Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ekologie op SA 2014: Paradigma-skuif by boontjietellers en politici word benodig

Jorisna Bonthuys

is 'n politieke redaksielid van Die Burger wat haar veral toespits op omgewingsake. Sy was die SAB Omgewingsjoernalis van die Jaar (gedrukte media) in 2002 en 2003.
  Jorisna Bonthuys

My ma, 'n baie nugter vrou, sê altyd daar is iets verkeerd in 'n land waar renosters belangriker as mense geag word. Sy sal egter gou byvoeg iémand moet darem namens hulle praat (hulle het duidelik nie soveel sukses op hul eie te oordeel aan hul aanteelkoers nie).

Gelukkig praat diegene wat hulle graag namens die renosters uitlaat en dié wat hul eerder beywer vir die lot van die armes, toenemend dieselfde taal.

Die slim mense sê immers volhoubare ontwikkeling (wat die stand van die omgewing asook sosiale en ekonomiese faktore in ag neem) is noodsaaklik as ons regering werklik 'n verskil aan die lot van die miljoene armes wil maak.

Niemand betwis die politieke wil om laasgenoemde mikpunt te bereik nie. Of daar egter genoeg politieke wil bestaan om genoegsaam na die omgewing om te sien (veral op plaaslikeregeringsvlak), is debatteerbaar.

Oor die paneel
Die groep was 'n interessante keuse wat uiteenlopende belange verteenwoordig. Veral Van Riet en King se bydraes verdien vermelding. Pepler het slim en pittige sêgoed gehad. Net jammer sy bydraes, wat die gesprek op 'n filosofiese vlak verryk het, is telkemale kortgeknip. Ter wille van groter ewewigtigheid (en konstruktiewe debat) sou dit lonend wees om 'n verteenwoordiger van 'n drukgroep wat 'n groter aktivismerol speel, by so 'n debat te betrek. Die deelname van die EWT was sinvol. Die organisasie neem meestal 'n gemagtigde standpunt in omgewingsdebatte in en word beskou as gesaghebbend. Dit kon meer nut gehad het om 'n paneellid van die Departement van Omgewingsake en Toerisme te betrek as Wagiet, wat om verstaanbare redes meestal net vanuit 'n SANparke-perspektief gepraat het.

Die gesprek was besonder gepas in die lig van 'n saamtrek vandeesweek waarin bestek opgeneem sal word van die suksesse/mislukkings sedert die Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling in 2002. Die saamtrek, getiteld WSSD + 2, vind vanaf môre (Woensdag 2 September) in Johannesburg plaas en duur tot Vrydag. Dit behoort 'n goeie oorsig te bied oor presies hoeveel vordering Suid-Afrika nou eintlik maak om internasionale mikpunte oor volhoubare ontwikkeling te bereik.

Die debat
Geld, bestuursprobleme en heersende verbruikerspatrone - dit is van die vernaamste elemente wat die paneel uitgelig het as uitdagings wat plaaslike bewaringspogings strem.

Die debat is uit die staanspoor relevant gemaak deur dit te koppel aan eietydse waterkwessies, wat tans op almal se lippe is. Waterverbruik landwyd sal immers na raming binne 30 jaar die aanbod oorskry, en waterbronne droog sigbaar op. Mense voel die heersende droë toestande (met gepaardgaande waterbeperkings) aan hul lyf, soos blyk uit van die vrae tydens die inbelsessie.

Die noodsaaklikheid om wateropvanggebiede in hul geheel te bestuur, is tereg benadruk. Pepler se argument dat boere moontlik in die toekoms vir die gebruik van grondwater belas moet word, sal waarskynlik 'n paar mense erg omkrap. Ek glo sy standpunt het heelwat meriete. King, wat oor hulpbronverbruik min of meer dieselfde denkrigting inslaan, se Suid-Afrikaners moet op 'n glyskaal opdok vir die hoeveelheid natuurbronne wat hulle verbruik. Gholfbane, wat groot hoeveelhede water opslurp, moet byvoorbeeld meer hiervoor opdok as wat tans die geval is, meen hy. Sy argument maak natuurlik sin, aangesien dit ekonomiese waarde aan beperkte natuurbronne sal heg.

Die waterdebat, hoewel natuurlik van sleutelbelang in 'n droë land soos Suid-Afrika, het egter te veel van die beperkte besprekingstyd opgeslurp. Vanuit die aard van so 'n gespreksforum (wat tot my groot frustrasie kort-kort deur handelsflitse onderbreek is) kan mens egter natuurlik nie verwag dat die deelnemers meer as net 'n paar kernsake kan uitlig of kortliks bespreek nie.

Van die ander onderwerpe wat tydens die bespreking onder die soeklig gekom het, was klimaatsverandering, bestuursprobleme, die stryd teen indringerplante, en toegang tot natuurbronne in parke.

Oorsig oor die afgelope dekade
Oor die algemeen is die situasie in Suid-Afrika se bewaringsgebiede aansienlik beter as in sy buurlande, glo die paneel. Ek stem heelhartig saam. Daar was sedert 1994 verskeie ligpunte op die omgewingsfront. Dit beteken egter nie plaaslike bewaringslui kan nou rustig slaap nie. Daarvoor is die heersende koers waarteen sensitiewe habitat byvoorbeeld tans inboet, te sorgwekkend.

Op die gebied van biodiversiteit is sukses veral behaal met die stigting van oorgrensparke, die daarstel van strenger omgewingswette en pogings om meer grondgebied vir bewaring opsy te sit.

Plaaslike omgewingslui fokus nou ook op die bewaring van ekosisteme in hul geheel. Verskeie oorkoepelende bewaringsplanne, soos Cape (gemik op die Kaapse fynbosryk) en Skep (gemik op die vetplant-Karoo), is byvoorbeeld suksesvol van stapel gestuur.

Voorts was daar heelwat vordering met pogings om omgewingsgehalte te verbeter en om natuurbronne meer doeltreffend te beskerm en ook meer gelyk tussen die verskillende rassegroepe te verdeel. Laasgenoemde was dikwels pynlik en omstrede - veral wat betref die regering se nuwe visbeleid.

Die afgelope dekade is 'n hele stel nuwe omgewingswette aanvaar. Oor die algemeen het wetstoepassing sedert 1994 beduidend verbeter. Drie omgewingshowe is gestig en die "Groen Skerpioene" het verskeie suksesse behaal teen mense wat omgewingsvergrype pleeg. Van die belangrikste nuwe omgewingswette van die afgelope dekade wat uitgesonder moet word, is die Nasionale Omgewingsbestuurwet, die Wet op Biodiversiteit, die Wet op Beskermde Gebiede en die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne.

Die wette word allerweë beskou as van die beste ter wëreld, maar daar is plek-plek steeds groot probleme met die toepassing daarvan. Dit verklaar waarom ontwikkelaars voor die voet die laaste ongerepte dele van die kuslyn omploeg en 'n magdom gholfontwikkelings sedert 1997 in uiters sensitiewe habitatte aan die Suidkus toegelaat is. Dit was, ironies genoeg, ook die jaar waarin Suid-Afrika die eerste keer riglyne oor omgewingsimpakstudies gekry het.

Naas nuwe wetgewing het Suid-Afrika die afgelope dekade ook 'n magdom internasionale protokols en ooreenkomste onderteken wat met die omgewing verband hou. Dit sluit die Kioto-verdrag en die Verenigde Nasies se protokol oor biodiversiteit in.

Owerhede en drukgroepe het ook heelwat gevorder met pogings om bewaringsnetwerke landwyd uit te brei. Sowat 360 000 ha is die afgelope dekade by amptelike bewaringsgebiede gevoeg - vyf nuwe mariene bewaringsgebiede is byvoorbeeld onlangs geproklameer. Dit bring die deel van die plaaslike kus wat beskerm word, op bykans 20 persent van die totaal te staan. Dié syfer is van die hoogste ter wêreld en dui op 'n belangrike kopskuif in die bestuur van plaaslike seebronne.

Net 6,4 persent van Suid-Afrika se grondgebied word egter tans amptelik bewaar. Die bewaringsgroep WWF-SA reken minstens tien persent van 'n land moet vir dié doel opsy gesit word. King glo die syfer is waarskynlik steeds onvoldoende. Hy reken nog meer grondgebied moet vir bewaring opsygesit word in die lig van heersende spesieverliese.

Te midde van bogenoemde suksesse het Suid-Afrika egter minder welslae behaal om sogenaamde "bruin" omgewingsprobleme te pak. Dit sluit onder meer in om luggehalte te verbeter en sanitasie aan armes te verskaf. Te min is ook nog gedoen om "groener" energiebronne (soos windkrag) te benut. Vanweë die aard van die debat is daar nie veel op dié kwessies gefokus nie.

Die pad vorentoe
Die vernaamste omgewingsbrandpunte vir die komende dekade is klimaatskommelings, oorbevolking, ongebreidelde biostropery, spesie- en habitatverlies, asook 'n gebrek aan sosiale verantwoordelikheid by maatskappye.

Pogings om armoede te verlig, volhoubare ontwikkeling te bewerkstellig en ander mikpunte van die Verenigde Nasies te behaal is eenvoudig gedoem as Suid-Afrika nie die huidige koers van spesieverliese stuit nie. Suid-Afrika, op twee na die land met die grootste biodiversiteit ter wêreld, is volgens King reeds agter om mikpunte oor spesieverliese te bereik. Die verlies aan biodiversiteit is volgens hom soos om biblioteekboeke te verbrand nog voordat dit gelees is. 'n Verlies aan biodiversiteit belemmer immers nie net ekonomiese prosesse nie, maar ook pogings om armoede te verlig, omdat dit die omgewing is wat lewensmiddele bied. Dit is ironies dat 'n verlies aan biodiversiteit gewoonlik eerste die armstes raak, terwyl die rykes teen die onmiddellike uitwerking daarvan verskans is.

In die lig van dié en ander omgewingsuitdagings is die gesamentlike bestuur van ekostreke (oor provinsiale en selfs landsgrense heen), volgens Van Riet daarom van sleutelbelang. Hy meen oorgrensparke bied unieke bewaringsmoontlikhede vir veral Suider-Afrika, wat in die proses streekstabiliteit kan aanhelp. Die parke, wat deur die Stigting vir Oorgrensparke aangevoor word, poog om terselfdertyd bewaring en volhoubare ekonomiese ontwikkeling in die streek aan te moedig. Die daarstel van oorgrensparke is dalk die laaste poging om die wildernisgebiede met mekaar te verbind en so Afrika se natuurlandskap en biodiversiteit in sy geheel te bewaar. Grondgebruik in Afrika bestaan vandag grootliks uit landbougrond en stedelike gebiede, waar ontwikkelings deurentyd oorblywende wildernisgebiede inneem.

Van Riet is optimisties oor oorgrensbewaring en sê daar is genoeg politieke wil binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) om die projek te laat werk. Die SAOG het vroeër 'n haalbaarheidstudie oor bestaande en potensiele oorgrensgebiede laat doen. Dit dien nou as grondslag vir 'n streekbenadering tot bewaring as 'n soort grondgebruik. Die 22 bestaande of potensiële oorgrensparke wat deur die SAOG gesteun word, kan jaarliks tot agt miljoen besoekers lok. Om werklik die bewaringswa deur die drif te trek sal daar egter volgens hom voortaan nouer samewerking tussen plaaslike bewaringsowerhede en SANparke moet wees.

Oor die kwessie van kapasiteit in omgewingsbestuur: ek glo die rol en verantwoordelikheid van munisipaliteite word in dié verband te veel onderspeel. Ernstige kapasiteitsprobleme word meestal op plaaslike vlak ondervind, wat die gehalte van besluite wat die omgewing raak, beduidend beïnvloed. Voorts is daar toenemend getuienis dat die beginsel van samewerkende regering eenvoudig nie die nodige resultate op plaaslike bestuursvlak lewer nie. Die agteruitgang van watergehalte in riviere in die Wes-Kaap (byvoorbeeld die Plankenbrugrivier by Stellenbosch) is 'n uitstekende voorbeeld hiervan. Munisipaliteite het dikwels gewoon nie die kundigheid, geld of politieke wil om omgewingsprobleme hok te slaan nie.

Die belangrike rol van privaatgrondeienaars by toekomstige bewaringswerk moet ook uitgelig word. In 'n land waar meer as 80 persent van al die grond van bewaringsbelang in privaat en/of gemeenskapsbesit is, word die rol van plaasboere in bewaringsbestuur ook nog onderspeel. Die regering sal met tasbare meganismes vorendag moet kom (byvoorbeeld belastingvoordele) om grondeienaars aan te moedig om spesies te bewaar en bewaringsboerdery te beoefen. Terselfdertyd sal heersende verbruikerspatrone ingrypend gewysig moet word. Suid-Afrikaners se ekologiese voetspoor is reeds aansienlik groter as waarin die natuur volhoubaar kan voorsien.

Die paneel se fokus op klimaatsverandering, omgewingsverval en die oormatige verbruik van natuurbronne deur die rykes verdien ook vermelding, aangesien die onderwerpe op die lang duur 'n reuse-invloed op Suid-Afrikaners se lewensgehalte gaan uitoefen. Onlangse studies toon byvoorbeeld dat tot 40 persent van die Wes-Kaap se proteaspesies en amper twee derdes van die Krugerwildtuin se beskermde spesies binne 'n halfeeu weens aardverhitting kan uitsterf.

Op die vraag of daar tans genoeg geld vir bewaring bewillig word, verskil die paneel oënskynlik. Van Riet sê daar is beslis genoeg geld beskikbaar vanaf internasionale bronne, mits bewaringslui hul programme reg posisioneer. Hoewel dit sekerlik waar is vir die oorgrensparkprojek, moet talle bewaringslui in statutêre organisasies, nieregeringsgroepe en selfs provinsiale departemente dikwels steeds kopkrap om hul bewaringsbegrotings te laat klop. Die organisasies het dikwels ook nie die luukse van voltydse fondswerwers wat die geldkoffers kan vol hou nie. Hoewel daar oor die algemeen groot finansiële inspuitings die afgelope paar jaar van onder meer die Wêreldbank en die Global Environment Facility vir plaaslike bewaringswerk ontvang is, kla diegene betrokke by bewaringswerk oor die algemeen steeds oor te min geld. Die Wes-Kaapse Natuurbewaringsraad (WKNB), verantwoordelik vir die Kaapse fynbosryk en die Karoo-vetplantbioom, ondervind byvoorbeeld bedryfstekorte. Dié organisasie moes die laaste jare 'n derde van sy personeel besnoei. WKNB is genoop om, soos bewaringsowerhede in die Krugerwildtuin en KwaZulu-Natal, konsessieregte vir toerismegeriewe in reservate onder sy beheer toe te staan.

Die situasie, wat kreatiewe oplossings noodsaak, is egter nie noodwendig 'n slegte ding nie. Die dae toe daar bloot geld na bewaringsuitdagings gegooi is, is lankal verby. Dit noodsaak bewaringslui om toenemend beter projekbestuur toe te pas en met kreatiewe oplossings en meer gerigte programme vorendag te kom.

Wat betref die uitdaging om 'n ewewig te vind tussen die omgewing en ekonomiese ontwikkeling, wys Wagiet tereg uit dat daar nog heelwat werk voorlê om die persepsie dat bewaring net tot voordeel van 'n klein (wit) elite strek, te verander. Die feit dat net vier persent van diegene wat tans ons nasionale parke besoek, swart is, is tekenend van hoe diep die persepsie gewortel is. Die enigste oplossing is om plaaslike gemeenskappe toenemend by bewaring te betrek en bewaringsplanne te gebruik om mense sosiaal-ekonomies te bemagtig.

Van die uitdagings wat volgens die paneel oor die komende paar jaar voorkeur moet geniet, is biodiversiteitsverliese, volhoubare ontwikkeling en pogings wat verband hou met die bestuur van beperkte natuurbronne wat mense van bestaansmiddele voorsien. Daar kan immers geen ekonomiese vooruitgang wees sonder ekologiese volhoubaarheid nie. Die uitdaging is nou om die rand-en-sent-waarde wat die land se natuurrykdom inhou te ontsluit en die boodskap van bewaringsekonomie te verkondig. So dra die Kaapse blommeryk byvoorbeeld jaarliks tot R10 miljard tot die streek se ekonomie by, onder meer danksy benutting, toerisme en dienste wat met ekosisteme (soos natuurlike watersuiwering) verband hou.

Dit gaan ongetwyfeld fyntrap kos om oor die komende dekade bewaringswerk met broodnodige sosiale bemagtiging te balanseer. Dit is net moontlik as daar 'n paradigma-skuif by boontjietellers en politici plaasvind waarin bewaring en ontwikkeling nie meer as uiteenlopende mikpunte gestel en nagestreef word nie.



LitNet: 2 September 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.