NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Annemarie Marais
is gebore in die verre Wes-Transvaal, het skoolgegaan in Linden, Johannesburg en graad gevang by Tukkies. Sedert 1987 is sy ’n aangeleerde Pretorianer, ’n joernalis by Beeld en ma van twee dogters — nie noodwendig in daardie volgorde nie.
  Annemarie Marais

Plig

Annemarie Marais

Sy waai vir haar man in die truspieëltjie, sien hoe hy in die donker omdraai en die huis instap. Die roete is oorbekend, haar hande beweeg werktuiglik om die rathefboom, die stuurwiel. Sy skakel die motorradio aan, maar luister nie met aandag na die geselsprogram nie.

Die oproep van haar vriendin was onverwags. “Ons moes Suid-Afrika toe kom. Louise is siek, ons was bang dis dalk malaria. Die dokter by die sendingkliniek het gesê dis beter om maar hier te kom seker maak wat gaan aan. Wil jy nie vanaand gou ’n draai maak by die hospitaal nie? Ek slaap daar.”

Sy het nog nie die baba gesien sedert dié se geboorte in Zambië nie. Ná ete het sy haar eie kinders gou gebad, haar handsak gegryp en gesê: “Ek ry net gou. Sal in elk geval nie te lank kan kuier in die hospitaal nie. Is nou weer terug.”

By ’n stopstraat lui haar selfoon in die handsak wat sy onder die passasiersitplek ingedruk het. Sy buk vorentoe, voel in die donker na die foon.

Wanneer die venster vlak by haar linkeroor breek, klink dit soos ’n geweerskoot. Haar kop ruk op, sy voel die sak verby haar wang skuur en hoor hoe sy onophoudelik gil. Later sou sy die vrou in die motor agter haar se oop mond onthou, die groot, verstarde oë. Haar bene ruk en sy kry nie die pedale ingetrap nie. Die kar stol en sy gil weer. Haar hande bewe, sy kry die motor weer aan die gang en skiet regs verby die motor wat voor haar wag om die straat te kruis, draai links voor hom én die aankomende verkeer in. Twee straatblokke verder besef sy sy weet nie waarheen sy ry nie.

“Kom nou, dink man, dink!” Sy gil op haarself, skielik woedend vir die verlammende angs, siedend omdat sy nie die sak gegryp het nie. “Bel. Nee, ek kan nie. Alles is weg. Dis fokken weg!”

’n Straatblok verder onthou sy waar die polisiestasie is. Lank bly sy in die motor sit, haar kop op haar hande wat om die stuurwiel klem, voordat sy haarself sover kry om uit te klim. “Kalm, word om godsnaam net kalm. Dit gebeur met elke tweede een. Ag fok tog.”

Die polisieman trek ’n vel wit papier nader toe sy hom vertel wat gebeur het. “Naam? Van? Identiteitsnommer? Waar het dit gebeur? Jou sak was seker op die sitplek.”

“Dit was ónder die sitplek.”

“Help nie, mevrou. Hulle het jou al twee straatblokke voor daardie een opgetel. Staan langs die pad en maak of hulle wil oorstap. Baie tyd om te kyk. Dan bel hulle die volgende ou. Wat was alles in die sak?”

’n Telefoonboek met tien jaar se werkskontakte — van Mbeki se woordvoerder tot Gertjie op Gatsrand. Die fotonegatiewe van haar oudste se eerste skooldag wat sy nog nie tyd gehad het om te laat ontwikkel nie. Stiffies met alles wat sy van die rekenaar skoongemaak het voordat haar man dit vir sy kinders uit sy vorige huwelik geneem het. Haar identiteitsboekie. Bestuurderslisensie. Bankkaarte. Tjekboek. Selfoon.

“Wat skat u die waarde van die handsak en die inhoud, mevrou?”

Onvervangbaar, jou moroon. “Miskien so R1 500?”

“Enige kontant, mevrou?”

“Nee.” Die bliksem. Die fokken bliksem. Hy kan net die selfoon gebruik.

“Hier is die saaknommer. Jy sal dit nodig kry vir die versekering. En moet nou nie weer ’n handsak op ’n sitplek los nie. Ons het genoeg werk soos dit is.”

Gaan kak man. “Dit was ónder die sitplek.”

Die nagwind waai koud deur die stukkende ruit op pad terug huis toe. Stukkies glas skud los oor elke knik in die pad.

Haar man kyk verbaas op wanneer sy die huis instap. “So gou terug?” Hy eet ’n halwe papaja met ’n teelepel. Die kinders sit voor die televisie en speel met hulle Barbies.

“Die venster is uitgeslaan.”

“Watter venster?” Hy hou aan met eet.

Sy haal diep asem, gaan leun teen die kosyn om die nuwe lamte te besweer.

“Die donnerse motorruit.”

“Nou waar het dit gebeur?” Hy skil die laaste vleis van die oranje vrug uit die skil.

“By Universiteitsweg. Terwyl ek in die motor was.”

Nou kyk hy weer na haar. “Hoekom ry jy nie oor die ou nie?”

“Shit ja, ek wil graag sien hoe de hel ’n mens dit binne vier sekondes moet regkry. Met twee motors voor jou en een agter jou. Jý sou dit seker kon doen. Dalk nog die ou aan die nekvelle gegryp het, nè? Ek kon fokken gekaap gewees het en al wat jy doen is om aan te hou papaja vreet!”

“Dis nie nodig om te gil nie. Kom sit, dan maak ek vir jou tee.”

“Ek wil nie donnerse tee hê nie! Ek wil hê jy moet net ’n klein, ’n baie klein ou bietjie bekommerd wees! Hel, ek kon gekááp gewees het!”

“Dan kon jy sommer die hele motor geeïs het.”

“Fokof man!” Sy slaan die badkamerdeur agter haar toe en begin rukkend huil toe sy die oudste hoor vra: “Hoekom is Mamma so kwaad?”

Sy hoor hoe hy die ketel aansit. ’n Rukkie later klop hy aan die deur.

“Kom drink jou tee.”

Sy was haar gesig met koue water, onthou die koue wat skielik deur die stukkende wind gekom het. Dit was alles so verdomp vinnig. Sy het altyd gedink sy sal dit kan hanteer, dit sien kom en wegjaag, ’n sak kan gryp, ’n arm byt. “Ek kom nou.”

Die rooibostee staan langs die telefoon wanneer sy uit die badkamer kom. “Jy moet jou bankkaarte stop.”

Gelukkig weet hy nie hoe min geld daar in haar rekening is nie. Ieder geval skuld sy die bank soveel geld dat nie eens ’n boef iets met die kaarte sal kan doen nie.

“En die selfoon moet op die swartlys kom. Het jy die reeksnommer?”

“Ja,” lieg sy. Sy wou dit die hele tyd nog afskryf en het ook nooit dáárby uitgekom nie.

Die kinders bly om haar draai terwyl sy oor die telefoon praat. Oor en oor hoor sy die slag waarmee die ruit aan stukke gespat het, sien die donker figuur weghardloop met haar sak onder sy arm. Wanneer sy die gehoorstuk neersit, sê sy vir haar man: “Ek het nog oorgebuk om die sel uit my sak te haal want dit het gelui. Toe druk hy my kop uit die pad en gryp die sak. Die bastard.”

“Was die sak op die sitplek?”

“Nee. Ónder die sitplek.”

“Beste om dit maar in die kattebak te sit in die toekoms.”

Sy byt ’n antwoord terug. “Miskien het hy alles net daar laat val. Die beursie en die sel gevat. Miskien sal ek die res terugkry.”

“Moet ons nou ry? Wil jy gaan kyk?”

Sy dink aan die hardlopende figuur. Dit kan net ’n jong ou wees wat so kan hardloop. En dis naby die spoorlyn. “Nee. Ek wil nie nou teruggaan nie. Miskien môre.”

“Nes jy wil.”

Soos ’n refrein hoor sy deur die slaaplose nag die slag soos die motorruit aan skerwe spat. Sien die figuur donker weghardloop, onthou die vrou in die agterste motor se oopgesperde mond. Die groot oë. Siestog, dié ly seker ook nou aan skok. En dan die woede. Fokken bastard. En vir haarself. Pieperige slagoffer. Sy kreun as sy onthou haar suster wat skaars ’n jaar gelede Kanada toe geëmigreer het, land die volgende dag vir ’n kort kuier. Sy skud haar man wakker. “Ek maak jou dood as jy vir Alet vertel. Ek kan net hoor hoe sê sy, ‘Ek het mos gesê.’ Sy kan weet my handsak is gesteel maar nie hóé nie. Hoor jy?”

“Kom tog nou tot ruste.” Hy draai om, slaap verder. Sy draai op haar ander sy. Ek wens dit wil met jou gebeur. Sal wil sien wat jý doen. Sal jou wrágtág nie jammer kry nie.

Eers teen die eerste vroegwinterligdag sluimer sy in. Staan wars op. “Wil jy nie net die kinders skool toe neem nie? Ek wil nie met hulle ry nie, nie so met die stukkende venster nie.”

“Het jy vergeet ek gaan vandag Pietersburg toe? As ek nie kwart voor sewe ry nie, is ek laat.”

Fok julle almal. Sy plak ’n swart plastieksak oor die venster en vertel vir die kinders stories op pad skool toe. Onthou om vir die juffrouens te sê die selfoonnommer wat die skool het, geld nie meer nie.

Op pad werk toe wonder sy of sy nie moet gaan kyk of sy iewers iets sien lê nie. As sy net haar telefoonboek en die fotonegatiewe kan kry. Haar moed begewe haar.

Teen halftwaalf is ’n nuwe motorruit geïnstalleer met geld wat sy by die werk moes leen omdat sy vergeet het al haar rekeninge is gevries. Woedend vir haar man omdat hý nie daaraan gedink het nie.

Laatmiddag gaan soek sy en ’n kollega al langs die spoorlyn, maar vergeefs. Wanneer hulle tussen die pendelaars deurstap, dink sy vir die eerste keer daaraan. Onderdruk die gedagte onmiddellik.

Mettertyd vervaag die klank van die brekende glas, vergeet sy die koue wat eensklaps deur die motor gewaai het. Die stukkies glas wat by elke hobbel in die pad op die sitplek val. Maar dáárdie gedagte dobber telkens boontoe.

“Bokkie?” Sy kyk na haar man, wat pas die voordeur ingestap het, van waar sy gebukkend oor haar nuwe handsak buk. “Ek móét net gou terug kantoor toe. Ek het ongelooflik baie werk en het die stiffie daar vergeet. Die kinders is reeds in die bed en ek sal gou wees.” Sy swaai die handsak oor haar skouer, soen hom skrams op die wang. “Sien jou nou-nou. Het mos ’n nuwe sel, onthou?” Sy lag skalks.

“Wees nou versigtig.” Hy wag totdat sy die handsak in die kattebak sit, waai haar agterna.

By die kafee op die hoek stop sy, haal die handsak uit die kattebak en sit dit op die passasiersitplek neer. Die vensterruit draai sy halfpad oop voordat sy die motor se neus op die oorbekende roete stuur.

Dit gebeur by die derde stopstraat. Sy voel hom aangestap kom, haal die motor uit rat en trek die handrem op. Wanneer hy sy arm deur die ruit steek, mik sy vir die enigste stukkie vel wat tussen die toegeritste, donker leerbaadjie en die gesigmus uitsteek. Sy moet hard trek aan die mes se hef voordat dit met ’n suiggeluid loskom. Fokken bastard. Dan sit sy die motor in eerste rat en trek weg.

By haar kantoor se parkeerterrein haal sy die emmer en lappe uit die kattebak en soek na ’n kraan. Sy was al die bloed op die sitplek en aan die buitekant van die motor af. Die bebloede, leë handsak en ou skoolhandskoene gooi sy in ’n vullisdrom op die hoek van die straat. Die mes slinger sy by die venster uit wanneer sy onderdeur die spoorbrug terug huis toe ry.

“Tee? Ek is nou net besig om te maak,” sê haar man wanneer sy die huis instap.
“Het jy alles gedoen gekry wat jy moes?”

Sy neem ’n slukkie warm tee. “Ja, alles wat ek moes.”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.