Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Opwindende eksperimentele teater by die KKNK: Trek

TrekDis nie aldag dat 'n mens die kans kry om halflyf binne die skeppingsproses te staan en te sien hoe 'n visuele kunswerk voor jou oë ontvou nie. Dit boonop teen die betowerende agtergrond van 'n sonsondergang in die Klein Karoo ...

Trek , een van die mees interessante en unieke produksies op hierdie jaar se Absa KKNK, gee die gehoor geleentheid om te deel in 'n opwindende eksperimentele teaterervaring. Die produksie, onder regie van Gaerin Hauptfleisch, kombineer die fassinerende werk van landskap- en visuele kunstenaar Strijdom van der Merwe met verskeie ander kunsvorms insluitend die musiekontwerp van Schalk van der Merwe van Bed on Bricks en Delta Blue.

Die teaterervaring sal ontvou op die Arnold de Jager Ovaal-renbaan wat net buite Oudtshoorn geleë is. Hauptfleisch vertel dit is juis die plek wat die hele idee vir so 'n multimedia vertoning laat posvat het.

"Ek het die plek al 'n ruk gelede ontdek en besluit dit sal lekker wees om iets daar te doen. Dit is bo-op die koppies net buite Oudtshoorn, so jy kan die natuur as jou backdrop gebruik. Ek en Stephanie Hough (aktrise) is albei mal oor Strijdom se kuns en het toe besluit om al hierdie dinge te kombineer. Die gedagte was om Strijdom te kry om die stel te ontwerp en dit te kombineer met die musiekontwerp en akteurs, sodat die verskillende kunste mekaar inspireer en kreatief stimuleer. Schalk en ek het al vantevore saamgewerk, so hy was van die begin af deel van die konsep," vertel Hauptfleisch.

Die hele produksie wentel om die begrip "trek". Die teks - in Afrikaans, Engels en Xhosa - is geskryf deur die akteurs self. "Die akteurs gee hulle insig in die woord 'trek' en hoe hulle dit verstaan, so daar is ook kulturele wisselwerking," verduidelik Hauptfleisch. "Daar is ook wisselwerking tussen al die mense en kunste betrokke, alles met die begrip 'trek' as deurlopende tema."

Hauptfleisch sê die natuurlike omgewing waarin die produksie gaan plaasvind speel 'n belangrike rol, met musiek en drama wat die landskap beïnvloed en die landskap wat die kuns beïnvloed. Maar die omgewing het ook unieke uitdagings gestel, veral op tegniese gebied.

"'n Mens word beperk, maar ook bevry deur die plek waar dit plaasvind. Dit maak dit ook baie interessant en dwing jou om met kreatiewe oplossing vorendag te kom in terme van beligting en ander tegniese aspekte. Dis eintlik baie opwindend." Landskapkuns

Die vertoning begin rondom sononder - as die mense daar aankom is dit lig, maar as hulle weggaan is dit donker, wat op sigself vir 'n interessante dimensie sorg. "Die voordeel is dat ons in die donker met die ligte kan speel en dit kan sorg vir baie dramatiese effekte. Ons kan die gehoor daarmee fokus en presies beheer wat ons wil beklemtoon."

Hy glo die produksie sal die gehoor 'n unieke visuele en ouditiewe ervaring bied op alle vlakke, met die fokus op Van der Merwe se kuns, wat stuk vir stuk "geskep" sal word tydens die vertoning. "Iemand soos Strijdom se werk inspireer en stimuleer jou."

Van der Merwe, wat primêr bekend is as landskapkunstenaar (hy gebruik die natuur, onder andere sand, water, en klip om sy kunswerke te skep), sê hy is baie opgewonde oor die produksie, maar vind dit terselfdertyd vreesaanjaend.

"Die res van die groep het 'n manier van dinge doen wat heel anders is as wat ek gewoond is - 'n jonger generasie. Maar as 'n mens net altyd die beproefde resep volg, is dit baie vervelig. Êrens moet 'n mens 'n bietjie waag. Ek het gevoel, hoekom nie? 'n Mens moet jou grense bietjie breër maak en jouself bietjie oorgee aan ander mense. Dis daardie onbeheerde faktor wat dit so opwindend maak."

Volgens hom sal daar waarskynlik heelwat improvisasie tydens die vertoning nodig wees, omdat "jy blootgestel is aan die elemente van die natuur".

Hy vind die interaksie tussen die visuele kuns en die uitbouing daarvan met dansteater fassinerend.

"Die produksie is redelik abstrak en die mens wat dit kyk sal hom moet uitgee vir 'n ervaring wat heeltemal iets anders is," waarsku hy. "Gaerin het vir my gesê hy soek iets wat visueel 'n baie groot impak gaan maak en maklik sal wees vir die akteurs om op te sit. En dis wat ek hom gegee het: Reuse wit seile wat tydens die produksie opgetrek sal word aan agt meter hoë pale."

Trek sal te sien wees by die Absa KKNK van 1 tot 7 April. Vir meer inligting, raadpleeg die Feesgids.

Voorstelling van die installasie vir die produksie

LitNet: 24 Maart 2006

Wil jy reageer op hierdie kennisgewing? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.