Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Blou bloed is dikker as water

Dié naweek vind die bruilof van Charles, prins van Wallis, en sy minnares van etlike jare, Camilla Parker Bowles, in Windsor in die Verenigde Koninkryk plaas. Om dié geleentheid te vier vertel Jean Meiring die verhaal van 'n ander rare koninklike verhouding: dié tussen koningin Juliana van Nederland en Alice, gravin van Athlone. Daar's boonop 'n Suid-Afrikaanse kinkel in dié kabel.

Juliana
Koningin Juliana van Nederland
Juliana, wat verlede jaar gesterf het, en haar Engelse familielid Alice, gravin van Athlone, het in moeilike omstandighede 'n buitengewone vriendskap gesmee. Mens wonder tog of hulle soms oor komkommerbroodjies en tee ook 'n woordjie Neder-Afrikaans uitgeruil het.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog vestig Juliana 'n hegte band met haar ma se niggie Alice - in Ottawa, hoofstad van Kanada van alle plekke. Die verhaal van dié twee vroue se verhouding volg 'n verrassende kronkelpad. Dit begin lank voor daardie oorlogsjare aan die anderkant van die Atlantiese Oseaan.

Alice se moeder is Helene, lid van die klein Duitse adellike huis van Waldeck-Pyrmont. Helene trou met koningin Victoria se jongste seun, Leopold, hertog van Albany.

Helene se ouer suster Emma, weer, word in haar vroeë twintigerjare deur hul ambisieuse moeder aan Willem III van Nederland - 'n wewenaar van iets in die sestig - opgedring.

Alice
Alice, gravin van Athlone
Alice is die enigste oorlewende kleinkind van koningin Victoria as sy in 1981 in die ouderdom van 98 sterf. Met Juliana se dood in Maart verlede jaar, in die ouderdom van 94, is die volgende generasie byna verdwene - die koninklikes wat gebore is kort ná Victoria se dood, maar voor die Eerste Wêreldoorlog en die Russiese Revolusie.

Juliana
Juliana sien in 1909 haar eerste lewenslig. Haar kleintyd is allesbehalwe gewoon - sy word erg verwen groot. Haar statige en eksentrieke moeder, Wilhelmina, maak seker sy's goed onder die indruk van haar buitengewone plek in die wêreld. Hofknape buig voor die klein prinses, wat in byna algehele afsondering leef.

Ouma Emma wil boonop seker maak die "wilde Romanov-bloed" wat in die Huis van Oranje se are bruis, word in Juliana beteuel. Of Emma egter die ware aard en oorsprong van dié probleem in die bloed besef, is onseker.

Die takke van 'n reuse-eik. Só is die Europese koninklikes. Oerouma Victoria van Brittanje is die stewige stam waaruit selfs die groenste twygies spruit. Dié een is dáárdie een se neef of niggie, oom of tante.

Victoria is 'n draer van die bloedsiekte hemofilie, wat veroorsaak dat bloed nie kan stol nie. Sy sorg onwetend dat dít deur die takke van haar familieboom versprei.

Dié familiesiekte het - soos 'n wafferse bloedlotery - 'n ingrypende impak op die Europese politiek in die eerste helfte van die twintigste eeu (selfs al glo jy nie dat die individu 'n allesbepalende rol in die gang van die geskiedenis speel nie).

Slegs mans ly aan hemofilie; vroue is draers van die siekte. As 'n man die defekte geen het, sal al sy dogters draers wees, maar geeneen van sy seuns sal aan die siekte ly nie. As 'n vrou 'n draer is, is daar 'n 50-50 kans dat sy dit aan haar kinders sal oordra. Slegs haar dogters mag draers wees, of slegs haar seuns mag daaraan ly.

Victoria dra die gebrekkige geen na Alice se pa Leopold, haar jongste seun, oor. Hy sterf voortydig in 1884, twee jaar ná sy huwelik met Helene.

Soos die wrede reëls van die siekte bepaal, is Alice 'n draer; haar broer Charlie spring die swaar lot vry. Hy word later die hertog van Coburg, en ondergaan heel oortuigend 'n proses van verduitsing.

Springlewendig en vol geite word hy later 'n rasieleier vir die Nazi's. Hy speel 'n kardinale rol daarin dat die Nazi-party in die 1933-verkiesing die grootste politieke party in Duitsland word.

Maar eers is dit die jaar 1918. Revolusie hang swáár in die lug. Aprilmaand besoek die Oranje-vorstehuis Amsterdam. 'n Opstand in die kleine ontstaan: verrotte groente word na hul koets geslinger; die koets kantel byna soos 'n uurwerk.

Tsaar Nicholas II en sy familie word in Rusland om die lewe gebring. Die kroonprins is die agterkleinseun van Victoria; deur haar dogter, en kleindogter, die tsarina Alexandra Feodorovna, sy moeder, is hy 'n bloeier.

Die greep wat die "mal monnik" Raspoetin, met 'n gewaande oplossing vir die kroonprins se toestand, oor die Romanovs had, is wydbekend. Baie glo dít het 'n rol in die revolusie van 1917 gespeel.

Na die oorlog abdikeer keiser Wilhelm II, nog 'n kleinseun van Victoria, en kom as politieke vlugteling in 'n reeds onstuimige Nederland aan.

Juliana is 'n opgeskote dertienjarige wanneer die koerant De Telegraaf in 1923 'n berig bevat wat sê sy's bestem om met 'n lid van die Britse koningshuis te trou. Dis die eerste van talle sulke berigte; die gelukkige jongeheer is Rupert, burggraaf Trematon.

Rupert is die middelste van prinses Alice en haar man Alexander, graaf van Athlone, se drie kinders. Hul derde kind, Maurice, is in sy geboortejaar, 1910, oorlede. Dis hoogs waarskynlik dat ook hy 'n bloeier was.

Juliana kon Rupert sekerlik nie meer as 'n handjievol kere by stywe koninklike samekomste ontmoet het nie. Mens wonder watter indruk dié jong lat op die prille Hollandse prinses gemaak het.

Dié troustorie bly egter maar net 'n gerug. Vroeg in 1924 reis die sewentienjarige Rupert ver buite Juliana se bereik. Op die Windsor Castle vaar hy saam met sy ouers na Kaapstad.

Die graaf van Athlone
Alexander, graaf van Athlone
Die graaf van Athlone is in die somer van 1923 as goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika aangewys. In Brittanje sit sy suster Mary neffens haar man George V - én met genoeg pêrels vir al die koninkryk se swyne om haar nek - lekker gemaklik op die Britse troon.

In Suid-Afrika geniet Alexander en Alice hulle gate uit. Oom Jan en antie Issie Smuts verwelkom hulle gul. Met hul aankoms is dit die Athlones se oudste kind May se verjaarsdag; tannie Issie hou nie terug nie.

In haar memoires, For My Grandchildren, vertel Alice die verhaal: "Mrs Smuts had herself cooked (sic) a wonderful cake for the occasion. She told me that she had had the greatest trouble to keep the children from eating it and had been obliged to hide it under her bed - with the pots, as the Earl of Athlone irreverently remarked, when telling the story."

Hulle is gou in Suid-Afrika ingeburger. Hulle reis kruis en dwars, en Alice kan nie in haar memoires uitgeskryf raak oor die Suid-Afrikaanse gasvryheid nie.

Rupert is 'n aktiewe seun en neem kort na hul aankoms die trein na die Victoria-waterval. Op pad vertoef hy op sir Abe Bailey se plaas by Colesberg - een van die plekke waar sy pa, die graaf, tydens die Anglo-Boere-oorlog as soldaat diens verrig het. Hy gaan ook op etlike jagekspedisies.

Selfs die Wakkerstroom-tussenverkiesing wat in 1924 tot Smuts se (voorlopige) ondergang lei, plaas nie veel van 'n demper op hul tyd in Suid-Afrika nie. Alice skryf dat hulle gou met Hertzog en sy nasionalistiese kabinet bevriend raak. Sekerlik tel Alice grepies Afrikaans by dié stoere snorre op.

Rupert keer later na Engeland terug. In 1928 steek hy in Frankryk in volle vaart 'n motor verby. Kaboem. Ná vier dae se bloei begin hy herstel. Maar dan beleef hy 'n terugslag en sterf. Dié lot, te wyte aan sy grootjie Victoria.

Op 31 Mei 1928 hys die graaf die nuwe Suid-Afrikaanse vlag. Dit bevat darem 'n klein Union Jack, vermeld Alice sonder veel entoesiasme in haar boek. Dié seremonie beskryf sy as "not a pleasure".

Hulle keer ná hul ampstermyn van vyf jaar terug na Brittanje, maar laat darem etlike nagedagtenisse in die Kaap agter, soos die buurt Athlone.

Asof sy nie oor die dood van haar eerste gewaande minnaar kon kom nie, bly Juliana ongehuud. Die potensiële bruidegoms word deur die koerantlui soos 'n kleurryke tablo by haar verbygerits.

George, die hertog van Kent - koning George V se jonger broer - is een van dié name. Wilhelmina het ook vir 'n wyle om politieke redes 'n Belgiese prins in die oog.

'n Nederlandse kommentator skryf egter mismoedig: "Ik vrees dat men haar moet toewensen ongehuwd te blijven. Ze mist nu eenmaal fysieke bekoring, hoe eenvoudig, lief en misschien ook intelligent zij moge zijn, en dit gepaard gaande aan de toch al moeilijke positie van prins-gemaal in Nederland levert een al te goede basis voor een ongelukkig huwelijk."

Uiteindelik trou sy wel, in 1937, met Bernhard, 'n Duitse adellike wat sterk bande met Hitler het. Onlangs verskyn daar eens verborge foto's van hul huweliksdinee, waar al die vergaderdes lustig die Nazi-saluut gee.

Maar toe is Hitler vir die Nederlandse koningshuis nog bloot eksentriek, skadeloos. En niggie Alice se broer Charlie, die hertog van Coburg, is self dan so 'n groot aanhanger.

Maar sake is gou heel anders gesteld.

Op 8 Mei 1940 pen Juliana 'n brief aan die Nederlandse geskiedkundige Hendrik van Loon, wat in die VSA woon en die koningsgesin na sy woning op Long Island uitgenooi het, sou hulle uit Nederland moes wyk. Sy skryf: "Als geboren Nederlander en kenner van de Nederlandse geschiedenis behoorde u te weten dat vijf eeuwen lang het Huis van Oranje voor geen enkel gevaar op de vlucht is geslagen. Onze plaats is hier in Nederland, of er gevaar dreigt of niet. We zullen onze post nooit verlaten."

Die politieke skerpsinnigheid wat haar ná die oorlog die Nederlandse koloniale gebied in Indonesië heel gou laat vrygaan, is nog nie sterk te bespeur nie. Nederland swig voor Hitler; vier dae na sy dié brief skryf, is sy plots op 'n boot na Engeland.

Dis nie lank nie of Juliana ontvang 'n uitnodiging van Alice, gravin van Athlone, om die oorlog in Ottawa te verwyl. Vroeg in 1940 is die vinnig ouer wordende graaf as goewerneur-generaal van Kanada aangestel.

Juliana reis saam met haar twee dogtertjies Beatrix en Irene, wat maar nege maande oud is en kort vantevore in die kapel by Buckingham-paleis gedoop is, na Kanada. Hulle arriveer 10 dae voor die Athlones.

Wilhelmina en Bernhard, bevelvoerder van die Nederlandse troepe, bly in Londen agter om die Nederlandse volksgees vandaar te stu.

Juliana gaan aanvanklik by die Athlones in Government House tuis, maar betrek dan haar eie woninkie. In dié moeilike tyd kuier hulle tog knaend by die Athlones. Beatrix en Irene se speelmaats is onder meer die kleintjies van die Athlones se dogter May, wat ook in Kanada 'n heenkome vind. Ottawa is immers 'n wafferse nes van ontheemde koninklikes. Die erg asketiese keiserin Zita van Oostenryk sit ook met haar gesonde kroos van agt jongelinge daar voet aan wal.

Juliana
Koningin Juliana
Alice skryf: "Juliana was really magnificent. She never once complained or expressed unhappiness, but threw herself into everything that was being done for the war. She was one of the first blood-donors when the campaign started."

Bloed is dikker as water, en die oorlog maak die wêreld se gaandeweg bedreigde koninklikes al hoe meer op mekaar se steun aangewese. In dié moeilike omstandighede ontwikkel daar 'n hegte band tussen die weerbarstige Juliana en haar moeder se niggie, die porselein-fraai Alice. Én tussen Kanada en Nederland, wat elke jaar hóéveel tulpe aan die hoofstad Ottawa skenk.

Sekerlik het Alice met haar fyn sin vir die komiese Juliana met 'n ou koeksistertjie of wat verras. Dalk met 'n resep wat sy uit antie Issie se meelbeslane resepteboek afgeskryf het.

  • As bloedjie was Jean Meiring 'n stoere rojalis.



    LitNet: 07 April 2005

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.