentelede het hulle gelyk, op ’n ysige Sondagaand in die kleindorpse kerkie van haar kinderjare: beteuterd, nekke ingetrek, half nors, half verleë oor hulle uitgelewerdheid.

Splinters lig spat uit die speakers op die vloer langs die bank waar sy lê. ’n Trio, met ’n klavier, ’n viool en ’n tjello.

Sy dink aan die klanke, die musiek langs die see: die hartstogmusiek wat reeds vroeg in die oggend teen die oop poolbar se trappe uitkruip, terwyl ’n skoonmaker met afgewende gesig en mop die vloer binne was. Die goue-sand-en-hare-musiek van die veteraan-surfers. Hulle vryf hulle langborde tydsaam in met sexwax, terwyl hulle oor groot swart luidsprekers die emosies van hulle jeug speel. Eenkant sit hulle vergane verbrande vrouens ver oor die see en uitkyk. ’n Geparste ou matroos sit elke oggend op dieselfde plek sy blokfluit vals en speel, en kyk met een oog op na haar as sy verbystap. Hy stop soms, in die middel van een van sy melodieë. Gesteurd stop hy, en krap dringend aan sy nek, of aan sy arm. Hy begin nie weer speel waar hy opgehou het nie. Hy volg, in stilte, krappend en knikkend, die melodie in sy kop en begin ’n paar mates verder aan weer soet-vals speel. ’n Deel van die melodie tergend onhoorbaar vir dié wat sou luister. Onder die palmbome sit daar af en toe ’n man met ’n kaftan en sing met ’n liriese stem sy enkeling-liedere. Sy krukke langs hom teen die muurtjie gestut.

En eenmaal het sy, bo al die ander klanke uit, die roulied van die voddige man langs die kinderpoel gehoor.

Sy lê op die bank en kyk hoe die lig deur die skaars openinge tussen die blare beur. Sy sien haar silwervriendin. Met die goue loupe om haar nek, met klein diamantjies daarin. Die goud en diamante het sy van haar trouring en haar verloofring, wat sy laat smelt het, herwin. Toe sy begin sien het, toe sy begin foto’s neem het.

En sy dink aan Johanna, wat haar trouring aan ’n dun goue ketting om haar nek dra, omdat dit haar hinder aan haar hand as sy klavierspeel. Baie dinge hinder Johanna as sy klavierspeel. Vloeke, verwyte — klippe wat op haar stywe nek- en skouerspiere val — elke keer as sy stadig, tastend op die note begin druk. Haar pa het haar verseker, toe sy agtien en bang en swanger was, dat God haar sou straf, oor die skande wat sy oor die huis gebring het. God sou verhoed dat sy klavierspeel. Later het haar man God getrou bygestaan. Hy het haar vertroude musieknote opgeskeur, die lang nag voor haar eksamen, toe sy huilend van angs was oor die kind se asmabors. En sy hom by die kroeg gebel het. Oor haar onredelikheid het hy haar gestraf. Dis waaraan Johanna dink as sy somtyds huiwerig en sag voor die klavier begin huil.

Wanneer die melodieë stokkerig onder Johanna se stywe vingers uitklink, onthou sy die klanke van die geheime taal wat sy met haar kind gepraat het: gutturale, swaartongige, rollende, slepende speekselklanke, wat net sy en die kind verstaan het. Die kind, die maankleurige kind, met reguit donker strepe vir wenkbroue en ’n yl glimlag, wat een hele dag lank met die afgestorwe troetelkonyn kon speel. Sy kon die eens uitnodigende maar onwennige konynlyf in babaklere aantrek, in ou kombersies toedraai, ronddra, rondstoot. En teen skemer afgee vir die begrafnis. Johanna onthou ook, daar voor haar klavier, die seuntjie wat so graag saam met haar kind met die Barbie-poppe wou speel. Die dag van die swemles. Toe sy pa hom ru uitruk uit die sagte pienk wêreld en in die swembad indompel. Die spartelende, stikkende kind, wat elke keer as sy kop bo die water kom, skree: Pa! Nee!

Johanna, wat soms ure doodstil voor die klavier sit. Wat die nag ná die kind se geboorte nie kon ophou vloei nie — donkerrooipers bloed.

Die vrou op die bank, wat aan Johanna lê en dink, hoor nie dat die musiek opgehou het nie. Sy hoor net die stadige suisende val van ’n ou palmblaar.

Sy onthou die stil glimlag van haar silwervriendin, wat ’n goudomrande oog om haar nek dra. Sy glimlag, die silwervrou, want sy dink aan die dag toe haar seun agtien jaar oud was, en sterk. Die dag toe hy sy pa in die rivier oorwin het. Toe die speelse oorwinnings werklikheid geword het in die goue Lala-rivier. Gewaarwording het op albei se stil gesigte gelê toe hulle deur die vlak water na haar toe stap.

Die silwervriendin, wat ure in die veld rondstap, stil, nadenkend, soos ’n sekretarisvoël. Sy bekyk die ander voëls deur haar verkyker, bestudeer hulle habitat en eet- en broeigewoontes in haar voëlboek. Stadige, lang treë, ’n effense krom rug — so stap sy.

Die silwervriendin, wat onkeerbaar begin vloei het, toe sy begin sien het, deur haar kameralens.

Die vrou lê in die soel stilte op haar bank. Sy sien die blomlose verbleikblom en sy besmette buurplant, die rankroos. Die druppende draakvingers van die Delicious Monster, die broos blare van die luiperdboom, die onstuitbare Wilde Strelitzia, die sterwende populier.

Sy onthou die oë van haar geliefde. Haar geliefde wat soos ’n sagte droë kombers oor haar kon kom lê. Toe hy opstaan van die sementstoep waar hulle ineengevleg was, was die lig uit sy oë soos die laaste lig op die heuwels rondom hulle. Ek wil oor jou bloei, het hy gesê. Ek het jou so lief, ek wil my slagare, my polsare oopsny en so oor jou ivoorlyf staan en bloei. En dit is die laaste wat ek wil sien — jou papierblomoë, jou lyf rooi van my bloed. So wil ek sterf.

Die vrou kyk deur die venster. Teen die verdonkerende groen buitelug sien sy op die stowwerige vensterpaneel die fyn afgeëtste vere van ’n voël — tot die delikaatste borsvere en vlerkpunte. Hy moes in die glas vasgevlieg het.

Sy kyk na haar beaarde benerige hande. Die kaal vingers. Haar trouring het sy een oggend, ná haar stap langs die see, van die pier af in die water gegooi.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.