Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Dit is Tossel wat hier skryf, dit is Sinterklaas wat daar lees

Fanus Rautenbach

is 'n legendariese radio-omroeper en woordkunstenaar. Hy behartig deesdae sy eie rubriek - Umfaanus - op LitNet.
  Tossel

Liewe Sinterklaas

Dit is Tossel wat hier skryf, dit is Sinterklaas wat daar lees.

Almal weet wie Sinterklaas is, maar wie is Tossel?

Meeste mense sê vir Sinterklaas Vader Krismis, of Krismisvader, maar meeste mense is Ingels wat Sinterklaas Father Xmas of Father Christmas noem. Nou is daar taalmense, soos party Afrikaners, wat sê dat ons eerder nader aan Engels moet beweeg as weg. So iemand sê 'n voormalige prof van hom ("'n stoere, tribal Afrikaner, en Nasionalis") sê waar Engels so oorheersend is, is dit sinvol om Afrikaans te "normeer" in die rigting van Engels, eerder as weg van Engels af. Nou gebruik hulle hier twee woorde wat my taalhart seermaak: dit is tribal en normeer ...

In watter rigting stuur hul nou die taal? Bedoel hy met normeer om te neig in die rigting van Engels? Om Engels na te aap? Ek dink hy bedoel om met nuwe skeppings so na as moontlik aan die Engels te bly, soos valhelm in plaas van pletterpet vir die Engelse crash helmet. Maar normeer?

Nou het ek nog nie gesê wie Tossel is nie.

Ek is nog nie, maar ek is ouer as twaalf.

Sinterklaas, ek weet nie of oom Sinterklaas dit nog kan onthou nie, maar ek is op 25 September gebore. Presies nege maande na Liewe Jesus. Na Kersfees ... Dit maak my mos 'n Kersfeesbaba? Toe skryf my pa hierdie rympie vir my ma:

Daardie jaar het Sinterklaas Haar weer geflous En sit toe net sy saad In haar Kersfeeskous.

Ek is eintlik 'n wonderwerk, want twaalf jaar gelede, daardie gedenkwaardige dag, toe gaan ek saam met my pa piekniek toe en kom saam met my ma terug.

Nou sê Erns oom Grundling ek kan enigiets vir Sinterklaas vra. Eerste wat ek wil vra, is dit: Kan ons pa's en ma's nie ons kinders leer om te lees nie? Al wat hulle vandag kan lees, is 7e Laan … en as daardie 7 nie 'n syfer was nie, sou hulle nog meer verdwaal het.

Ek vra nou mooi vir Sinterklaas: Gee vir elke kinnertjie 'n ma en 'n pa wat lief is vir lees. My ma en my pa lees so baie dat hulle lankal nie meer geld het om nuwe boeke te koop nie. Toe gaan sluit hulle by die biblioteek aan. Aansluit kos nie geld nie. Mens kan dit nie glo nie.

My pa sê: "Wie oë het om te sien, laat hom lees!"

Biblioteek is vir STILTE.

Nou vra ek:

"Pa, watter boeke is omtrent reg vir my IK?"

"Sjuut!" sis die Tannie van die bib.

"Wie sjuut so?" vra my pa en duisende duiweltjies dans in sy oë.

Geen antwoord nie. Dis so stil soos 'n skoolkoshuis drie dae voor Kersfees.

"Ek sjuut so!" antwoord die Tannie kwaai en vat-vat aan haar bril se ketting.

"Het julle dan nie 'n plekkie buite nie, jy weet, 'n sjuut-huisie?"

"Gmf!" gmf sy, baie intelligent.

Toe sê my pa vir haar dit hoef nie so stil te wees in 'n bib nie. Hy sê baie meer kinnertjies sal boeke lees as hulle nie hoef stil te bly nie. Die Tannie sê: "Ek sal dit met my baas opvat!"

My pa reken opvat is 'n anglisisme.

Ek vra wat is 'n anglisisme.

My pa sê dis wanneer 'n mens se prof stamgebonde is en jy sê hy is tribal. En ook vomeer … nee, nie vormeer nie, amper vomeer ek … die woord is normeer.

My pa gee om vir Afrikaans en vir lees. Sinterklaas, sal Oom asseblief meer pa's maak en ma's wat omgee. Ook vir kerksake. Omdat dit so besig is in die stad, maak die diakens 'n afspraak om so en so laat op so en so 'n dag geld te kom kollekteer. Die diaken, soos so baie ander geleerde mense, sê nie afspraak nie, maar bestelling. Hoe kan dit 'n bestelling wees? Ons is nie Solly Kramer's nie.

Diaken. Mens sê nie "die-aken" nie, maar "dejaken" ... soos in die rympie van die skelm Port Nolloth se ryk dejaken wat ietsie in die kollektebordjie gooi: "Die dejaken gooi 'n diamant in met 'n kraak in."

Maar my pa vergeet van die afspraak en toe kom die dejaken daar onverwags aan, want my pa het vergeet om my ma te sê hy het hom genooi vir ete. Oom Sinterklaas, maak tog dat pa's nie so maklik vergeet nie. Dat pa's moet onthou om nie te vergeet nie. 'Seblief? (My pa vra: "Hoe kan jy vergeet onthou?" Net so vra hy. Sonder om te dink. Net so, vingerklap.) Want toe sy dit hoor, dat die diaken kom kuier, skrik my ma haar Esté Lauder weg, want sy het die Kolonel se braaikuikens vir aandete gekoop en g'n vrou wat haar sout en die Kolonel se sewe soorte kruie werd is, sit gekoopte vetterige hoenderboudjies vir die diaken voor nie. Sy gryp die stoompot en maak iets anders, en terwyl dit kook, gaan trek sy haar mooi aan, en my pa. As hy mooi aangetrek is, lyk hy amper soos Riaan Cruywagen met 'n dop Oudemeester by.

My pa trek blitsvinnig aan en staan met sy onderbroek in sy hand toe die stoompot afblaas. Hy los als en trek broek en als aan ... en storm kombuis toe ... Maar my pa is nie die kluts kwyt nie, net sy onderbroek. Toe hy wil nies, gryp hy sy sakdoek, maar hy dink dis die tafeldoek … en allietyd is dit sy onderbroek ... en hy lag te lekker en sê hulle maak nou die vadoeke so, met gulpies. Net so, vingerklap, sê my pa dit, sonder om te dink. Dis nou wat mens noem 'n humorsin.

Ouma vra: "Wie sin?"

Oom Sinterklaas, oom Sinterklaas moet in die nuwe jaar meer pa's en ma's maak met humorsinne. Dis lekkerder …

En dan wil ek nog iets vra. Dit is van daardie wêreld daarbuite waarvan mense en kinnertjies so min weet. Soos van politiek. Wat, bevobeeld, is president Robert Mugabe van Zimbabwe se vrou se naam? Ek dink die mense sê vir haar "Your Grace!" Dis sy wat elke môre vir haar man, meneer Mugabe, sing:

Robert Mugabe, I want that farm!
Hie haai, hie haai hou!
And next to that farm
I want that farm
Hie haai, hie haai hou!
Here a farm, there a farm
Everywhere a farm
Robert Mugabe I want that farm!
(en dan wys sy na Stellenbosch).

Daarna gaan kuier Thabo Mbeki vir Robert Mugabe en hy sê: "Bobby, ek is baie bly dat ek jou die idee gegee het … that I gave you the idea to confiscate the white farmers' farms ... now you can try it out, and if it doesn't work, I'll never touch it!

Lady Grace sing amper soos opera.

Dis nog 'n ding waarvan die pa's en die ma's die kinders moet leer: opera. Oom Sinterklaas, leer mense tog dat die wêreld nie net bestaan uit wat ons sal koop en wat ons sal eet en wat ons sal aantrek nie. Daar buite is dit pure kulture.

Het oom Sinterklaas geweet meeste mense praat van "oppera"? Dis verkeerd. Mens sê "O-pera". Dis nie "op" nie, dis "oop".

Almal kan gaan. Soos almal. Al is mens nie eens lief vir kultuur nie. Party mense gaan om opera te sien; ander gaan om by die opera gesien te word - amper soos kerk. Opera is van mense met viole en trompette en partykeer van olifante. Dis nou wanneer die tannie wat die huise verkoop, daar is. Nee, nie Pam Golding nie, haar naam is Aida. Daar is 'n lang gordyn en in die donker sit mense wat hoes. Ons ook. Daar is nie (en nou gaan ek vomeer, normeer!) popcorn nie … net mens sê "springmielies". Dis ook nie daar nie.

Daar kom 'n oom wat soos 'n ouderling aangetrek is wat op 'n stoel gaan staan, want dit is hoge musiek. Die oom het 'n toorstokkie en eers toor hy met die toorstokkie sodat die gordyn weggaan. Op die planke is daar omies en vet tannies wat lyk soos 'n konsert.

Die oom wat soos 'n ouderling lyk, word nou baie kwaad. Hy swaai sy kop en sy hare, maar dit help niks nie - hoe meer hy swaai, hoe harder blaas hulle hul eie trompette.

My ma sê dis wonderlik, maar ek sê hulle moet oefen en oefen tot hulle dit regkry. Die een het die ander met 'n mes gesteek, maar hy bloei nie, en sing die ander dood. Daardie een is self dood aan die derde bedryf. Hulle vry ok nie, hulle sing dit. Ek dink nie hulle sal ooit trou nie, want selfs die voëltjies bly stil as hulle vry. Daarom dink ek opera sal uitsterf, maar rock 'n roll is here to stay.

Wat moet oom Sinterklaas nog vir ons in die nuwe jaar doen? Dit is 2005. Daar is nog baie goed waaraan mens moet dink. Oom Ouderling bid so vir als wat ek nie in suffel woorde kan sê nie … "Dink aan die owerheid wat oor ons gestel is … en moenie lat hulle so baklei nie ... hulle baklei so lat die een al vir die ander een bid."

Dan bid ons vir die droogte (dis eintlik verkeerd, oom Sinterklaas, mens moenie vir die droogte bid nie, maar meer vir reent). En die rugby. Maar wat ek nie kan verstaan nie, is van geld: Hoekom het die ryk mense, wat dit nie nodig het nie, al die geld en die arm mense wat dit so nodig het, het niks nie?

Soos Soeterland: laat dit tog bietjie warmer word in Soeterland en koeler in Hotazel? Hoekom is dit so dat mens warm kry in die somer en koud in die winter? Mens moet koud kry in die somer en warm in die winter, want die winter is mos klaar koud en die somer klaar warm. My pa sê Paulus sê mens moet vurige kole op hulle hoofde werp.

Dis half of mens die koue en die warmte mors. Die mense sê: "As jy nie sterk is nie, moet jy slim wees ..." maar dis vir my verkeerd. As jy dom is, moet jy slim wees. Want as jy slim is, het jy klaar jou loon weg.

En kan oom Sinterklaas dit nie so maak dat 'n mens 'n waatlemoen makliker kan dra nie? My pa sê daar is 'n plekkie in Japan, Zentsoedji, waar hulle vierkantige waatlemoene in bokse kweek. Dis amper soos aan die Weskus waar hulle wyn in bokse kweek. Nou normeer ek, en ek wil nie normeer nie; dis dose, en hulle noem dit Vino de Conti. Bokswyn. Nee, 'n mens moenie verander aan 'n waatlemoen se lyk nie. Miskien moet mens net waatlemoene met handvatsels kweek, sodat dit makliker kan dra. En piesangs met ritse.

Ook moet oom Sinterklaas vra dat die skole die leerders geskiedenis leer: Oos van Jan van Riebeeck. Hy en sy vrou land in 1652 in Blaauwbergstrand. Waarom in Blaauwbergstrand? Sodat hy mooi kiekies kan vat van Tafelberg.

Jan van Riebeeck land op 6 April 1652. Wat het hy op 7 April gedoen? Ek weet sy vrou het haar hare laat doen by SAARTJE B. SE HAARSALON. Maar wat het hy gedoen op 7 April? Hy het gevra vir 'n verplasing en dit het hy 10 jaar later gekry toe hulle hom na Batavia toe verplaas het - 10 jaar later - en dit was die begin van die Staatsdiens in Suid-Afrika.

Oom Sinterklaas moet vra dat die onnies die kinders reg leer. Jan van Riebeeck sê vir Herrie die Strandloper hy moet sy manne vra om die skepe af te laai. Herrie se kommentaar was: "Dis nie koel nie - ons werk nie op vakansiedae nie."

Toe wys Jan van Riebeeck ewe trots na sy drie skepe, De Rijger, De Drommedaris en De Goede Hoop en hy vra: "Wat dink jy van my vloot?" Waarop Herrie omdraai binneland toe, na Hottentotsholland se kant toe wys, en vra: "En wat dink jy van my land?" Dit was nou polities korrek.

Dit is wat ek vir die nuwe jaar vra: die onnies moet die geskiedenis korrek vertel. Die volle waarheid moet vertel word: Willem Adriaan van der Stel het Korrupsie uitgevind, maar vergeet om dit te patenteer - met die gevolg dat die meeste regeerders ná hom ook gesteel het, en wel sy Korrupsieplanne. Van toe af tot vandag toe.

Aiziekie Zuma Zuma Zuma,
aiziekie zoema, zoema zei …
Oh get me the Isuzu bakkie
Oh get me the Four-by-Four !

Aizieke Zuma Zuma Zuma
Aizieke zoema zoema zei
Oh, Shaik him down
The assegai warrior
Oh, Shaik him down
THE WEAPON THIEF!

Oom Sinterklaas, en dan is daar die dominees wat nie die Bybel ken nie. Die meeste van hulle sê die Bybelvertaling is vir hulle Grieks … Ek verstaan niks daarvan nie, want in die oorspronklike Grieks staan daar: "Vrou, wees dan jou man se gelyke", maar ons vertaal dit met: "Vrou, jy moet jou man onderdanig wees." Dis hoekom vrouens met vrouens trou … en mans met mans … hulle glo nie aan hierdie gemengde huwelike nie, en is terug by apartheid. Hulle noem dit eiesoortige huwelike.

Miskien moet hulle Adam Tas se Dagboek lees. Hy laat dr Phil soos 'n amateur lyk. Adam Tas wou eers 'n Nagboek geskryf het, maar hy het snags rondgeloop om die weduwees te gaan troos en was te besig om nog boeke ok te skryf. Troos hulle met Tassies. Oom Sinterklaas, ons moet die perspektief regkry.

Daar is nog baie vrae wat ek oom Sinterklaas wil vra, maar volgende jaar is nog 'n dag … Ja, hoe meer dae, hoe meer nagte.

Maar ek wil net ten besluite afsluit. Ons het netnou van Paulus gepraat, en ek wil net graag vra: As oom Sinterklaas ooit vir Paulus op een van sy reise raakloop, vra hom asseblief of die Fariseërs ooit teruggeskryf het?

'n Baie geseënde Kersfees, vir Oom ook, al ken ek Oom nie.

Tossel

 
LitNet: 15 December 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

 

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.