Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The ABSA/LitNet
Chain Interview

Die Ketting

Johann Lodewyk MaraisJohann Lodewyk Marais is op 21 Desember 1956 in Johannesburg gebore en het aan die Hoërskool Harrismith gematrikuleer. Daarna studeer hy aan die UP waar hy 'n D.Litt.-graad vir sy proefskrif oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa verwerf. Marais debuteer as skeppende skrywer met die digbundel Die somer is 'n dag oud (1983), waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys kry. Hy skryf nog vyf bundels, naamlik Palimpses (1987), By die dinge (1989), Verweerde aardbol (1992), Aves (2002) en Plaaslike kennis (2004). Hy stel ook drie digbundels saam, naamlik Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se "Winternag" op 23 Junie 1905 (2006). In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, naamlik Lae wolke oor Mosambiek: 'n Reisboek. Marais is hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort.

Johann Lodewyk MaraisAlexander Strachan bring sy jeug deur in Ladysmith, Noord-Natal. In die Weermag word hy lid van die verkennings-kommando, algemeen bekend as die recce's. Hy neem deel aan verskeie Weermag-operasies, onder andere in Angola. Ná studie in tale aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (en later in literatuur-wetenskap aan Unisa) word hy professor in Zoeloe aan die Universiteit van Zoeloeland. Ná sy bedanking skryf hy voltyds en sit sy wildboerdery voort. Sy eerste boek is 'n kortverhaalbundel, 'n Wêreld sonder grense, waarvoor hy die Eugène Marais-prys ontvang. Hierdie boek maak saam met die werk van ander skrywers (soos JC Steyn, Etienne van Heerden en Koos Prinsloo) deel uit van grensliteratuur. Die Jakkalsjagter is Strachan se debuutroman en wen die De Kat/Potpourri-prys. Daarna volg die romans Die Werfbobbejaan en Agter die suikergordyn. Hy is 'n vlot Zoeloespreker en hou hom deeltyds besig met industriële teater wat hy volledig via die medium van die inheemse tale aanbied.

Johann Lodewyk Marais gesels met Alexander Strachan

1. Jy bly nou die afgelope twee jaar permanent in Milnerstraat op Harrismith. Hoe het dit gekom dat jy jou daar gaan vestig het?

Ek en my broer Johannes het dit drie jaar gelede reggekry om my oupa se familieplaas terug te koop. Op daardie stadium het ek in Johannesburg gewoon en dit het die plaas baie onbereikbaar gemaak. As gevolg van die afgeleë ligging van die plaas moes ek noodwendig 'n huis in die dorp kry - 'n ou huis met 'n eiesoortige plaaskarakter. Verder was ek ook moeg vir die groot stad se bedrywigheid en gejaagde tempo. Harrismith was 'n logiese keuse omdat dit die naaste dorp aan die plaas is. Die eiesoortige sandsteenboustyl van die omgewing is vir my 'n groot bekoring en as ek op die plaas tussen die sandsteenkoppe rondry, voel dit dat tyd hier gaan stilstaan het en die verlede en die hede ineenvloei. Jy kry die gevoel dat dit is soos dit eeue gelede was. Niks het hier verander nie.

2. Toe ek onlangs saam met jou Oude Hamelberg toe gery het, het jy my jou oupa Alex se opstal gaan wys waar hy teenaan die pad ’n plaaswinkel gehad het. Dit is ’n baie mooi plaas tussen die berge langs die boloop van die Wilgerivier waar jy graag saam met jou oupa gaan visvang het. Het jy die rondawel al reggemaak en wat beoog jy om op die plaas te doen?

Ek boer op die oomblik met vleisbeeste daar. Ek het die murasie skoongemaak, die bloekombome wat daarbinne gegroei het, afgekap en vergiftig, en die vloer gelykgemaak. Die plankvloere is vir ewig weg en die murasie sal waarskynlik nooit 'n dak opkry nie, maar dis 'n lekker gevoel om daarbinne rond te stap. Die plek het 'n teenwoordigheid. Ek herken nog elke kamer, al het ek die sooi-binnemure afgebreek, en ou herinneringe kom terug as ek daardeur stap. Selfs die kaggel is nog steeds daar en die werkers maak soggens daarin vuur om hul hande warm te maak.

Die plaaswinkel is nou net 'n herinnering van ingevalle klip wat nooit weer sal herleef nie. Die rondawel (oorspronklik my oupa se vleiskamer) het darem intussen 'n dak opgekry met dekgras wat ek in KwaZulu-Natal gaan koop het en dit bied goeie skuiling teen die wilde weer van dié bergwêreld. Dis altyd donker in die rondawel, want daar is net 'n klein venstertjie in en die hoë bloekombome maak dat die geboutjie nooit son kry nie en altyd in skadu gehul is. Ek het ook die werf skoongemaak en die heining teruggesnoei. Dit was eienaardig dat, nadat ek aan die grond geroer het, die plante uit my ouma se beddings skielik weer begin uitloop het. Die kweekgras het ook na al die jare weer begin groei.

Visvang op die plaas is nie meer soos ek dit uit my kinderjare onthou nie. Vroeër jare het die visse altyd opwaarts geswem tot in die bo-stroom van die Wilgerivier wat op die buurplaas, Toronto, ontspring, maar omdat die wilgers so oorgeneem het, het die rivier al smaller geword. So het die visvang tot niet gegaan.

3. Mense assosieer jou altyd met KwaZulu-Natal, waar jy grootgeword, later met wild geboer en aan die Universiteit van KwaZulu-Natal gedoseer het. Jou plaas is egter nou aan die Vrystaat-kant op die Drakensberge, 12 km van die plaas af waar ek grootgeword het. Ek het hierdie deel van die Vrystaat altyd as ’n “tussenwêreld” tussen die Vrystaat en KZN ervaar. Ervaar jy dit ook so?

Jy is reg. In hierdie omgewing is die mense tweetalig (Zulu en Sotho) en ek kom baie gemaklik in Zulu met die gemeenskap oor die weg. Dis 'n onherbergsame wêreld en jy sien selde motors of fietse. Die vervoermiddel hier is perde, en dan ook perde wat eie aan die omgewing is - 'n perderas wat generasies oorleef het met langerige hare, aangepas by die skielike koue en mistigheid wat soggens toeval. Op sulke oggende laat die dag hom nie voorskryf nie en wag almal vir die mis om te verdwyn voor die werk begin. Dis 'n bergwêreld met 'n misgordel waar die klimaat nie eie is aan óf die Vrystaat óf KZN nie. Die paaie is sleg en uit die berghange syfer daar gedurig water. As jy die plaaspaaie wil ry ná die reëns geval het en jy baie moed het, kom jy in die somer net met 'n 4x4 waar jy wil wees.

4. Die Nguni-beeste waarmee jy boer, het pragtige velle en die vrystelling van die dokumentêre rolprent Heaven’s Herds gaan heelwat mense van hierdie besondere inheemse beeste bewus maak. Is die kouer Vrystaat geskik om met hulle te boer?

Die Nguni is 'n geharde ras en kom uit die warmer dele van KwaZulu-Natal. Soos alle beeste sukkel hulle egter ook om in die eerste jaar in hierdie mistige klimaat aan te pas, maar na die eerste winter raak hulle vinnig daaraan gewoond en dan het jy steeds die voordeel dat jy met 'n taai bees boer. Natuurlik boer ek nie met suiwer Nguni's nie, eerder 'n mengsel van verskillende rasse. Verder moet jy in gedagte hou dat my boerdery eintlik maar belaglik klein is in vergelyking met die ander boerderye in die omgewing. Maar daar is na al hierdie jare darem weer Strachan-beeste op Oude Hamelberg. As gevolg van onlangs ingekoopte beeste het die koeie vanjaar te vroeg begin kalf, en ek weet nie of die kalwers die strawwe klimaat sal oorleef nie, maar jy hou moed. En jy hoop.

5. Jy is ook baie lief vir perde en het vir jou ’n duur Australiese saal gekoop. Kry jy nog tyd om aan ’n roman te werk as jy so baie boerderybelangstellings het?

Die perdry hou my fiks en die plaas inspireer my. Elke boerdery, hoe klein ook al, het sy eie bekommernisse en jy probeer maar gedurig jou skades beperk. My aandag is dus nie altyd by die skryfwerk nie; dis 'n luukse wat behoort aan skrywers wat voltyds voor die rekenaar kan sit. Maar ek kry stof uit elke dag se gebeure en as 'n skrywer met min verbeelding put ek hieruit. So iewers in my skryfwerk sal Oude Hamelberg ook deurskemer.

<< Terug na hoofketting <<


LitNet: 16 Augustus 2006

Have your say! Send your feedback to webvoet@litnet.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.